Wene: Twee dood in ‘terreuraanval’

Polisielede staan wag op ‘n straat in die Oostenrykse hoofstad Wene, nadat gewapende aanvallers minstens twee mense doodgeskiet het. (Foto: Leonhard Foeger/Reuters)

Die dodetal in Wene staan nou op minstens twee nadat gewapende aanvallers op ses plekke in die Oostenrykse stad toegeslaan het. Minstens 14 mense is beseer.

Die aanval, wat Oostenryk as ʼn “weersinwekkende terreuraanval” bestempel het, het by die stad se hoofsinagoge begin.

ʼn Grootskaalse soektog na een of meer aanvallers is steeds aan die gang.

Ooggetuies het beskryf hoe die mans Maandagaand met outomatiese gewere in skares mense in kroeë gevuur het waar talle mense vir die laaste keer gekuier het voor ʼn landwye aandklokreël weens Covid-19 begin geld.

Die polisie het een aanvaller doodgeskiet.

Die polisie het groot gedeeltes van die geskiedkundige middedorp afgesper en ʼn beroep op mense gedoen om te skuil waar hulle ook al is. Talle mense het na kroeë en hotelle gevlug, terwyl openbare vervoer deur die ou dorp opgeskort is en polisielede die stad deurkruis het.

“Dit is Oostenryk se moeilikste dag in baie jare. Ons hanteer ʼn terreuraanval wat, dank Vader, ons in jare nie in Oostenryk gesien het nie,” het die minister van binnelandse sake, Karl Nehammer, tydens ʼn mediakonferensie gesê.

Die Oostenrykse hoofstad het tot dusver die soort dodelike militante aanvalle wat Parys, Londen, Berlyn en Brussel al onder meer getref het, die afgelope paar jare vrygespring. Kansellier Sebastian Kurz sê die “walglike” optrede was “beslis ʼn terreuraanval”, maar hy kon nie sê wat die motief is nie.

Halfleë koppies en glase staan in ‘n kuierplek in Wene nadat mense vervaard gevlug het. (Foto: Leonhard Foeger/Reuters)

Oskar Deutsch, die hoof van Wene se Joodse gemeenskap, het kantore aangrensend aan die sinagoge op die smal, klipsteenpaadjie met sy talle kuierplekke. Deutsch het op Twitter geskryf dit is nie duidelik of die tempel of die kantore die teiken van die aanval was nie, maar dat hulle kantoor tydens die aanval gesluit was.

Rabbi Schlomo Hofmeister het aan die Londense radiostasie LBC gesê hy woon op die perseel van die sinagoge. “Nadat ons skote gehoor het, het ons [by die vensters] uitgekyk en gesien hoe die gewapende mans skiet op die gaste van verskille kroeë en kuierplekke,” het hy gesê.

“Die aanvallers het rondgehardloop en minstens 100 skote – of selfs meer – voor ons gebou afgevuur.”

Die departement van binnelandse sake het gesê grensbeheer is reeds verskerp en daar sal nie van kinders verwag word om Dinsdag skool by te woon nie. Hoewel mense aangemoedig is om binnenshuis te bly, het burgemeester Michael Ludwig aan die uitsaaier ORF gesê die stad sal Dinsdag soos gewoonlik sake doen, hoewel daar ʼn groot polisieteenwoordigheid sal wees.

Soektog

Volgens Nehammer is minstens een aanvaller nog op vrye voet.

“Ons het verskeie spesiale magte byeengebring wat nou soek na die vermeende terroriste. Ek beperk dit dus nie tot ʼn gebied in Wene nie omdat hierdie mense beweeglik is,” het hy gesê.

Kurz sê die weermag sal spesifieke plekke in die hoofstad bewaak, sodat die polisie op teenterreurbedrywighede kan konsentreer. Hy het aan ORF gesê die aanvallers was “uiters goed toegerus met outomatiese gewere” en het “professioneel voorberei”.

Polisielede sper ‘n gedeelte van die Oostensrykse hoofstad Wene na die terreuraanval af. (Foto: Radovan Stoklasa/Reuters)

Video’s op sosialemediaplatforms het ʼn gewapende aanvaller gewys wat by ʼn straat afhardloop terwyl hy skiet en skreeu. Nog ʼn video het gewys hoe iemand buite – wat gelyk het soos ʼn kroeg oorkant die sinagoge – doodgeskiet word. Die egtheid van die video’s kon nie dadelik bevestig word nie.

Medelye het intussen van oor die wêreld ingestroom, met topamptenare van die Europese Unie, Frankryk, Noorweë, Griekeland en die VSA wat hulle skok oor die aanvalle te kenne gegee het.

Emmanuel Macron, president van Frankryk – ʼn land wat die afgelope paar weke twee dodelike mesaanvalle in Parys en Nice gesien het – het in ʼn verklaring sy skok en hartseer betuig.

“Hierdie is ons Europa. Ons vyande moet weet wie hulle die stryd aansê. Ons sal nie retireer nie.”

Franse owerhede het sedert die aanvalle, wat vermoedelik met Islamitiese motiewe verband hou, veiligheid in Parys en Nice verskerp. Macron het duisende soldate ontplooi om onder meer aanbiddingsplekke en skole te beveilig. Ministers het boonop gewaarsku dat verdere Islamitiese militante aanvalle kan plaasvind.

Robert O’Brien, die Amerikaanse pres. Donald Trump se nasionale veiligheidsraadgewer, het gesê Amerikaners bid vir die mense van Wene.

“Daar is geen regverdiging wat vir haat en geweld soos hierdie nie. Ons staan by Oostenryk, Frankryk en die hele Europa in die stryd teen terreur,” het O’Brien gesê.

Die Demokratiese presidentskandidaat Joe Biden het die voorval, wat hy ʼn “gruwelike terreuraanval” genoem het, ten sterkste veroordeel. “Ons moet almal saamstaan teen haat en geweld.”

In 1981 is twee mense dood en 18 beseer tydens ʼn aanval deur twee Palestyne op presies dieselfde Weense sinagoge. In 1985 het Palestynse ekstremistegroepe ook drie burgerlikes in ʼn aanval by die lughawe gedood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta Alleman

En die hele tyd probeer hierdie lande die vlugtelinge help om van ‘n land van oorlog te ontsnap. Hoe hartseer dat dit teen hulle draai.

daniel

DIT IS HOE N ONDANKBARE MILITANTE GODSDIENS GROEP DIE LAND WAT HULLE ASIEL GESKENK HET BEDANK. DEPORTEER HULLE ALMAL HET EUROPA GELEER?.

jinny jualinda

Dit is nie vlugtelinge nie, dit is beplande terreur. Die aanslag teen Europa het noueers begin.

Mariana

Die grootste fout wat lande kan maak, is om hul grense oop te maak en hierdie mense toegang te gee. Die wêreld moet nou begin verstaan dat hulle nie onskuldig is nie maar selfs hul kinders gebruik vir hul siek planne. Hou hulle uit jou land uit.

Miskruier

Nou 4 dooies, is dit die begin van n nuwe kruisvaart??