Wêreld se laaste noordelike witrenosterbul sterf

Sudan. Foto: (AP Photo/File)

Die wêreld se laaste noordelike witrenosterbul, Sudan, is weens ouderdomverwante komplikasies dood.

Volgens ʼn verklaring van Ol Pejeta Conservancy in Kenia is die 45-jarige renoster van kant gemaak nadat sy toestand Maandag verswak het en hy nie meer kon staan nie. Sy spiere en bene het agteruitgegaan en sy vel het verskeie wonde gehad, waaronder ʼn infeksie op sy regter-agterbeen.

Daar is gehoop dat Sudan die subspesie van uitsterwing kon red. Daar is nog net twee noordelike witrenosterkoeie – sy dogter, Najin, en haar dogter, Fatu. Pogings om Sudan natuurlik te laat voortplant, het misluk en geld is ingesamel vir vrugbaarheidsbehandeling.

Volgens die verklaring is daar van Sudan se genetiese materiaal versamel in die hoop om later wel daarmee te kon voortplant.

“Sudan was ʼn fantastiese ambassadeur vir sy subspesie en sal onthou word vir sy waardevolle werk om wêreldwyd bewustheid te skep oor die lot van renosters en duisende ander spesies wat deur uitsterwing bedreig word,” het Richard Bigne, uitvoerende hoof van Ol Pejeta, gesê.

Sudan was baie bekend en het jaarliks duisende besoekers getrek. Hy was die laaste noordelike witrenoster wat in Soedan en in die ongerepte natuur gebore is. Sudan is na ʼn dieretuin in die Tsjeggiese Republiek geneem, maar in 2009 saam met die drie noordelike witrenosterkoeie (in daardie stadium) na Kenia oorgeplaas.

Die renosters is onder konstante bewaking en op ʼn spesiale dieet geplaas in die hoop dat hulle sou voortplant.

Wildbewaarders wat na Sudan omgesien het, het hom as “sagmoedig” beskryf en gesê hy het “talle harte gesteel weens sy waardigheid en krag”. Sudan se toestand het die afgelope paar weke erg agteruitgegaan.

Noordelike witrenosters het voorheen in Tsjad, Soedan, Uganda, die Kongo en die Sentraal-Afrikaanse Republiek voorgekom. Die suidelike witrenoster is meer volop en kom onder andere in Suid-Afrika voor.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Dis jammer – maar gelukkig kon hy leef tot hy van ouderdom gesterf het. Al die res was nie so gelukkig nie!

jean ·

My hart is seer….en so kom daar jaarliks spesies tot hul einde.
Stem saam Theresa….

M'Lady ·

Baie dankie aan al die jagters en stropers wat tot hierdie renosters se uitwissing bygedra het. So sal baie spesies nog in Sudan se voetspore volg.

Haan ·

As jy enigsins betrokke was by n jagters organisasie of net bloot vertroud is met jag, sal jy verstaan dat jagters van die grootste bydraes tot bewaring maak, en mense is met n groot liefde vir die natuur. Hulle neem en hulle gee terug… Soos dit hoort

HB ·

Baie hartseer. Gelukkig van ouderdom en nie wreedaardig soos soveel ander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.