Wêreld se oudste man sterf

Alexander Imich

Alexander Imich

Die wêreld se oudste man, ‘n Poolse immigrant, is in ‘n ouetehuis in New York oorlede.

Die New York Times berig dat Alexander Imich Sondagoggend in die ouderdom van 111 jaar oorlede is. Imich het sedert 1986 in ‘n ouetehuis in Manhattan gewoon. Hy het op 4 Februarie sy 111ste verjaardag gevier.

Imich was ‘n afgetrede apteker en sielkundige. Hy is in April vanjaar deur die gerontologie-navorsingsgroep van Torrance, Kalifornië as die wêreld se oudste man gesertifiseer. In die tyd was daar 66 vrouens wat ouer was as Imich, waarvan die oudste 116 jaar.

Imich het vroeër tydens ‘n televisie-onderhoud sy langlewendheid toegeskryf aan die feit dat hy en sy vrou, Wela, nooit kinders gehad het nie. Imich het ook geskerts: “Ek weet nie, ek het net nie vroeër doodgegaan nie. Ek het geen idee hoe dit gebeur het nie.” Wela, ‘n terapeut en kunstenaar, is in 1986 oorlede.

Imich het glo gereeld geoefen, spaarsamig geëet en nooit alkohol gedrink nie. Volgens The Times het Imich toestemming gegee dat sy liggaam vir mediese navorsing gebruik kan word.

Volgens nuusberigte is Sakari Momoi van Japan, ook 111 jaar oud, nou die wêreld se oudste man. Hy is ‘n dag na Imich gebore in 1903.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Mag die Liewe Vader my behoede, dat ek NOOIT OOIT so oud word nie. Ek is 45 en voel al reeds stokoud!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.