Wapenvervaardiger wil semi-outomatiese geweer aan kinders bemark

Foto: WEE1 Tactical

ʼn Amerikaanse wapenvervaardiger het ʼn semi-outomatiese geweer vir kinders, gebaseer op die AR-15, bekendgestel. Die AR-15 is al in verskeie dodelike skietvoorvalle gebruik en vuurwapenveiligheidsgroepe het die besluit veroordeel.

Die geweer, genaamd JR-15, word deur WEE1 Tactical bemark as “die eerste in ʼn rits skietplatforms wat volwassenes sal help om kinders op ʼn veilige manier aan skietwedstryde bloot te stel”.

Die maatskappy se webwerf sê die geweer “lyk, voel en werk net soos ma en pa sʼn”.

Die JR-15 is slegs 80 cm lank, weeg slegs 1 kg en word uitgereik met magasyne van vyf of tien 22 kaliber-patrone. Dit is in die middel van Januarie vrygestel teen ʼn koste van $389 (sowat R5 800).

Die volwasse model, die AR-15, is die siviele weergawe van ʼn militêre wapen en is al gebruik in verskeie massaskietvoorvalle in die VSA, insluitend by skole.

Massaskietvoorvalle het al verskeie kere in die VSA voorgekom waar die reg om ʼn vuurwapen te besit deur die Grondwet beskerm word. Pogings om vuurwapenverkope te reguleer word gereeld in die parlement teengestaan waar die National Rifle Association groot invloed het.

ʼn Jong man het op 14 Desember 2012 ʼn AR-15 gebruik om 26 mense, insluitend 20 kinders, dood te maak by die Sandy Hook Elementary School in Newtown, Connecticut.

ʼn AR-15 is ook in die Las Vegas-aanval in 2017 gebruik waar 58 mense gesterf het. Dit was die dodelikste skietvoorval in onlangse Amerikaanse geskiedenis.

Die wapen is ook by die skietery in 2018 by Parkland High School gebruik waar 17 mense gesterf het.

“Op die eerste oogopslag lyk dit soos ʼn absurde grap. As mens weer kyk, besef jy dit is net absurd,” sê Josh Sugarmann, uitvoerende direkteur van die Violence Policy Centre, wat ten doel het om vuurwapengeweld hok te slaan.

Newtown Action Alliance, ʼn groep wat ook ʼn beperking op vuurwapens wil plaas, het die vuurwapenvervaardigers veroordeel wat “enigiets sal doen vir voortgesette winste”.

Sugarmann veroordeel ook die foto’s wat deur die vervaardiger gebruik word om jong klante te lok: ʼn seerower-skedel met ʼn Mohawk-haarsnit vir seuns, en vir meisies, ʼn skedel met blonde poniesterte en ʼn pienk tandering in die mond.

Foto: WEE1 Tactical/Facebook

Sugarmann het in sy verslag in 2016 oor metodes wat Amerikaanse vuurwapenvervaardigers gebruik om jong mense te lok, vuurwapens veroordeel wat ligter is om te hanteer en gewoonlik in helder kleure – pienk, rooi, oranje en pers – geverf word.

Aldus die organisasie Gun Violence Archive is 45 000 mense in 2021 dood weens vuurwapens, insluitend meer as 1 500 minderjariges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

dada ·

Wat vir ‘n ding is ‘n ‘tandering’? Ek dog dis ‘n fopspeen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.