Wapenstilstand tussen Hamas, Israel verleng

Nog gyselaars is vrygelaat. (Foto: Hamas Media Office/AFP)

Ure voordat die wapenstilstand en die uitruil van gyselaars en gevangenes tussen Israel en Hamas sou verstryk is dit met nog twee dae verleng.

ʼn Bemiddelaar van Katar sê nog meer gyselaars sal in dié twee dae vrygelaat word in ruil vir die vrylating van talle Palestynse gevangenes.

“Die Palestyne en Israel het ʼn ooreenkoms bereik om die wapenstilstand in Gaza onder dieselfde voorwaardes te verleng,” het Katar se departement van buitelandse sake gesê.

Ingevolge die oorspronklike ooreenkoms sou die wapenstilstand tussen Israel en Hamas vier dae lank geld waartydens Hamas minstens 50 gyselaars sou vrylaat.

Op sy beurt sou Israel minstens 150 Palestynse gevangenes vrylaat en meer humanitêre hulp in Gaza toelaat.

Hamas het die verlenging bevestig en luidens berigte het die Israelse regering ʼn nuwe lys van tien gyselaars ontvang wat na verwagting vrygelaat gaan word. Israel het egter nog nie amptelik die verlenging bevestig nie.

Die verlenging is deur die internasionale gemeenskap verwelkom en bestempel as “ʼn sprankie hoop” om die oorlog te beëindig.

Antonio Guterres, sekretaris-generaaal van die VN, sê die verlenging is “ʼn aanduiding van menslikheid te midde van die duisternis van oorlog”.

Die verlenging kom nadat nog 11 gyselaars oornag in Gaza vrygelaat is en altesame 33 Palestynse gevangenes aan Hamas oorhandig is.

Israel se weermag het gesê sy magte het die gyselaars vergesel tot waar hulle met hul families herenig is, en bygevoeg dat hy “die vrylating van die gyselaars verwelkom”.

Die meeste van die gyselaars wat vandeesweek vrygelaat is, het dubbele burgerskap. Argentyne, Duitsers en Franse was onder diegene wat vrygelaat is, en al 11 kom van die Nir Oz-kibboets in Israel.

Die vrylating het ʼn “sug van verligting by ons gemeenskap tot gevolg gehad, maar ons is steeds bekommerd oor ons geliefdes wat steeds as gyselaars aangehou word,” het Osnat Peri, ʼn amptenaar van die kibboets, gesê.

ʼn Suid-Afrikaans gebore vrou is een van 17 gyselaars wat Sondag in Gaza vrygelaat is.

Kort nadat die jongste groep gyselaars vrygelaat is, het Israel se korrektiewe dienste bevestig dat 33 Palestynse gevangenes vrygelaat is. ʼn Skare in Beitunia, ʼn dorp in die Wesoewer, het Hamas-vlae geswaai om diegene wat vrygelaat is te verwelkom.

Altesaam 50 Israelse gyselaars is ingevolge die ooreenkoms vrygelaat in ruil vir 150 Palestynse gevangenes. Nog 19 gyselaars is ingevolge ʼn ander ooreenkoms vrygelaat.

Hamas het bevestig dat hy lyste saamstel om nog gyselaars vry te laat, maar die situasie word bemoeilik met dié dat sommige gyselaars deur ander militante groepe aangehou word.

John Kirby, woordvoerder van die VSA se nasionale veiligheidsraad, het gesê om die wapenstilstand te verleng moet Hamas minstens nog 20 vroue en kinders vrylaat.

Daar is toenemend oproepe van die internasionale gemeenskap om die wapenstilstand permanent in te stel en amptenare van regoor die wêreld gaan vandeesweek weer in die Midde-Ooste vergader om dit te help verwesenlik.

Antony Blinken, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, sal vir die derde keer samesprekings met Benjamin Netanyahu, Israel se eerste minister, en Mahmoed Abbas, die Palestynse president, in Ramallah hou.

“Die minister sal die noodsaak beklemtoon om die verhoogde vloei van humanitêre hulp na Gaza vol te hou, die vrylating van alle gyselaars te verseker en aandag te gee aan die beskerming van burgerlikes in Gaza,” het ʼn senior Amerikaanse amptenaar gesê.

“Hy sal die vertrekpunte wat hy vir die toekoms van Gaza uiteengesit het en die behoefte om ʼn onafhanklike Palestynse staat te vestig bespreek.”

Tor Wennesland, ʼn amptenaar verbonde aan die VN, sê die humanitêre situasie in Gaza bly “katastrofies”.

“Die situasie vereis dringende hulp en bykomende voorrade wat op ʼn voorspelbare en deurlopende manier afgelewer word om die lyding van Palestyne in Gaza te verlig.”

Sonder brandstof kan die gebied nie skoon water pomp of afval wat in die strate ophoop verwyder nie, en dit kan op ʼn “gesondheidsramp” afstuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

electricmango ·

En die terroriste kom weg met moord – die norm en standaarde is wereld wyd in verval. Die enigste redding sal n volslae wereld oorlg wees waar demokrasie in oorlog is met die res van die wereld. Dis tyd om die wereld te genees van die oordonderende misdaad kultuur wat aangevuur word deur ongeskoolde, onverfynde, onopgevoede mense wat glo die wereld skuld hulle iets.

Jaco ·

Hierdie stukkie vrylating van gyselaars en gevanges gaan Israel nog duur te staan kom. As ek Netanyahu was, het ek volledig “vrede” met Hamas gemaak, gesorg dat die uitruil van gevangenes en gyselaars dadelik (binne ‘n week) afgehandel word, en dan so 6-7 maande later eers Hamas in ‘n verassingsaanval uitgewis

Agie@toeka ·

Hamas sal nooit met Israel vrede maak nie omdat hulle alle jode wil uit wis gaan kyk na hulle geskiedenis. 50 joodse gyselaars vir n 150 Arabiere? Daai wiskunde werk net nie lekker nie. Israel moet hulle uitwis en klaar want hulle het in die verlede Jode dood gemaak en hulle gaan nie ophou nie. Israel moet hulle ander gyselaars gaan haal! Gaan kyk op you tube na die green prince en wat hy daar se want hy praat oor sy pa wat n hamas leier is, selfs hy veroordeeel hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.