‘Wêreld moet hom staal vir lang oorlog’

Ontploffings en geweervuur is sedert Donderdagoggend oor die hele Oekraïne gehoor ná Rusland Oekraïne ingeval het (Foto: Anatolii Stepanov, AFP)

Altesame 198 burgerlikes, onder wie drie kinders, is dood nadat Rusland Donderdag met ʼn volskaalse inval in Oekraïne begin het. Minstens 1 115 burgerlikes is gewond terwyl vreesbevange inwoners van die hoofstad Kiëf in die stad se moltreinstelsel en in kelders skuil.

’n Hoë woonstelblok in Kiëf is deur ’n missiel getref terwyl al meer aanvalle op die stad afgeweer moet word. Burgerlikes is met vuurwapens toegerus om hulself te beskerm.

’n Aandklokreël is sedertdien in die hoofstad tot Maandag ingestel en enigiemand wat ná 17:00 op straat is, sal as “lede van die vyand se sabotasie- en verkenningsgroepe” beskou word.

Byna 116 000 mense het in dié stadium reeds na buurlande, die meeste na Pole, gevlug. Oekraïense mans tussen die ouderdomme van 18 en 60 jaar oud word egter by die grense beveel om agter te bly en hul land te verdedig.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het Saterdag gesê sy land het die Russiese magte se plan om hom omver te werp, ontspoor. Hy het die Russe aangemoedig om druk op hul president, Wladimir Poetin, te plaas om die konflik te staak.

Rusland beskuldig Oekraïne egter daarvan dat hy die konflik uitrek deur sy aanbod om in Belarus te onderhandel, weier.

Só lyk die Oekraïense hoofstad, Kiëf, Saterdagoggend. (Foto: Twitter)

Die Franse president, Emmanuel Macron, het vroeër vandag gewaarsku dat die wêreld hom vir ’n lang oorlog moet staal. “Hierdie krisis sal voortduur. Hierdie oorlog sal voortduur en al die krisisse wat daarmee gepaard gaan, sal blywende gevolge hê.

“Ons moet voorbereid wees.”

Verskeie Navo-lidlande, waaronder Brittanje, die Verenigde State en oudkommunistiese lande in Oos-Europa, het reeds wapens en ammunisie na Oekraïne gestuur.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het sedertdien aangekondig dat die land $350 miljoen (sowat R5 miljard) in bykomende militêre toerusting aan Oekraïne sal skenk.

Die impak van sanksies teen Rusland is reeds verreikend.

Franse vlootmagte het Saterdag gesê hulle het ’n vragskip met motors onderweg na Rusland in die Engelse Kanaal onderskep.

Zelenski het ’n beroep op Westerse bondgenote gedoen om Rusland uit die SWIFT-bankoorplasingstelsel te skop – ’n stap wat Rusland se handel met die meeste wêrelddele sal knou.

’n Aantal EU-lande, waaronder Duitsland, Hongarye en Italië, is egter huiwerig om dit te doen weens vrese dat Rusland hul gastoevoer kan afsny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.