Weer tyd vir Mars-wolhaarstorie

Foto-byskrif: Een van die foto’s wat die ronde op sosiale media doen

Een van die foto’s wat die ronde op sosiale media doen

Die publiek kan nou weer enige dag die jaarlikse wolhaarstorie per e-pos of SMS te wagte wees dat Mars só naby aan die aarde gaan kom dat dit op 27 Augustus so groot soos die maan gaan vertoon. Volgens die jongste berigte is die e-pos reeds aan die loop.

Elke jaar gaan ‘n groot aantal mense op hol oor dié storie wat wetenskaplikes laat walgooi dat dit klap.

Dié storie het sy ontstaan in 2003 toe Mars en die aarde op 27 Augustus die naaste aan mekaar was wat hulle in byna 60 000 jaar was. Op 24 September 57 617 voor Christus was Mars na raming 55 718 000 kilometer van die aarde af, ‘n katspoegie nader as die 55 758 000 kilometer in 2003. Met die “nabyheid” in 2003 sou Mars deur ‘n teleskoop wat 75 keer vergroot, so groot soos die maan sonder ‘n teleskoop lyk. ‘n E-pos met hierdie strekking is wyd gesirkuleer.

Vanaf 2005 het die e-pos egter elke jaar weer opgeduik, maar die jaartal is telkemale aangepas en sonder die verduideliking dat dit met die hulp van ‘n teleskoop sou wees. Selfs in jare wat Mars op 27 Augustus op sy verste moontlike punt van die aarde af sou wees het dié wolhaarstorie liggelowiges op hol gehad.

Die wisselende afstande tussen die aarde en Mars word daaraan toegeskryf dat beide se bane in ‘n mate ellipties is. Boonop is die aarde in ‘n binnebaan, en trek teen ‘n snelheid van 107 300 km/h om die son, terwyl Mars teen 86,871 km/h “aankruie”. Mars se jaar is gevolglik 1,88 keer so lank soos die aarde s’n. Die aarde en Mars sal hulle dus een keer elke byna twee jaar aan dieselfde kant van die son bevind. Vanjaar was Mars op 8 April op sy naaste punt aan die aarde, maar nie naastenby so naby soos in 2003 nie.

Die volgende keer wat die aarde en Mars se elliptiese bane hulle na verwagting baie naby aan mekaar sal bring, is eers in 2287 of selfs later.

Maar wat sou gebeur as die maan en Mars sonder teleskope ewe groot van die aarde af sou vertoon?

As skyf is Mars twee keer so groot soos die maan, dus sou Mars net twee keer so ver soos die maan van die aarde af moes wees. Die maan is gemiddeld 384 400 km van die aarde af, wat sou beteken Mars moet meer as 50 keer nader aan die aarde kom as wat hy op sy naaste moontlike punt kan kom.

Mars se swaartekrag is egter nege keer dié van die maan, en sal op ‘n afstand twee keer so ver as die maan dubbel die gravitasie-impak op die aarde hê as die maan. Onder die katastrofes op aarde sou uitsonderlike hoë seegetye tel.

Hoofbron: Wikipedia. Lees gerus meer hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.