Walvis swem ná weke uit rivier terug na oseaan

Daar is tevore nog geen walvisse in die East Alligator-rivier in die Kakadu- nasionale park in die noorde van Australië opgemerk nie. Hierdie walvis kon eindelik sy weg terug na die see vind. (Foto: AP)

ʼn Boggelwalvis het sy pad terug see toe gevind weke nadat dit in ʼn troebel rivier in die noorde van Australië – wat boonop wemel van krokodille – beland het. Dít terwyl 270 loodswalvisse in die suide van die lande gestrand is.

Daar is tevore nog geen walvisse in die East Alligator-rivier in die Kakadu- nasionale park in die noorde van Australië opgemerk nie. Niemand kan ook verduidelik hoekom minstens drie van die soogdiere dit so diep in die binneland in ʼn rivier met sulke swak sigbaarheid gewaag het nie.

In ʼn meer alledaagse verskynsel is minstens 270 loodswalvisse glo op sandbanke op Australië se suidelike eiland van Tasmanië gestrand.

In die noorde van die land het die laaste van die drie boggelwalvisse die afgelope naweek eindelik sy weg deur die nou kanaal by die breë riviermond tot in die see gevind, het Feach Moyle, bestuurder van die Kakadu- nasionale park, gesê.

“Die dier het sy weg uit die hoogwater gevind en ons is bly dat dit lyk of die walvis in ʼn goeie toestand is en aan geen kwale ly nie,” het Moyle gesê.

Boggelwalvisse swem al langs die Australiese kus in hul jaarlikse migrasie van die trope na Antarktika.

ʼn Helikopterbemanning het die walvis Sondag sowat nege kilometer vanaf die riviermond opgemerk, het Carol Palmer, ʼn wetenskaplike, gesê. “Hy of sy het baie ontspanne gelyk en eindelik al die modder afgeskud. Ons was werklik verlig dat die walvis self uit die rivier kon kom,” het Palmer gesê.

ʼn Groep ontspanningseevaarders het die verdwaalde driemanskap aanvanklik op 2 September, sowat 20 km van die riviermond af, opgemerk. Twee van die walvisse het verdwyn voordat wildlewe-owerhede die gebied ʼn week later bereik het.

“Hopelik is hulle op pad na Antarktika, roep na hul maats en haal hulle in. Dit is nou die tyd dat al ons boggelwalvisse in die noordelike gebied die tog na Antarktika begin,” het Palmer gesê.

“Ons weet dat hierdie ouens maande lank nog nie gevreet het nie; hulle gaan dus nogal honger wees. Nou pak hulle die 5 000 km-tog na Antarktika aan. Ons hoop alles werk goed uit.”

Dit bly ʼn raaisel waarom ʼn walvis so ver in ʼn vlak rivier vol krokodille sou swem.

“Die walvis kon dalk deur groot haaie gejaag word, of miskien was dit net die verkeerde afdraai,” het Palmer gesê.

Mariene ekoloog Jason Fowler was een van diegene aan boord van ʼn katamaran wat die walvisse aanvanklik opgemerk het. Teen die tyd dat die regering se wetenskaplikes daar aangekom het, het die oorblywende walvis reeds stroomaf geswem na ʼn gedeelte van die rivier wat maar vier meter diep is.

“Dit het opgekom en was vol modder,” het Fowler gesê.

Ondanks die rivier se naam, is daar geen alligators (ook bekend as Amerikaanse krokodille) in Australië nie. Europese ontdekkers wat oënskynlik nie die verskil tussen die twee kon sien nie, het die rivier só genoem.

‘n Poging om die walvisse te red sal moontlik Dinsdag begin. (Foto: Brodie Weeding/AP)

Volgens die owerhede is die walvis te groot om deur krokodille aangeval te word, tensy dit verswak of siek is.

In Tasmanië beplan die owerhede intussen om die loodswalvisse wat naby die weskusdorp Strahan gestrand is, te red. Nagenoeg 25 van die walvisse het moontlik reeds gevrek nadat die groep Maandagoggend gestrand het.

Nic Deka, bestuurder van Tasmanië-park en wildlewedienste, het gesê spesialiste moet eers ʼn deeglike bestekopname doen voordat enige reddingspoging begin kan word.

“Wanneer ons Dinsdag begin, gaan dit saam met die uitgaande gety wees,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.