Weermagtenks op pad na Harare

Weermagtenks op pad na Harare (Foto via ANA)

Weermagtenks is glo gesien op pad na Zimbabwe se hoofstad, Harare en daar is vrese in die land van ʼn moontlike oorname deur die weermag.

Die tenks en ander militêre voertuie is Dinsdagmiddag gesien, net ʼn dag nadat die land se weermaghoof faksies in die regerende Zanu PF gewaarsku het om op te hou om lede van die party, met ʼn militêre agtergrond, uit die party te verbied ná adjunkpresident Emmerson Mnangagwa verlede week afgedank is.

Die media is gesnoer sedert Constantino Chiwenga, bevelvoerder van die Zimbabwiese weermag en ʼn politieke vriend van Mnangagwa, Maandagmiddag tydens ʼn perskonferensie gesê het Zimbabwe gaan gebuk onder “nood, spanning en moedeloosheid”.

Die enigste reaksie op die generaal se verklaring, was van Kudzai Chipanga, jeugleier van Zanu PF, wat gesê het hy stem nie saam met meeste van dit wat die generaal gesê het nie. Pres. Robert Mugabe (93), het nog nie amptelike kommentaar gelewer oor die saak nie.

Dit is nog nie duidelik waarom die weermag sy tenks na die hoofstad stuur nie, maar die situasie bly gespanne.

MuRozvi Mukuru, ʼn sosialemediagebruiker in Zimbabwe, het op Twitter geskryf: “Ek sidder as ek net dink aan ʼn militêre heerskappy in my geliefde Zimbabwe. Ons Afrika-geskiedenis is vol van die wanbestuur deur die hande van die weermag.”

Generaals van die weermag het ook Maandag se perskonferensie bygewoon.

Chiwenga het gesê Mugabe se Zanu PF is geïnfiltreer deur teen-revolusionêre wat dit wil vernietig, en “drastiese stappe” moet dadelik gedoen word.

“Uit ʼn veiligheidsoogpunt kan ons nie die ervaring van lande soos Somalië, DRK, Sentraal-Afrikaanse Republiek en talle ander in ons streek, waar geringe politieke verskille tot ernstige konflik gelei het, ignoreer nie,” het Chiwenga gesê. Hy het bygevoeg artikel 22 van die Grondwet van Zimbabwe bied ʼn mandaat aan die land se weermag om Zimbabwe te beskerm.

Zimbabwe se ekonomie het sedert 2000 gehalveer weens kontanttekorte en infrastruktuurverval. Die land beleef ook verdeeldheid binne die Zanu PF, oor wie by Mugabe sal oorneem.

Verskeie media, internasionaal en plaaslik, het Dinsdag gespekuleer oor ʼn dreigende militêre staatsgreep in die land. “Zimbabwe se weermaghoof waarsku dat die weermag kan ingryp oor uitsettings in die party,” het The Guardian in Engeland berig, en “Zimbabwe se generaals sê Mugabe moet stop met die uitsettings of ʼn staatsgreep is op hande,” het die Times geskryf.

Mnangagwa het na Suid-Afrika gevlug nadat hy afgedank is en doodsdreigemente ontvang het. Sy afdanking is ʼn hupstoot vir Mugabe se vrou, Grace Mugabe, wat deur die G40-faksie in Zanu PF ondersteun word. Dié faksie is oorwegend jonk en hulle word deur Chiwenga veroordeel omdat hulle nie aan die vryheidsoorlog in die 1970’s deelgeneem het nie. Grace Mugabe het ook nie in dié oorlog baklei nie.

Chiwenga se kommentaar kom nadat die G40-faksie onderneem het om alle persone, in die Lacoste-faksie wat Mnangagwa ondersteun, uit die party te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Rupert Ashford ·

Ek is bevrees jy mag dalk reg wees. En hulle mag hulle dalk net vasloop.

ferdi ·

Di stad Nineve in di Bybel het dieselfde pad as Zimbabwe geloop

Regtig? ·

Jona is na Nineve gestuur, teen sy wil, maar die stad het bekeer en is gered. Zim is ñ ander storie. Meer ñ riller.

Duitser ·

Ek lees op netnuus 60% se geweldsmisdade word deur onwettige immigrante gepleeg. nou gaan Suid Afrika moeilikheid kry

Rupert Ashford ·

Mmm kierankies braai ne. Interessant om te lees oor die vrese van wanbestuur en korrupsie van weermagstaatsgrepe as Zanu PF die absolute kampioen van sulke goedjies is. Het altyd gewonder of ‘n stelsel gebou op intimidasie en krag ‘n vrouepresident sou aanvaar.

Freud ·

Hier kom groot nonsense as die SA weermag ingestuur word om te help.
Ons het niks daar verloor nie en moet uit bly. Maar ja… Wat is die kanse…

Boerseun ·

Hoekom raak almal so opgewonde? Ons weet sekerlik nou al die weermagtenks gaan langs die pad gaan staan sonder brandstof, en dan is dit apartheid se skuld ( al is dit in zimbabwe ) . Niks verbaas my meer nie. In alle erns, dinge kan nie nog erger raak in Zimbabwe as wat dit nou is nie. Vat n bier, popcorn in die hand en kyk hoe Zimbabwe tot die grond toe verkrummel.

Richard ·

Dis nie tenks nie. Dis Tipe 63 troepedraers. Dis ‘n Chinese voertuig wat uit die 1960s dateer.

‘n Tenk is ‘n voertuig met dik pantser en ‘n groot kanon. Net omdat hierdie Tipe 63s gekamoefleer is en op kruiptrekkers ry, beteken nie dis tenks nie.

Die Zimbabwiese weermag het geen tenks nie, so as daar tenks in Zimbabwe gewaar word, beteken dit daar’s nog groter moeilikheid as wat hierdie berig sou aandui!

Die Britse Telegraph koerant het dit darem korrek. Dit lyk of die hele res van die media nie die verskil tussen ‘n tenk en enige ander militêre voertuig ken nie.

CJ ·

Richard. Zimbabwe het Tipe 63 pantsertroepewaens, maar die voertuie op die foto by hierdie berig is Sjinese Tipe 89 ZSD 98-II infanteriegevegsvoertuie.

Grassie ·

Ek hoop van harte dit is die einde van Mugabe en Grace se heerskappy. Ek dink selfs ‘n militêre regering is beter as hul huidige bestel.
Mantashe het reeds gesê hierdie land sal nie inmeng in Zimbabwe nie, maar Zuma is tot enigiets in staat.

zelda ·

My man is in die weermag en hulle het die woord gekry om Zim to te gaan ek is bevrees dat die Suid Afrikanse weermag wel daar gaan help en ek is nie seker hoelank nie .

Ek bid vir ons weermag wat daarna toe gaan vir hulle veiligheid.

Yankee ·

Jou man sal okay wees. Die petrol sal opraak voor hulle die grens oorsteek.

Sterkte Zelda ·

Neewat Zelda wees gerus .. die SA weermagouens is nie in gevaar nie .. ek dink die Zimmers stress nou ‘n bietjie aan weerskante .. Sterkte vir julle, maar ek GLO nie hulle gaan nodig wees daar nie.

Anoniem ·

As jy my vra is dit ‘n slim manier om die manne wat hier moet bly om hulle families te beskerm en militere kennis het uit die land uit te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.