Wat roem darem vir jou beursie doen

Prins William en Kate saam met prins Louis. Foto: AP Photo/Kirsty) Wigglesworth

Al ooit gewonder hoe beroemdes hul brood sou verdien indien hulle nie bekend was nie?

Reboot, ʼn aanlyn bemarkingsmaatskappy, het ondersoek ingestel om te bepaal hoeveel akteurs, sangers en koninklikes sou verdien indien hulle hul universiteitsgrade moes inspan om die arbeidsmark te trotseer. Die maatskappy het gebruik gemaak van data op Payscale.com om presies dit te bepaal, asook hoeveel jaar hulle sou moes werk om hul huidige bankbalans te ewenaar.

Hier is die resultate:

Die hoofsanger van Coldplay, Chris Martin, sou ʼn allemintige 3 293 jaar as museumkurator moes werk om sy huidige bankbalans van $162 miljoen te ewenaar. Met sy graad in Antieke Wêreldstudies aan die Universiteitskollege in Londen, sou hy vanjaar om en by $48,593 (R830 000) verdien het. Hoewel dit steeds veel meer is as wat die gemiddelde Suid-Afrikaner verdien, sou hy waarskynlik nooit sy eksvrou Gwyneth Paltrow se aandag met dié salaris getrek het nie of sy multi-miljoenrandse woning in Malibu, Kalifornië, kon bekostig nie.

Prins William het ʼn graad in Geografie aan die University of St. Andrews verwerf. Hiermee sou hy as argitektoniese tegnoloog waarskynlik vanjaar om en by $40 089 (R680 000) verdien het. Beslis nie genoeg om ʼn hele paleis met al sy personeel te onderhou nie. Dit sou hom boonop 2 494 jaar neem om die $R100 miljoen wat hy tans weens sy titel sal erf, te ewenaar.

Met haar graad in Engelse Literatuur aan Brown University sou die aktrise Emma Watson van Harry Potter-faam, net meer as $37 000 (R643 000) as skrywer kon verdien. Watson is een van die bes betaalde aktrises ter wêreld en verdien tussen $15 miljoen en $20 miljoen (R255 miljoen en R340 miljoen) per rolprent waarin sy speel. Indien sy nié ʼn aktrise was nie, sou sy 2 257 jaar moes werk om haar huidige netto waarde van $85 miljoen te bereik.

Die akteur Ken Jeong, bekend vir sy rolle in The Hangover-filmreeks, sou volgens Reboot se studie die beste gevaar het, sou hy nie beroemdheid verwerf het nie. Jeong het as ʼn algemene praktisyn gekwalifiseer en sou $191 500 (R32 miljoen) ʼn jaar kon verdien, sou hy besluit het om as dokter te praktiseer. Hy het $5 miljoen (R85 miljoen) verdien vir sy rol in The Hangover Part III.

Die aktrises Natalie Portman (sielkundige) en Eva Longoria (meestersgraad in Chicano-studies) sou as kliniese sielkundige en senior dosent ook heel goed gevaar het. Dié twee sou onderskeidelik ʼn jaarlikse salaris van $96 000 (R1,6 miljoen) en $89 000 (R1,5 miljoen) verdien het. Portman verdien tans $3 miljoen (R51 miljoen) ʼn jaar en Longoria steek jaarliks $4 miljoen (R68 miljoen) in haar sak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tipper ·

Dis hoekom hulle altyd so lekker lag en lekker smile en vriendelik is want dit is die geldjies wat dit doen want dit streel die gemoed.

miraclealigner ·

Chris Martin sou net effe meer verdien as wat daar al berig is wat Eskom se personeel gemiddeld per jaar vedien (wat ek weet vir ‘n feit nie so is nie – Eskom personeel verdien nie gemiddeld R45000 (ongeveer) per maand soos voorheen op Maroela Media berig nie….

Onnie ·

MM, kyk net weer na die laaste paragraaf asb. Die berekende wisselkoers tussen hakkies maak net nie sin nie!

Janice du Plessis ·

Dagsê Onnie
Dankie vir jou kommentaar.
Ons vra om verskoning vir die flater, die berig is gewysig.
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.