Wene-terreur: Dodetal styg tot vyf

Talle polisielede is na die aanvalle in die stad ontplooi. (Foto: Leonhard Foeger/Reuters)

Honderde polisielede het Dinsdag die strate van Wene deurkruis op soek na die aanvallers wat reeds vyf mense se lewe in die middestad geëis het. Die voorval Maandagaand is as ʼn “Islamitiese terreurdaad” bestempel.

Die minister van binnelandse sake, Karl Nehammer, het mense vroegoggend weer gevra om uit die strate te bly.

Nehammer het gesê die polisie het een van die aanvallers doodgeskiet. Hy het ʼn plofstofgordel aangehad wat die owerhede later vasgestel het bevat nie werklike plofstof nie. Hy is as ʼn simpatiseerder van die Islamitiese Staat beskryf.

Die polisie het Dinsdag bevestig drie burgerlikes – twee mans en ʼn vrou – is in die aanvalle dood. Minstens 15 ander mense is gewond, onder wie ook ʼn polisiebeampte. Die uitsaaier ORF het later gesê ʼn vierde burgerlike, ook ʼn vrou, is sedertdien dood.

Volgens die polisie is versterkings van buurstate ingeroep en minstens ʼn duisend beamptes neem deel aan die soektog na die aanvallers.

“Ons het gisteraand ʼn aanval deur minstens een Islamitiese terroris ondervind, ʼn situasie wat Oostenryk dekades lank nie deurleef het nie,” het Nehammer gesê.

“Oostenryk is al langer as 75 jaar ʼn sterk demokrasie, ʼn volwasse demokrasie, ʼn land wie se identiteit gekenmerk word deur waardes en basiese regte, met vryheid van uitdrukking, die oppergesag van die reg, maar ʼn verdraagsaamheid in menslike medebestaan.

“Gister se aanval was ʼn aanval op hierdie waardes,” het Nehammer gesê.

Die aanvaller wat deur die polisie doodgeskiet is – asook die ander wat moontlik betrokke was – het ses plekke in sentraal-Wene aangeval. Hulle het by die stad se hoofsinagoge begin.

Een van talle afgesperde strate in Wene. Inwoners is gevra om steeds uit die strate te bly. (Foto: Leonhard Foeger/Reuters)

Ooggetuies het vertel hoe die mans met outomatiese wapens in skares mense in kroeë ingevuur het. Talle mense het die kans gebruik om uit te gaan omdat ʼn landwye aanklokreël weens Covid-19 voortaan weer in die land sal geld.

Nehammer het gesê daar is beslag gelê op videomateriaal in die aanvaller se huis tydens ʼn deursoekingsoperasie. Die polisie stel ook ondersoek in na mense met wie hy moontlik in verbinding was.

Die nuusagentskap APA het berig dat die polisie reeds verskeie huise deursoek en inhegtenisnemings gedoen het en het ʼn bron in die departement van binnelandse sake aangehaal. Dit kon egter nie bevestig word nie.

Wene se polisiehoof wou nie meer besonderhede bekend maak oor die aanvaller se identiteit nie en het aangevoer dit kan die ondersoek in die wiele ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stefan ·

Was daar al islamitiese leiërs wat die terroristiese aanval veroordeel het?

JohanR ·

Stefan….ek dink dit sal wees soos om die EFF te vra om ‘n plaas aanval te veroordeel!

LiveAndLetLive ·

Hierdie Sharia en Jihad law van Islam is n probleem in die wereld.

lodewyk ·

Ongelukig is dit wat gebeur as jy jou grense oopmaak vir asiel soekers en vlugtinge,hulle bring hulle begasie saam en waardes!

Pieter J ·

Ek dink talle europese lande gaan nog sulke voorvalle hê in die toekoms. Hulle pluk nou die vrugte van hul liberale regerings se besluite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.