Wêreld se kleinste baba oorleef wonderbaarlik

Die 16 maande oue Curtis Zy-Keith Means het maar 420 g met geboorte geweeg. (Foto: Guinness World Records)

’n Babaseuntjie van die VSA is amptelik die wêreld se mees premature baba om te oorleef. Hy is 19 weke te vroeg gebore en het maar 420 g – soveel soos ’n sokkerbal – met geboorte geweeg.

Guinness World Records het bevestig dat klein Curtis Zy-Keith Means van Birmingham in die Amerikaanse deelstaat Alabama die nuwe rekord opgestel het toe hy verlede jaar op 21 weke en ’n dag gebore is.

Curtis is net ’n maand ná die vorige wêreldrekordhouer gebore toe dié kleinding op 21 weke en twee dae gebore is, berig Guinness World Records.

Klein Curtis – nou 16 maande oud – het die eerste nege maande van sy lewe in die hospitaal deurgebring, maar is deesdae gesond. Hy is egter steeds van ’n voedingsbuis en aanvullende suurstof afhanklik.

Curtis se ma, Michelle Butler, was swanger met ’n tweeling toe sy net verby halfpad met haar swangerskap op 4 Julie 2020 tydens die Onafhanklikheidsviering in kraam gegaan het en na die hospitaal gehaas is.

Die tweeling was veronderstel om eers in November verlede jaar hul opwagting te maak.

Curtis Zy-Keith Means kort nadat hy op 21 weke en ’n dag gebore is. (Foto: Guinness World Records)

Michelle het egter op 5 Julie reeds geboorte gegee aan Curtis en C’Asya. Curtis se tweelingsussie was onderontwikkel en is die dag daarna oorlede. Dít terwyl Curtis met ’n oorlewingskans van minder as een persent om sy lewe in die hospitaal se waakeenheid geklou het.

Curtis is eindelik op drie maande aan ’n ventilator ontkoppel en in April vanjaar ná 275 dae uit die hospitaal ontslaan. Hy moes egter met behulp van terapeute leer hoe om asem te haal en sy mondjie te gebruik om te eet.

Dr. Brian Sims, ’n neonatoloog van die Universiteit van Alabama wat toesig gehou het oor die bevalling, meen die kans was skraal dat Curtis sou oorleef.

Klein Curtis Zy-Keith Means en sy dokter, dr. Brian Sims. (Foto: Guinness World Records)

“Die [statistieke] sê dat babas op hierdie ouderdom nie sal oorleef nie. Mamma se vraag aan my was: ‘Kan ons my babas ’n kans gee?’

“Ek doen dit al byna 20 jaar, maar ek het nog nooit ’n baba so jonk gesien wat so sterk soos hy is nie. Daar is iets besonders aan Curtis,” het Sims aan Guinness World Records gesê.

Curtis het die vorige rekord van die wêreld se mees premature baba om te oorleef met slegs 24 uur geklop. Baba Richard Hutchinson van Wisconsin is ’n maand voor Curtis op 21 weke en twee dae gebore.

Dié rekord het egter voor klein Richard 34 jaar lank ononderbroke gebly. James Elgil Gill van Ottawa, Kanada, het destyds oorleef nadat hy in 1987 op 21 weke en vyf dae gebore is.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Asgat ·

So klein vegtertjie, mag hy net blydskap en geluk in sy lewe he …… waar op aarde het mamma sulke klein doeke gekry. My baba was op 27 weke gebore en 908g geweeg en nie eens die prem doeke het gepas nie…. dit is n’ wonderwerk kindjie

Patch ·

Wonderwerke vind steeds plaas. Mag hy nog lank en gelukkig lewe.

VaalDonkie ·

Maar ek moes my seun vashou terwyl hy versmoor want die “beleid” van die staatshospitale is om NIKS te doen as die kind voor 26 weke gebore is nie. My seun was op 24 weke gebore. Hy het in my hande blou en koud geword en ek moes hom daar los want hy was “mediese afval” genoem.

Misky ·

Agge nee, dis bitter hartseer VaalDonkie en so jammer om te hoor.

Lize ·

Dis nie die wêreld se kleinste baba nie, maar wel die wêreld se mees prematuur baba. Die werêld se kleinste baba het 212g by geboorte geweeg. Suid-Afrika se kleinste baba het 410g geweeg. Tygerberg Hospitaal sien jaarliks ongeveer 2000 premature babas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.