Wêreld se kleinste baba nou tuis

Kwek Yu Xuan is ná 13 maande in die hospitaal ontslaan. (Foto: The Straits Times)

ʼn Baba wat vermoedelik met geboorte die kleinste ter wêreld was, is ná 13 maande in die intensiewesorgeenheid in ʼn hospitaal in Singapoer ontslaan.

Die BBC berig dat Kwek Yu Xuan slegs 212 g, die gewig van ʼn appel, tydens geboorte geweeg het en net 24 cm lank was.

Yu Xuan is vier maande te vroeg op 9 Junie verlede jaar deur ʼn noodkeisersnee gebore, nadat haar ma, Wong Mei Ling, met pre-eklampsie gediagnoseer is. Dit is ʼn toestand wat gevaarlik hoë bloeddruk veroorsaak wat lewensbelangrike organe kan beskadig en dodelik gevolge vir ma én baba kan inhou.

“Ek het nie verwag om so vinnig geboorte te gee nie, en ons was baie ontsteld dat Yu Xuan so klein was, maar weens my toestand het ons nie ʼn keuse gehad nie. Ons kon net hoop dat sy aanhou groei en gesond sou wees,” het Mei Ling aan The Straits Times in Singapoer gesê.

Babas wat vier maande te vroeg gebore word, het ʼn 70%-kans op oorlewing, maar weens Yu Xuan se grootte was dokters by die Singapoerse nasionale universiteitshospitaal (NUH) waar sy gebore is, bekommerd dat haar kanse op oorlewing heelwat kleiner is.

“Ondanks al haar gesondheidskomplikasies het sy mense om haar geïnspireer met haar deursettingsvermoë en vordering die afgelope paar maande. Sy is ʼn buitengewone pandemie-baba wat ʼn baken van hoop is te midde van wêreldwye onrus,” het die hospitaal in ʼn verklaring gesê.

Yu Xuan net ná geboorte. (Foto: The Straits Times)

Volgens plaaslike media is Yu Xuan byna onmiddellik aan ʼn ventilator gekoppel nadat sy gebore is. Sy was so klein dat selfs haar medikasie tot desimale punte bereken moes word.

Yu Xuan se vel was glo so broos en dun dat haar toestand nie deur koppelstiffies gemonitor kon word nie. Indien dit te lank op haar vel was, het dit ʼn duik gelos en oop wonde tot gevolg gehad.

Zhang Suhe, ʼn verpleegster by NUH, het aan The Straits Times gesê dat hulle doeke moes sny sodat dit vir Yu Xuan pas.

“Daar is ook chemikalieë in doeke wat babas se urien opsuig, maar dit kon nie in aanraking kom met Yu Xuan se dun vel nie, so ons moes die doeke op allerhande maniere sny en vou.”

Ná 13 maande in die hospitaal is Yu Xuan op 9 Julie vanjaar ontslaan en weeg sy nou ʼn gesonde 6,3 kg. Suhe het die kleinding se vertrek van die hospitaal as ʼn vreugdevolle geleentheid beskryf.

Hoewel Yu Xuan nou tuis is saam met haar vierjarige broer, het sy steeds kroniese longsiekte en moet sy tuis aan ʼn ventilator gekoppel word. Nietemin word sy al deur ʼn bottel gevoer en kan sy self omdraai.

Yu Xuan se ouers kon met behulp van ʼn skarefinansieringsveldtog meer as $270 000 (meer as R4 miljoen) insamel vir haar hospitaalrekening.

Volgens die Universiteit van Iowa se register van kleinste babas was die vorige rekordhouer van die kleinste baba ʼn dogtertjie in Amerika wat in 2018 net-net 245 g by geboorte geweeg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Sjoe, sy was darem bitter klein gewees en dankbaarsaam haar ouers sy kan nou huis toe gaan. Voorwaar ‘n wonderwerk!!!

Mieke ·

Dis ongelooflik waartoe vandag se medici in staat is. Vroërjare was daar geen hoop vir so klein premature babatjie nie! So bly sy’s nou tuis. Hoop sy sterk gou aan en kan ‘n normale lewe lei.

Sêmanet ·

Die foto nadat sy ontslaan is, lyk of sy nou eers 2 maande oud is. Dis darem maar bitter klein. Kyk die geboorte foto, die ou armpies is soos ‘n vrou se vinger. Ag moedertjie.

Filistyn ·

Wow. Ongelooflik. Daar wag n paar uitdagings vir haar en haar ouers. Sterkte.

Darts girl ·

As ek op sulke artikels afkom maak dit my so bly dat my hart amper oorloop van blydskap, baie geluk aan die paartjie van die pragtige bondeltjie liefde is bly sy is gesond. Weereens bewys dit net hoe goed God werklik is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.