Walvisse strand in Nieu-Seelandse baai

‘n Loodswalvis (Foto: Pixabay)

Nege loodswalvisse is reeds dood en ʼn enorme poging is aan die gang om talle ander te red nadat die walvisse Maandagmiddag (Nieu-Seelandse tyd) op ʼn strook van die Nieu-Seelandse kus – berug vir massastrandings – uitgespoel het.

Die departement van bewaring sê die 49 walvisse is by Farewell Spit, sowat 90 km van die toeristedorp Nelson op die Suid-eiland, aangetref.

’n Reddingspoging met meer as 60 mense is van stapel gestuur om die oorblywende walvisse aan die lewe te hou deur hulle met hoogwater terug die see in te help.

Volgens die departement sal kundiges help om die walvisse op die strand te versorg en om hulle koel en nat te hou.

Die mees onlangse massastranding was in Februarie 2017. Byna 700 walvisse het gestrand en sowat 250 is dood.

Wetenskaplikes sê dit is nie duidelik waarom walvisse so gereeld hier strand nie. Een van die moontlikhede is dat die vlak water in die gebied die walvisse dalk verwar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.