Weermag ontplooi terwyl Minneapolis brand

Grootskaalse geweld en plundery duur in Minneapolis in die VSA voort na die dood van George Floyd, ‘n swart man wat in polisieaanhouding dood is. (Foto: Julio Cortez/AP)

Die deelstaat Minnesota in die VSA het nóg ʼn nag van geweld agter die rug nadat die dood van ʼn ongewapende swart man tot grootskaalse oproer in Minneapolis gelei het.

ʼn Video wat wys hoe George Floyd (46) ná sy inhegtenisneming op die grond lê en na asem snak terwyl ʼn wit polisiebeampte op sy keel kniel, is wêreldwyd gedeel en het reeds tot groot rassespanning gelei. In die video kan gesien word hoe Derek Chauvin, verbonde aan die Third Precinct, sy knie op Floyd se keel druk terwyl Floyd aanhou sê hy kan nie asem kry nie. Floyd begin dan al hoe minder praat en beweeg.

Minneapolis het Donderdag ʼn transkripsie van die 911-noodoproep wat die polisie na die toneel ontbied het, bekend gemaak. Die persoon wat die oproep maak, beskryf iemand wat met ʼn vervalste geldnoot betaal. Werkers haas hulle dan na buite, waar hulle die man in ʼn bakkie aantref. Die persoon word as “dronk” en “buite beheer” beskryf. Die polisie voer aan Floyd het aan dié beskrywing voldoen.

‘n Betoger probeer twee polisielede in Minneapolis die stryd aansê. (Foto: John Minchillo/AP)

Die weermag is intussen in Minneapolis ontplooi met die goewerneur van Minnesota, Tim Walz, wat die situasie as ʼn “vredestyd-noodtoestand” bestempel het. Walz het gesê die plundery, vandalisme en brandstigting het tot groot skade aan talle sakeondernemings gelei – en baie van dié ondernemings behoort aan minderheidsgroepe.

Pres. Donald Trump het verder olie op die vuur gegooi en in ʼn twiet gesê hy gaan nie toelaat dat die boewe Floyd se nagedagtenis onteer nie. Hy het ook die “algehele gebrek aan leierskap betreur”.

“Het pas met goewerneur Tim Walz gepraat en vir hom gesê die weermag steun hom enduit. Enige moeilikheid en ons neem beheer oor, maar as die plundery begin, klap die skote. Dankie!” het Trump getwiet.

Trump se twiet het tot ʼn hele nuwe herrie gelei, met die sosialemediaplatform Twitter wat aangedui het die twiet skend sy reëls oor die “verheerliking van geweld”. Twitter het egter besluit om die twiet wél toe te laat, omdat dit moontlik in die openbare belang is dat dit sigbaar bly.

Die betogings wat Woensdagaand begin en tot Donderdag geduur het, was veel meer gewelddadig as dié van Dinsdag toe polisiebeamptes en betogers slaags geraak het, maar geen skade aan eiendom aangerig is nie.

Personeel het reeds die Third Precint-polisiestasie verlaat nadat talle betogers dié gebou geteiken het. Video’s het gewys hoe betogers die gebou binnegaan terwyl brandalarms loei en water uit sprinkelstelsels spuit nadat verskeie brande gestig is.

Die stad se brandweerdiens het ook gesê hy kon nie veilig op die brande reageer nie.

Jacob Frey, die stad se burgemeester, het verantwoordelikheid aanvaar vir die ontruiming en gesê dit het net te gevaarlik vir polisiebeamptes geword. “Daar is in dié stadium baie pyn en woede in ons stad. Ek het begrip daarvoor. Die plundery wat ons die afgelope paar uur en [die afgelope paar] aande gesien het, is onaanvaarbaar.”

Een van die talle betogings wat in die stad gehou is. (Foto: Barbara J. Perenic/The Columbus, AP)

Net ʼn handvol plunderaars is na die eerste twee nagte van strooptogte in hegtenis geneem. “Ons doen alles moontlik om die vrede te bewaar,” het Frey gesê.

Volgens Frey is weermaglede reeds ontplooi om die plundery in bedwang te bring. Persele soos dié van banke, kruidenierswinkels en apteke word bewaak.

Een van die strukture wat in die plundery in die slag gebly het, was ʼn sesverdiepinggebou wat nagenoeg 200 woonstelle as bekostigbare behuising sou wees. ʼn Wendy’s-restaurant is ook tot op die grond afgebrand.

“Ons verwoes ons eie buurt,” het Deona Brown, ʼn inwoner van die gebied, gesê. “Dit is waar ons woon en werk en hulle het dit verwoes.”

Sommige inwoners het egter anders gereageer en gesê hulle verwoes eiendom “omdat die stelsel stukkend is”. Hulle het die gedagte dat die verwoesting tot nadeel van die gebied se oorwegend swart inwoners is, afgemaak.

‘n Betoger skarrel deur die verwoeste polisiestasie. (Foto: John Minchillo/AP)

Talle ondernemings het hul deure en vensters gesluit om plundery te voorkom. Minneapolis het ook sy ligte treindiens tot Sondag weens veiligheidsvrese opgeskort.

In St. Paul het rookwolke in die lug gehang terwyl polisielede gewapen met knuppels en met gasmaskers en met koeëlvaste baadjies aan, die gebied gepatrolleer het. In ʼn stadium het beamptes ʼn menslike ketting voor ʼn Target-winkel gevorm in ʼn poging om plunderaars, wat ook ander ondernemings se vensters stukkend gegooi het, te stuit.

“Bly asseblief tuis. Moenie hierheen kom om te betoog nie. Konsentreer op George Floyd, die beweging en om te verseker iets soos dié gebeur nooit weer nie,” het Melvin Carter, burgemeester van St. Paul, getwiet. Carter is self swart.

Erika Atson, ʼn swart vrou, was onder die duisende vreedsame betogers wat voor regeringsgeboue in Minneapolis saamgetrek het. “Ons wil nie met enigiemand baklei nie. Ons wil nie hê enigiemand moet seerkry nie. Ons wil nie enige skade veroorsaak nie. Ons wil net hê die polisiebeampte moet aanspreeklik gehou word,” het Atson gesê.

‘n Man stroop ‘n drankwinkel in die stad. (Foto: John Minchillo/AP)

Die betogings het nou ook na ander Amerikaanse stede soos Chicago, Illinois, Los Angeles en Memphis versprei.

Daar was elders in Minneapolis egter ook vreedsame betogings waar duisende mense byeengekom en vir geregtigheid gepleit het. Talle betogers het maskers gedra om die verspreiding van Covid-19 te voorkom, maar van sosiale distansiëring was daar geen sprake nie.

Die FBI en die Amerikaanse vervolgingsgesag het reeds gesê hulle doen ʼn deeglike ondersoek na Floyd se dood en sal ook vasstel of sy burgerregte geskend is.

Die vier polisielede wat by die voorval betrokke was, is reeds afgedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Human ·

Hulle is oral dieselfde ? Het jy gesien hoeveel wat deel geneem het aan die onluste is wit. Moet nie dat jou rasbril jou blind maak vir wat aangaan. Die gevaarlikste kommentaar is van diegene wat glo hulle het alleen reg om mens te wees en dan hul onkunde en eie ek aan ander op te dring.

marius ·

Stuur vir pelosi , cuomo , , talib , cortez , biden en sanders , om in die strate te loop en pleit , voor Trump sy soldate opdrag gee om te skiet .

Boerinmurgenbeen ·

Die polisie man het verkeerd en onprofessioneel opgetree, laat die wet sy loop neem.
Geen plunderaars het die reg om ander persone se eiendom te verniel en te vernietig nie, wat nog van staats eiendom.
As enige een ooit in die veiligheidsmagte gedien het en met so ‘n plundertog gemoeid was om te probeer om ‘n massa opgesweepte geweld dronk menigte tot bedaring te probeer bring, sal simpatie hê as die President sê hy gaan die weermag gebruik en die skote gaan klap, as die plundery begin.
Die gematigde burgers verwag van die veiligheidsmagte om hulle vryheid en eiendom te beskerm, hoe verwag hulle moet daar opgetree word teen die plunderaars?
Ek bid vir President Trump wysheid en insig toe en vir die Amerikaanse kiesers sodat hulle dié President wat hulle landsbelange so op die hart dra, sal ondersteun en saam sal bou aan hulle land.
Ek sou wat wou gee om onder so ‘n President te staan en te dien.

Michael 1 ·

“Terwyl n …wit…polisieman ” verduidelik asb vir ons hoekom daar geen probleem by maroela media is om die feite so deur te gee maar as n swart aanvaller n wit persoon aanval word die ras uitgehaal en net verwys na n verdagte ??

Jaco ·

vreemd dat die minderheidsgroepe in opstand kom en dan besighede van minderheidsgroepe beskadig. hulle benadeel dus hulle eie mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.