Die Ospreys se Walliese haker, Scott Baldwin, wat vier weke gelede by ʼn leeupark net buite Bloemfontein deur ʼn leeu gebyt is toe hy die dier deur die tralies wou streel, is terug op die veld.
Maar dit het vier operasies, die groot skrik dat hy dalk sy hand weens infeksie sou verloor, en drie wedstryde langs die kantlyn gekos.
Baldwin, wat reeds 34 toetse vir Wallis en 121 wedstryde vir die Ospreys gespeel het, het Saterdag sy terugkeer tot die rugbyveld gemaak toe hy as plaasvervanger vir die Ospreys teen Saracens speelkans gekry het.
Hy het die naweek die gespottery van sy spanmaats en ander vriende op Twitter met gelatenheid – en ook sy eie insette vol humor – aanvaar.
Maar die 29-jarige Baldwin moes, nadat hy die Donderdag voor die wedstryd teen die Cheetahs op 29 September gebyt en daarna geopereer is om die skade te herstel en infeksie te probeer keer, die Vrydag weer geopereer word.
Hy is toegelaat om die daaropvolgende Saterdag terug te vlieg na Lllanelli – en nog twee operasies het gevolg.
Die leeu het dwarsdeur sy hand gebyt en die infeksie se rooi streep het by sy arm opgestrek. Daar was glo werklike vrese dat hy die hand kon verloor.
Daar is nie pille vir sulke mense nie….
Jy wou mos….