Wene-terreur: Talle word ondervra

Polisielede staan wag op ‘n straat in die Oostenrykse hoofstad Wenen, nadat gewapende aanvallers minstens twee mense doodgeskiet het. (Foto: Leonhard Foeger/Reuters)

Die Oostenrykse polisie het 14 mense wat met die hoofverdagte van die terreuraanval in Wene verbind word, ingeneem vir ondervraging. Só het Karl Nehammer, minister van binnelandse sake, Dinsdag tydens ʼn nuuskonferensie gesê.

Die aanvaller wat op die toneel deur die polisie doodgeskiet is, ʼn 20-jarige Oostenryker wat ook Noord-Macedoniese burgerskap het, is die hoofverdagte in die aanval waarin vier mense dood en 22 beseer is. Hy het ʼn plofstofgordel aangehad wat die owerhede later vasgestel het nie werklike plofstof bevat het nie. Hy is as ʼn simpatiseerder van die Islamitiese Staat beskryf.

“Nadat die aanvaller se woonstel deursoek is, is 18 ondersoeke in Wene en Benede-Oostenryk uitgevoer. Die 14 mense wat tans ondervra word, is tydens dié ondersoeke geïdentifiseer,” het Nehammer gesê.

Volgens die owerhede was daar nog geen bewyse dat ʼn tweede skieter by die aanval betrokke was nie.

“Die videomateriaal wat deur die polisie geëvalueer is, toon tans geen bewyse van ʼn tweede aanvaller nie, het Nehammer gesê.

Maroela Media het vroeër berig die aanvaller wat deur die polisie doodgeskiet is – asook die ander wat moontlik betrokke was – het ses plekke in Sentraal-Wene aangeval. Hulle het by die stad se hoofsinagoge begin. Die voorval Maandagaand is as ʼn “Islamitiese terreurdaad” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.