Walvis swem 5 000 km met gebreekte rug

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: BC Whales)

Oor die verloop van byna drie maande het ʼn boggelrugwalvis daarin geslaag om met ʼn gebreekte rug ʼn afstand van byna 5 000 km van Brits-Colombia in Kanada tot by Hawaii af te lê.

Navorsers vermoed dat dié tog egter die walvis se laaste was omdat die afstand bloot te veel van haar reserwes getap het.

Janie Wray, uitvoerende hoof en hoofnavorser van BC Whales, het aan The Guardian vertel dat sy nogtans beïndruk is met die walvis, wat Moon genoem is, se deernis en vasbeslotenheid om die tog te onderneem.

“Sonder die gebruik van haar stert het sy letterlik borsslag geswem om die migrasie mee te maak. Dit is absoluut verstommend, maar dit breek ook jou hart.”

BC Whales bestudeer al jare lank walvisse wat aan die weste van die Kanadese kus verby swem.

Navorsers het die walvis elke September byna ʼn dekade lank vanaf die Fin-eiland-navorsingstasie aan die kus gewaar, waar sy aan planktonkrefies gesmul het.

Sowat twee jaar gelede was die navorsers verheug toe hulle Moon saam met ʼn kalfie gewaar.

Vanjaar het foto’s van ʼn hommeltuig egter ʼn walvis met ʼn ernstige besering aan die onderrug uitgewys. Die foto’s wys hoe die walvis se lyf in ʼn onnatuurlike vorm gebuig is. Dit het waarskynlik gebeur toe die walvis met ʼn boot gebots het.

“Dit was skokkend om uit te vind dat die walvis in die foto’s inderdaad Moon is. Dit is nie asof sy ʼn bestaande kondisie het nie, so dit is duidelik dat sy hard deur iets getref is,” sê Wray.

“Ek het nog nooit in my tyd as ʼn navorser so iets gesien nie.”

‘n Foto van Moon se besering. (Foto: BC Whales)

Ondanks die gebreekte rug is Moon vroeër vandeesmaand aan die kus van Maui gewaar. Dit is meer as 4 800 km van waar die navorsers haar die eerste keer met haar besering opgemerk het.

Boggelrugwalvisse kan tot 15 m lank groei, weeg byna 40 ton en is bekend vir die langafstandreise wat hulle jaarliks onderneem. Die walvisse migreer dikwels van die yskoue water van Alaska na die warmer water van Mexiko of Hawaii waar hulle teel en geboorte gee.

“Moon is heel moontlik in Hawaii gebore, daarom gaan sy jaarliks terug want dit is wat haar ma haar geleer het om te doen,” sê Wray.

“Hierdie tradisie word van ma na kalf oorgedra en dit is moontlik waarom sy vasberade was om die afstand, besering en al, aan te durf.”

Foto’s wat sedert Moon se migrasie na Hawaii geneem is, wys hoe uitgeteer en oortrek met luise sy is is. Dit is ʼn aanduiding van hoe baie vetvoorraad sy moes gebruik om die tog te onderneem.

“Daar is min wat nou vir haar gedoen kan word,” sê Wray.

“Sy lewe nog, maar ons weet sy sal nie weer kan terugkom Kanada toe nie. Sy gaan binnekort vrek en ons almal voel hoe vinniger dit gebeur, hoe beter, want sy ly erg.”

Volgens Wray kan Moon van kant gemaak word, maar dit sal ʼn reeks van toksiese middels vereis wat moontlik die mariene lewe wat aan haar karkas vreet, vergiftig.

“As sy gestrand was sou ons kon intree, maar omdat sy in die see is en ook weens haar grootte, is daar niks wat ons kan doen nie. Dit breek ʼn mens se hart net nog verder.”

Wray hoop dat Moon se hartverskeurende verhaal sal dien as ʼn waarskuwing teen die verwoestende uitwerking wat botsings met bote op walvisse kan hê.

“Al fokus jy hard kan jy per ongeluk ʼn walvis tref omdat hulle net skielik voor bote te voorskyn kom,” sê sy.

“Die belangrikste ding om te doen is om liefs net stadiger te vaar op die see, veral in gebiede waar walvisse normaalweg aangetref word. Net soos skoolsones, behoort ons ook walvissones te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michele ·

Dis baie hartseer, en ek hoop sy word vinnig verlos van haar pyn

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.