Wêreld se ‘eensaamste olifant’ met redders herenig

Kaavan en dr. Amir Khalil se reünie. (Foto: Verskaf)

ʼn Olifant van Pakistan wat jare gelede bekend was as die wêreld se “eensaamste olifant” is byna twee jaar nadat hy uit sy ellende gered is, met sy redders herenig.

Soos ou vriende wat mekaar lank gelede gesien het, het Kaavan en dr. Amir Khalil, ʼn veearts wat by sy redding betrokke was, mekaar gegroet.

Die 38-jarige olifant is in 2020 deur die internasionale dierewelsynsorganisasie Four Paws gered nadat hy 35 jaar lank in die Marghazar-dieretuin in Islamabad aangehou is. Hy is in Desember dieselfde jaar na ʼn toevlugsoord vir olifante in Kambodja geneem, waar hy sedertdien tussen ander olifante floreer.

Khalil het maande saam met Kaavan spandeer om hom gereed te maak vir die uittog Kambodja toe en in daardie tyd het dié twee ʼn hegte band gevorm.

“Kaavan se redding was een van die mees onvergeetlike oomblikke van my lewe en ek het gereeld gewonder hoe hy sal reageer as hy my weer sien,” sê Khalil.

“Toe ek hom eindelik Maandag kon besoek, het ek dadelik gesien dat hy veel beter doen as toe ons mekaar vir die eerste keer ontmoet het. Hy het my in die oë gekyk en skielik sy slurp opgelig so asof hy ʼn ou vriend groet.”

Khalil het, nes destyds, ʼn Frank Sinatra-liedjie vir Kaavan gesing om hom te kalmeer.

“Ek kon myself nie keer nie, ek het sommer dieselfde liedjie – My way deur Frank Sinatra – gesing as wat ek gereeld in die verlede vir hom gesing het.”

(Foto: Verskaf)

Josef Pfabigan, uitvoerende hoof van Four Paws, sê hy is dankbaar dat Kaavan nou so goed doen nadat hy vir jare lank alleen in aanhouding was.

“Elkeen wat bygedra het tot sy redding moet trots wees dat hulle só ʼn goeie lewe vir hom verseker het.”

Kaavan is in 1985 na Pakistan gestuur as ʼn geskenk van Sri Lanka aan dié land. Die olifant het sedert 1990 ʼn kamp met sy maat, Saheli, gedeel, maar ná haar dood in 2012 was hy heeltemal alleen.

Four Paws het in 2016 ʼn internasionale veldtog van stapel gestuur om die olifant te red. Dit was egter ʼn lang stryd en die hof het eers in Mei 2020 ʼn beslissing oor die dier se lot gemaak.

Die beslissing het ook vereis dat alle diere wat in die betrokke dieretuin aangehou is, in toevlugsoorde hervestig moes word. Four Paws het daarin geslaag om, naas Kaavan, ook 38 ander diere te hervestig.

Die bekende sangeres en Oscar-bekroonde aktrise Cher het Kaavan in 2020 gaan besoek om morele ondersteuning aan hom te bied voor sy groot reis na Kambodja.

Hoewel Kaavan een suksesverhaal is, sê Pfabigan dat daar nog talle ander diere in die wêreld is wat gebuk gaan onder ellendige omstandighede.

“Daar moet nog baie gedoen word vir diere in aanhouding, maar Four Paws sal voortgaan om onverpoos te werk om mishandelde diere te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

Wat ‘n pragtige storie. Ek weet van die olifant omdat ek dit op Youtube destyds gekyk het. Ek is so bly dit gaan goed met hom. Ja hulle se mos ‘n olifant vergeet nooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.