Warmlugballon het dalk kragdrade getref

Tamara Irish Calhoun het ongeveer 30 minute voor die ongeluk 'n foto geneem van die warmlugballon (Foto: Tamara Irish Calhoun, Facebook)

Tamara Irish Calhoun het ongeveer 30 minute voor die ongeluk ‘n foto geneem van die warmlugballon (Foto: Tamara Irish Calhoun, Facebook)

ʼn Warmlugballon wat Saterdagoggend in Texas, Amerika, neergestort het waartydens 16 persone oorlede is, het waarskynlik kragdrade getref.

Die Caldwell County Sheriff se kantoor is om 07:44 ontbied na die toneel in Lockhart, 65 km suid van Austin. Nooddiensbeamptes het ʼn warmlugballon gevind waarvan die mandjie gebrand het.

Maroela Media het vroeër berig sheriff Daniel Law het in ʼn verklaring gesê dit wil nie voorkom of daar enige oorlewendes is nie.

Beamptes van die nasionale vervoerveiligheidsraad was op die toneel en het gesê hulle sal volledig ondersoek instel.

ʼn Video van die toneel wys ʼn groot kragdraad oor die ongelukstoneel. Die kragvoorsiener aan wie die draad behoort, het gesê twee lokale stroombane was Saterdag af, maar kon nog nie bevestig of die lugballon die draad getref het nie, het die Statesman-koerant in Austin berig. Geen kragonderbrekings is aangemeld nie.

ʼn Nabygeleë inwoner het egter plofgeluide gehoor en na haar stoep toe geloop, het die Lockhart Post berig. “Ek het nog ʼn harde knal gehoor, dit het soos geweerskote geklink,” het Margaret Wylie aan die koerant gesê. “En daarna het ek die vuurbal gesien. Ek het gebid dat enigiemand betrokke weggekom het voor dit gebeur het.”

Die ongelukstoneel was ongeveer 450 meter van haar huis af.

Die omgewing waar die warmlugballon neergestort het, is grootliks plase met mielielande en vee wat wei.

Wylie het 911 gebel en gesê die weerstoestande was gunstig. Sy sien gereeld warmlugballonne in die gebied.

Heart of Texas, die maatskappy aan wie die warmlugballon behoort, se webwerf dui aan dat hulle ritte in San Antonio, Houston en Austin bied. Die maatskappy se Facebook-blad wys foto’s van ʼn warmlugballon met ʼn “smiley”-gesiggie met ʼn sonbril. Dit wil voorkom of die maatskappy nie geregistreer is nie.

Owerhede het nog nie die name van die passasiers bekend gemaak nie.

Veiligheidsondersoekbeamptes het twee jaar gelede die federale lugvaartadministrasie (FAA) gewaarsku oor moontlike noodlottige ongelukke. Hulle het ʼn beroep gedoen op die administrasie om groter oorsig in te stel oor die gebruik van kommersiële warmlugballonoperateurs. Die FAA het die aanbevelings verwerp.

Texas-goewerneur Greg Abbott het sy meegevoel betuig met die families van die oorledenes.

'n Argieffoto van die warmlugballon (Foto: Heart of Texas, Facebook)

‘n Argieffoto van die warmlugballon (Foto: Heart of Texas, Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wat-ek-lees ·

Waarom is dit dat daar eers ‘n ongeluk moet plaasvind voordat daar op waarskuwings ag geslaan word soos ook hier gebeur het? Soms wonder ek of dit kan wees dat die verkeerdes ‘n belang het in die gebeure en dit dus nie wil stop. Die laaste sin sluit ook in die onwettige gebruik van voertuie wat nie padwaardig is op ons paaie en veral strate in stede en dorpe totdat daar ‘n ongeluk gebeur wat dan onder die mat gevee word wat ek nie kan verklaar hoe dit gebeur. Selfs met gewone ongelukke is daar selde terugvoering oor wat gebeur het.
Sterkte aan die mense betrokke by die lugbalonongeluk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.