Wêreld se grootste sjokoladefabriek sluit oor salmonella

Barry Callebaut se fabriek in Wieze, België (Foto: Kenzo Tribouillard, AFP)

Barry Callebaut, die Switserse produsent wat wêreldwyd sjokolade aan maatskappye en winkels verskaf, moes sy fabriek in Wieze, België, tydelik sluit nadat die voorkoms van salmonella aangemeld is.

Dié fabriek is die grootste vervaardiger van kakao- en sjokoladeprodukte en verskaf voorraad aan bekende maatskappye in die voedselbedryf, insluitend nywerheidsreuse soos Hershey, Mondelez, Nestle en Unilever.

Korneel Warlop, woordvoerder van die groep, sê produksie by die fabriek is tot verdere kennisgewing opgeskort.

Daar was tot dusver geen berigte van enige sjokoladeverbruikers wat met salmonella besmet is nie.

“Alle produkte wat sedert die toets van salmonella vervaardig is, is teruggehou,” het Warlop gesê. “Barry Callebaut kontak tans alle klante wat moontlik besmette produkte ontvang het.”

Die groep het al sy kliënte gekontak en hulle gevra om geen produkte wat sedert 25 Junie by die Wieze-aanleg gemaak is, te verkoop nie.

“Voedselveiligheid is van die uiterste belang vir Barry Callebaut en hierdie besmetting is nogal uitsonderlik. Ons het ʼn goed gedefinieerde voedselveiligheidshandves en voorsorgmaatreëls,” het die groep gesê.

België se voedselveiligheidsagentskap AFSCA is ingelig en ʼn woordvoerder het bevestig dat ʼn ondersoek gelas is.

Barry Callebaut is die wêreld se grootste sjokoladevervaardiger, met ʼn jaarlikse verkope wat 2,2 miljoen ton gedurende die 2020-’21-boekjaar beloop het.

Die groep, wat ʼn hoofkantoor in Zürich het, het die afgelope boekjaar ʼn netto wins van sowat R6,6 miljard (384,5 miljoen Switserse frank) vir ʼn omset van sowat R124 miljoen (7,2 miljard frank) opgelewer.

Die groep het meer as 13 000 mense in diens en het meer as 60 produksiepersele wêreldwyd.

Die besmetting volg ʼn paar maande nadat Belgiese owerhede ʼn Kinder-sjokoladefabriek gesluit het wat vermoedelik verantwoordelik is vir ʼn rits salmonella-gevalle in verskeie Europese lande en die VSA.

Belgiese gesondheidsowerhede het op 17 Junie gesê hulle het die groen lig gegee om die Italiaanse reus se fabriek vir ʼn drie maande toetsperiode te heropen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Ek was in ‘n tegniese skool so ek weet niks van boekhouding nie, maar hoe de moeder maak jy R6,6 miljard wins op ‘n R124 miljoen omset?

LeanetteS ·

Maklik…. daar word seker ongelooflik baie sjokolade verorber? Dis mos lekker! hahaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.