Welkom in Mauritius… idilliese eiland gooi grense weer oop

Mauritius hoop sy pragtige strande sal binnekort weer wemel van besoekers. (Foto: Laura Morosoli/AFP)

Mauritius het sy grense Vrydag ten volle vir internasionale besoekers heropen en hoop om sy broodnodige toerismebedryf ná maande lange isolasie weens die Covid-19-pandemie weer te herbou.

Die stap is begroet met ʼn mengsel van optimisme en verligting, maar ook waaksaamheid.

“Die heropening is onvermydelik omdat 100 000 gesinne op toerisme staatmaak om te oorleef,” het Steven Obeegadoo, adjunk- eerste minister en minister van toerisme, gesê.

Volgens hom is 68% van die land se 1,3 miljoen inwoners ten volle ingeënt en 89% het reeds minstens een dosis van die entstof ontvang. Dit is van die hoogste inentingskoerse ter wêreld.

Die idilliese vakansiebestemming, beroemd vir sy prentjiemooi wit strande en turkoois see, het in Julie gedeeltelik vir besoekers heropen.

Hulle moes egter 14 dae lank in sogenaamde oord-borrels bly voor hulle toegelaat is om verder te reis.

Die eerste vliegtuie met toeriste uit Doebai, Parys en Londen het Vrydag reeds in die land aangekom en sal tydens hul verblyf aan sekere Covid-toetsvereistes moet voldoen.

Obeegadoo sê die land is goed voorberei vir die terugkeer van internasionale besoekers.

“Terselfdertyd is verhoogde waaksaamheid nodig om die gevaar van verdere infeksie te verminder.”

‘Niks sonder toeriste’

‘n Vliegtuig land by die Sir Seewoosagur Ramgoolam-lughawe in Mauritius kort nadat die land sy grense weer heeltemal vir internasionale toeriste oopgestel het. (Foto: Laura Morosoli/AFP)

Die Verenigde Koninkryk (VK) het Mauritius verlede maand begin aandui as ʼn land waarheen reisigers met gemoedsrus kan reis, hoewel die VSA dit steeds as ʼn hoërisikoland bestempel.

Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer se webwerf het Mauritius 13 685 gevalle van Covid-19 teen 26 September gehad, maar die weeklikse gemiddeld het sedert die kruin in Augustus skerp gedaal.

In die middel van Julie, toe die land gedeeltelik heropen is, het die getal infeksies op 2 190 gestaan.

Teen 26 September was daar 71 Covid-19-verwante sterftes op die eiland.

Sheila Figaro, wat spesialiseer in handgemaakte items – ook tradisionele poppe – het ʼn sug van verligting geslaak nadat die aankondiging oor die heropening van grense gedoen is.

“Sonder die toeriste is ons niks nie. Ek kan nie wag om terug te keer werk toe en om weer ʼn inkomste te begin verdien soos ons voor Covid-19 gedoen het nie,” het die 49-jarige vrou gesê.

Woensdag het die regering aangekondig hy het $280 miljoen (sowat R4,1 miljard) bewillig om Air Mauritius weer op dreef te kry nadat die nasionale lugredery in April verlede jaar weens die pandemie onder vrywillige administrasie geplaas is.

Voor die pandemie die land in Maart verlede jaar getref het, was die toerisme- en gasvryheidsbedryf verantwoordelik vir 24% van die land se BBP en byna ʼn kwart van die land se bevolking het in dié sektor gewerk.

Skipper Jean-Alain Franchette sê hy kan nie wag om weer toeriste op uitstappies te neem nie. “Ons gaan weer vir ons gesinne kan sorg,” sê hy.

“Daar is baie dinge wat steeds kwel. Gaan ons regtig klante hê? Hoe gaan ons protokolle soos sosiale afstandhandhawing aan boord handhaaf? Dit gaan werklik moeilik wees.”

Francois Eynaud, uitvoerende direkteur van Sun Resorts wat verskeie van Mauritius se tophotelle besit of bedryf, sê hy besef die heropening gaan stadiger wees as wat mense sou verwag.

“Ons moet dit ná 18 maande suksesvol heropen. Mauritius was baie versigtig in sy benadering tot die pandemie, maar ek dink dit was die regte besluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Barney ·

So basies net 11% van die bevolking het ń brein en gaan die ewige lewe erf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.