Wêreld se oudste mens sterf

Misao Okawa

Misao Okawa

Die wêreld se oudste mens, Misao Okawa van Japan, is dood enkele weke nadat sy haar 117de verjaardag gevier het.

Dit is nog nie duidelik of Okawa Dinsdag of Woensdag oorlede is nie. Volgens BBC is sy aan hartversaking oorlede.

Okawa is op 5 Maart 1898 gebore en in 2013 het die Guinness Book of Records haar aangegee as die oudste mens wat nog lewe. Sy is die 30ste persoon (geverifieer) wat ouer as 115 jaar geword het en die tiende persoon (geverifieer) wat 116 jaar gehaal het. Misao was die laaste lewende mens wat in die 1800’s gebore is.

Die vorige persoon wat met die rekord as oudste lewende mens in die wêreld gespog het, was Jiroeman Kimura wat op 12 Junie 2013 in die ouderdom van 116 oorlede is.

Okawa was die vierde dogter van ʼn kimono-maker. Sy is in 1919 getroud en het drie kinders gehad. Haar seun en een van haar dogters leef nog steeds. Haar man is op 20 Junie 1931 oorlede.

Volgens The Guardian is daar meer as 58 000 Japannese wat 100 jaar en ouer is. Nagenoeg 87% van hulle is vroue.

Volgens die Guiness Book of Records was Jeanne Calment die oudste mens nóg. Sy is in 1997 in die ouderdom van 122 jaar en 164 dae oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

Aangesien sy die laaste mens is wat in die 1800’s gebore is, is sy ook die laaste mens wat in die afgelope drie eeue geleef het. Maak ons nou somme sal ons sien dat jy op die vroegste ongeveer 2080 gebore moet word, ‘n ouderdom van 120 jaar moet haal om te kan leef in die volgende drie eeue. Iets wat nie vir een van ons beskore sal wees. Daar lê dus nog sowat 65 jaar voor vir daardie persoon om dan eers gebore te word. Nogal heel interessant.

Gideon Roos ·

Net ‘n korreksie. Sy “is” nie gebore nie, sy “was” gebore. Die verlede tyd met die bestaanswoord “is” dui aan dat dit steeds so is, met ander woorde dat sy nog lewe. Aangesien sy gesterf het moet die bestaanswoord “was” gebruik word, om aan te dui dat die toestand verander het.

‘n Voorbeeld om dit te illustreer:
Indien ‘n kar op ‘n tyd gemaak work in die verlede, en steeds bestaan, dan “is” dit gemaak. Maar indien die kar intussen vernietig is, dan “was” dit gemaak. Die “is” bestaanswoord dui dat die toestand steeds dieselfde is, terwyl die “was” bestaanswoord aandui dat die toestand nie meer so is nie, dat dit verander het, of dat die voorwerp nie meer in bestaan is nie.

Peet Schabort ·

Ja Gideon jy is ( of was?) reg maar by hierdie tyd is sy ook nie meer dood nie want met tydsverloop was sy reeds dood toe die nuus die wêreld bereik het. Die groot grap is dat my kommentaar uitgelaat het dat daar wel mense leef gebore tussen ongeveer 1980 maar nie later as voor middernag 31 Des 2000 wat in aanmerking kom vir lewe in die volgende drie eeue. L. w. dat die (nuwe) eeu begin het net na middernag op 1 Januarie 2001. Dus sal een jaar van die eeu eers om wees aan die einde van die laaste dag van 2001. Die viering van die eeu waarin ons leef was dus ‘n jaar te vroeg maar dit was gekoppel ook aan geldmakery so wie sou nog ‘n jaar wag?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.