Walvisbaai se afsonderingstydperk verleng

Walvisbaai (Foto: Brian McMorrow, Pbase Gallery via Wikimedia Commons)

Strenger reëls geld steeds in Walvisbaai gedurende die Covid-19-pandemie as in die res van Namibië. Dié kusdorp se afsonderingstydperk is Donderdag tot eerskomende Maandag omstreeks 23:59 verleng.

Dr. Peya Mushelenga, minister van inligting en kommunikasietegnologie in Namibië, het in ’n verklaring gesê dit is nie in die stadium moontlik om vlak 1 van die land se afsonderingstydperk in Walvisbaai op te hef nie, aangesien inwoners steeds nie aan die afsonderingsregulasies voldoen nie.

Volgens Mushelenga is daar ook tans twee wyses waarop goedere in Walvisbaai ingevoer word, naamlik vliegtuie en skepe in die hawe. “Dit hou ’n wesentlike bedreiging in vir die invoer van Covid-19 na Namibië. Die situasie verg dus meer aandag om uitdagings te bowe te kom met betrekking tot menslike hulpbronne en mediese fasiliteite, sowel as noodsaaklike voorrade en kommoditeite soos persoonlike beskermingstoerusting en die bestuur van kwarantynfasiliteite, veral vir vragmotorbestuurders,” het Mushelenga verduidelik.

Mushelenga het ook gesê die hantering van menslike oorskot van pasiënte wat aan Covid-19 sterf, sal boonop ’n uitdaging wees aangesien begraafplase nog nie deur die plaaslike munisipaliteite geïdentifiseer is nie.

“In die lig van bogenoemde is dit nie haalbaar om fase 1 vir Walvisbaai op te hef nie,” het die minister bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig Walvisbaai het begin Junie terug na vlak 1 van Namibië se Covid-19-afsonderingsregulasies, die hoogste vlak van afsondering, beweeg. Dit terwyl die res van die land na ʼn buigsamer vlak 3 beweeg het.

Kalumbi Shangula, minister van gesondheid, het vroeër gesê Walvisbaai is ʼn groot bestemming vir reisigers van hoërisikolande. Vlak 1-regulasies sluit in dat skole en universiteite gesluit word, openbare byeenkomste van meer as 10 persone word verbied, reis sonder ʼn permit word verbied, die verkope van alkohol word verbied, en beweging word beperk.

Die algehele afsondering van die kusdorp volg ná twee opeenvolgende Covid-19-gevalle aangemeld is. Die twee persone wat positief getoets het, het met meer as 100 persone in Walvisbaai kontak gehad.

Namibië word egter as ʼn laerisikoland beskou. Volgens Worldometer se statistieke is 25 bevestigde gevalle Covid-19 tot op hede in Namibië aangemeld. Altesaam 16 van dié pasiënte het reeds van die virus herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.