Wêreld groet kleinste koei

Mense neem foto’s saam met Rani (6 Julie 2021) (Foto: Munir Uz Zaman/AFP)

Rani, ʼn koei van Bangladesj wat sedert Julie internasionaal opslae as die wêreld se kleinste koei gemaak het, is dood.

Dié 24 maande oue dwergkoei se lewe is kortgeknip weens gasse wat in haar liggaam opgebou het. Dit net ʼn maand voordat haar status as die kleinste koei ter wêreld amptelik erken is.

Rani se eienaar, Kazi Mohammad Abu Sufian, het sy geliefde koei in Augustus, net voor haar dood, vir die Guinness‑wêreldrekord as die wêreld se kleinste koei ingeskryf.

Sufian vertel hy het Maandag ʼn e-pos ontvang dat Rani se aansoek goedgekeur is.

Maroela Media het vroeër berig Rani is 66 cm lank en weeg slegs 26 kg. Sy is 10 cm korter as Manikyam, ʼn koei in die Indiese staat Kerala wat tans die wêreldrekordhouer is. Manikyam is van die Vechur-ras en was 61 cm hoog.

’n Verklaring op die Guinness-webwerf bevestig dat Rani vir Manikyam as wêreldrekordhouer geklop het.

Volgens Sufian het hy Rani se nadoodse verslag aan die Guinness-bestuur gestuur om te bevestig dat daar niks ongewoons aan haar dood was nie. Hy het ook Rani se mediese rekords gestuur nadat die bestuur gevra het of sy hormooninspuitings ontvang het.

“Ons het gemengde gevoelens oor Rani wat nou as wêreldrekordhouer erken word. Ons is bly dat sy haar eer ontvang het, maar terselfdertyd baie hartseer omdat sy nie meer met ons is nie,” het Sufian gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.