Webb-teleskoop neem indrukwekkende foto’s van Uranus

(Foto: NASA, ESA, CSA, STScI)

Nasa se James Webb-ruimteteleskoop het ’n indrukwekkende foto van die ysreus Uranus geneem.

Op die foto kan 11 van die planeet se 13 ringe duidelik gesien word. Volgens Nasa het die Webb-teleskoop ook talle van Uranus se 27 bekende mane vasgevang.

Uranus, die sewende planeet van die son af, is uniek in die sin dat hy op sy sy draai. Dit veroorsaak uiterste seisoene aangesien die planeet se pole baie jare van konstante sonlig ervaar, gevolg deur ’n gelyke aantal jare van algehele duisternis.

Uranus neem 84 jaar om om die son te wentel en sy noordelike somer sal in 2028 wees.

Op die nuwe foto’s is daar ʼn gebied van opheldering aan die regterkant van die planeet. Dit staan bekend as ’n poolkap en is uniek aan Uranus. Dit lyk of dit verskyn wanneer die pool in die somer direkte sonlig binnedring en dit verdwyn weer in herfs.

Die Webb-teleskoop het ook ’n verrassende aspek van die poolkap onthul: ’n subtiele verheldering in die middel.

Aan die rand van die poolkap lê ’n helder wolk. ’n Tweede baie helder wolk word by die planeet se linkerkant gesien. Volgens Nasa is sulke wolke tipies vir Uranus in infrarooi golflengtes, en word dit waarskynlik met stormaktiwiteit verbind.

Uranus word gekenmerk as ’n ysreus as gevolg van die chemiese samestelling van sy binnekant. Die meeste van sy massa is vermoedelik ’n warm, digte vloeistof van “yskoue” materiale – water, metaan en ammoniak – bo ’n klein klipperige kern.

(Foto: NASA, ESA, CSA, STScI)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.