Wêreld se grootste dwelmbaas ontsnap weer

Joaquin "El Chapo" Guzman tydens sy inhegtenisneming op 22 Februarie 2014  (Foto: Susana Gonzalez/Bloomberg via pbs.org)

Joaquin “El Chapo” Guzman tydens sy inhegtenisneming op 22 Februarie 2014 (Foto: Susana Gonzalez/Bloomberg via pbs.org)

Joaquin “El Chapo” Guzman, wat beskou word as die wêreld se grootste dwelmbaas, het deur ʼn 1.5 km lange tonnel onder sy sel uit die tronk in Mexiko ontsnap.

Guzman, leier van die Sinaloa-dwelmkartel, het Saterdagaand uit die Altiplano-maksimumsekuriteitgevangenis ontsnap, het die Kommissie vir Nasionale Veiligheid Sondag gesê.

Hy is Saterdagaand om 20:52 plaaslike tyd nog op die veiligheidskamera gesien toe hy na die stortgedeelte van sy sel gestap het. Hy is vir ʼn ruk lank nie gesien nie, aangesien daardie deel nie in die sig van die veiligheidskamera is nie.

“Toe bewaarders later sy sel deursoek, was Guzman reeds weg en het hulle op die 10 meter diep gat met ʼn leer wat tot ʼn groot tonnel lei, afgekom,” het kommissaris Monte Alejandro Rubido gesê.

Die tonnel is 1.7 meter hoog en ongeveer 80 cm breed. Dit het selfs ventilasie en ligte en die uitgang is in ʼn onvoltooide gebou. Agtien tronkbewaarders is reeds ondervra in verband met die ontsnapping.

ʼn Groot soektog is dadelik van stapel gestuur. Snelweë is gesluit en padblokkades is op nabygeleë paaie opgestel. Vlugte by Toluca-lughawe naby die gevangenis is ook opgeskort.

Dit is Guzman se tweede ontsnapping in 14 jaar. Hy het in 2001 uit ʼn tronk in Jalisco ontsnap en was 10 jaar lank op vrye voet. Toe hy uiteindelik in Februarie 2014 aangekeer is, het pres. Enrique Pena Nieto gesê só ontsnapping sal nie weer gebeur nie.

Guzman was al op Forbes se lys van die wêreld se magtigste mense. Hy word beskryf as die uitvoerende hoof van die Sinaloa-kartel en is die wêreld se magtigste dwelmhandelaar. Dié kartel is verantwoordelik vir nagenoeg ʼn kwart van alle onwettige dwelmmiddels wat deur Mexiko na die VSA gesmokkel word. Die kartel se jaarlikse inkomste is vermoedelik meer as $3 miljard.

Lees meer: ABC7

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

George ·

Hoekom so ‘n man nooit tereggestel is nie gaan my verstand te bowe. Ek sidder as ek dink hoeveel lewens hy al verwoes het. Hy geen reg op lewe nie.

Peet Schabort ·

As mynopmeter sal ek graag wil weet hoe hy rigting gehou het om op die regte plek letterlik uit ( ook na bo !!) te kom. Geen geringe prestasie.
Alcatraz ( nou gesluit) kon hom dalk ingehou het alhoewel daar ook twee spoorloos verdwyn het tot vandag toe.
Stuur hom na Zimbabwe want of ons dit wil weet of nie, ek glo nie Bob het ‘n liefde vir dwelmsmokkelaars.

Tonginniekies ·

Gaan nie help nie. Bob hou van van dwelmsmokkelaars nie, maar hy hy het ‘n groter liefde vir geld. Guzman hoef net ‘n paar regte dollars te wys dan is hy weer vry. Sal dalk nog via Suid Afrika terugkeer. Ons vang mos ook nie internasionale kriminele nie. Selfs nie eers die met ‘n lasbrief nie.

Dave ·

Daardie tonnel is van buite na binne gegrawe, Peet. Andersins, waarheen is die grond en waarmee is gegrawe? Baie onlangs is daar berig oor ‘n kar wat (volgens die berig) ‘n ½ kilometer gerol het. Jy weet mos elke keer wat dit oorvertel word, word paar meter bygevoeg.

nig ·

Hy moes baie hulp gekry het om op so “luukse” manier te kon ontsnap! Verbeel jou met ‘n leer en ligte en alles! Kan nie juis ‘n makimumsekuriteitsgevangenis wees as hy op so manier kon ontsnap nie. Niemand ooit gehoor hy woel en werskaf nie? Hoop hulle vang hom en sluit hom in ‘n ronde ysterbal toe – so kan hy geen hoekies bewerk nie en met yster sal hy sukkel om tonnels te maak!

fiki ·

Sou dit in SA gebeur het sou die kommentaar was dat dit net in SA gebeur. Of die ANC doen dit of dat soos ek al klaar lees. Mense sal nooit sien dat ander lande nog swakker af is as SA nie.

Blom ·

Mensies help my asb, as mens n tonnel grou is daar grond? Waarheen sou dit verdwyn het? Verstaan nie mooi nie.

gerda ·

Tonnel is van buite af gegrawe. Dis vir hom gedoen, hy het dit nie self gedoen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.