Wêreld begin 2021 (in afsondering) verwelkom

‘n Man stap verby ‘n restaurant in Gazastad. (Foto: Mohammed Abed/AFP)

Mense wêreldwyd het die nuwe jaar Donderdag begin verwelkom, hoewel pandemie-beheermaatreëls ʼn demper op die feesvieringe geplaas het van miljarde mense wat gretig is om die virusgeteisterde 2020 vaarwel toe te roep.

Ná ʼn uitmergelende jaar waarin minstens 1,7 miljoen mense wêreldwyd weens Covid-19 gesterf het en verdere vlae infeksies gelei het tot hernieude afsonderingsmaatreëls, gaan talle mense 2021 waarskynlik maar van hul rusbank inlui.

Van Sydney tot Rome gaan vuurwerk- en ander regstreekse vertonings aanlyn of op TV gevolg word – dis nou as dit nog nie heeltemal gekanselleer is nie.

Die eerste lig van 2021 het kort gelede op die Pasifiese nasies van Kiribati en Samoa geval, met die onbewoonde Howland- en Bakereiland wat 26 uur later die laaste sal wees om 2020 se stof van hul voete te vee.

Hoewel die Pasifiese eilande die grootste lyding van die pandemie gespaar is, het grensbeperkings, aandklokreëls en afsonderings beteken hierdie Oujaarsaand was steeds effe anders.

‘n Straatsmous in Beiroet verkoop partytjiebenodigdhede vir die nuwe jaar. (Foto: Anwar Amro/AFP)

By die Taumeasina-oord naby die Samoaanse hoofstad Apia, was bestuurder Tuiataga Nathan Bucknall in sy noppies om darem met ʼn beperkte getal gaste te kon open. Weens ʼn noodtoestand moet hulle egter om 23:00 ophou drank bedien.

In Sydney, Australië se grootste stad, sal vuurwerkvertonings steeds die hawe met ʼn verstommende skouspel verlig, maar min mense sal daar wees om die feestelikheid regstreeks te ondervind.

Planne om skares toe te laat, is geskrap nadat sowat 150 nuwe infeksies aangemeld is en reis na en van Sydney ernstig beperk word.

Die Sydney-hawe in Australië kort voor nuwejaarsvieringe sou begin. (Foto: Saeed Khan/AFP)

“Ek dink almal sien uit na 2021 vir ʼn nuwe begin,” het Karen Roberts, een van die gelukkiges wat by die vertoning toegelaat is, gesê.

In Rome gaan die brand van ʼn enorme brandstapel in die Circus Maximus aanlyn uitgesaai word en daar sal ʼn twee uur lange vertoning deur kunstenaars wees.

Italië, waar skokkende beelde van geprakseerde lykshuise en stokflou medici die wêreld van die erns van die virus laat kennis neem het, volg ʼn landwye afsonderingstydperk tot 7 Januarie. ʼn Aandklokreël geld ook in daardie land.

Van Frankryk tot Letland en Brasilië is polisielede – en soms ook die weermag – ontplooi om te verseker mense gee gehoor aan die aandklokreëls en gehoorsaam regulasies wat groot byeenkomste verbied.

In Londen sal die 74-jarige Amerikaanse sanger en liedjieskrywer Patti Smith Nuwejaar verwelkom met ʼn huldeblyk aan gesondheidswerkers wat weens Covid-19 gesterf het. Dit sal op ʼn skerm in Piccadilly Circus en aanlyn op YouTube uitgesaai word.

Sosiale byeenkomste

Mense besoek ‘n winkelsentrum in Seoel kort voor Nuwejaar. (Foto: Jung Yeon-je/AFP)

Een plek waar mense sonder die hulp van ʼn skerm kan feesvier, is Nieu-Seeland, wat nou virusvry is. Verskeie stede gaan vuurwerkvertonings hou met net enkele beperkings.

In Doebai word duisende mense ook verwag by ʼn vuurwerk- en laservertoning by Buri Khalifa, die wêreld se hoogste toring. Dít ten spyte van talle nuwe infeksies daar.

Diegene wat die geleentheid bywoon, sal maskers moet dra.

In Beiroet, ʼn land wat steeds steier onder die haweontploffing op 4 Augustus, het die owerhede ook regulasies heelwat verslap. Die aandklokreël is tot 03:00 verleng en kroeë, restaurante en nagklubs het heropen.

Sosialemedianetwerke is reeds stampvol foto’s en video’s van gepakte klubs en restaurante wat die owerhede laat waarsku het dat ʼn nuwe vlaag infeksies ná die vakansie kan volg.

Die vrese van só ʼn Nuwejaarsbabelaas is wydverspreid en daar is kommerwekkende tekens dat nuwe stamme van die virus die komende maande selfs erger gaan maak.

Die Duitse kanselier Angela Merkel het Donderdag haar Nuwejaarsboodskap gebruik om Duitsers te waarsku dat die geskiedkundige koronavirus tot in 2021 gaan strek, selfs al bring ʼn entstof ʼn mate van verligting.

In Brasilië, waar meer as 193 000 Covid-19-verwante sterftes reeds aangemeld is – dis die naashoogste syfer wêreldwyd – verwag medici ʼn nuwe vlaag infeksies.

Talle video’s wat die afgelope paar dae versprei is, wys hoe mense jolyt hou sonder ʼn masker in sig, terwyl die polisie stampvol kuierplekke laat sluit het.

“Die pandemie se kruin was tussen Mei en Julie, toe daar nie veel beweging was nie en ons veel beter na onsself omgesien het. Nou is daar baie meer gevalle en mense tree op asof daar nie ʼn pandemie is nie,” het Luiz Gustavo de Almeida, ʼn mikrobioloog by die Universiteit van Sao Paulo, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.