Wêreld sien eerste foto van gravitasiekolk

Dié foto, wat Woensdag 10 April 2019 bekendgestel is, is die eerste foto ooit wat van ‘n gravitasiekolk geneem is. (Foto: Event Horizon Telescope Collaboration/Maunakea Observatories via AP)

Sterrekundiges van die internasionale Event Horizon Telescope (EHT)-projek het Woensdag die eerste beeld nóg van ʼn gravitasiekolk (“black hole”) bekendgemaak.

Dié beeld is vir die eerste keer deur gehore by ses mediakonferensies in ses verskillende wêreldstede gesien: in Brussel (België), Lyngby (Denemarke), Santiago (Chili), Sjanghai (China), Tokio (Japan) en Washington DC (VSA).

“Ons is verheug om te kan rapporteer dat ons gesien het wat ons gedink het nié gesien kan word nie,” het Shep Doeleman, ʼn astrofisikus van die EHT-projek tydens die Washington-perskonferensie gesê.

Doeleman het gesê meer as 200 mense in 20 verskillende lande het etlike jare aan die projek gewerk om die gravitasiekolk af te neem, wat vertoon soos ʼn helder oranje ring. Dit is geleë in die middel van die massiewe elliptiese sterrestelsel M87, sowat 54 miljoen ligjare van die aarde.

Tot op hede is ʼn gravitasiekolk nog nooit voorheen afgeneem nie. Die beeld wat vandag bekendgestel is, is geneem met die Event Horizon-teleskoop, ʼn netwerk van tien radioteleskope wat oor die planeet versprei is en funksioneer as ʼn enkele ontvanger ingestel op hoëfrekwensie radiogolwe.

Hoewel gravitasiekolke van nature onsigbaar is, vorm die kokende warm materiaal wat in die middel saamkolk ʼn ligring – die silhoeët van die gravitasiekolk teen die agtergrond van die gloeiende materiaal wat deur die magtige gravitasie aangetrek word. Die gravitasiekolk self laat geen lig vry nie.

Die kring wat gesien kan word, is dus in effek ʼn skeiding tussen lig en donker rondom die gravitasiekolk, wat die “event horizon” genoem word. Dit word gesien as die punt waar omdraai nie meer moontlik is nie, waar die gravitasie van die kolk só sterk word dat enigiets wat dit binnegaan nie weer kan uitkom nie. In die middel van die gravitasiekolk word tyd en ruimte so in mekaar vermeng dat die wette van fisika heeltemal nutteloos raak.

Die observasies van die EHT word bestempel as een van die belangrikste wetenskaplike deurbrake van die eeu. Feryal Ozel, ʼn astrofisikus van die universiteit van Arizona en ʼn lid van die EHT se wetenskapraad, het die beeld as die hoogtepunt van haar loopbaan bestempel.

“Ons het daarin geslaag om ʼn foto te neem van nog ʼn voorwerp in die ruimte wat mense eens op ʼn tyd gedink het nie moontlik is nie,” het sy gesê. “Ons het ʼn kykie gekry op die onbekende.”

Die Amerikaanse nasionale wetenskapstigting sê die uitslae van hierdie projek kan die mens se begrip omtrent gravitasiekolke, gravitasie en selfs die ruimte transformeer.

Wetenskaplikes glo gravitasiekolke bestaan in byna elke sterrestelsel, maar kon nog nooit ʼn visuele bewys hiervan lewer nie. Hierdie deurbraak is die eerste klinkklare bewys dat gravitasiekolke wel bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

johanII ·

Baie interresant. Eenkeer n teorie gelees dat die gravitasie toeneem tot by die “rand” van n swart gat, daarna raak gravitasie moontlik n afstoot krag, materie raak dus vasgevang en moontlik weer uitgeslinger in die vorm van hoë energie deeltjies van/by die rand (“event horison”) van n swart gat. Met die wiskunde van daardie teorie bestaan daar net twee sulke voorbeelde in die natuur, n swart gat en die rand van die heelal!

Pitbul ·

Wat ñ mooi afrikaanse woord “gravitasiekolk” direkte vertaling van swart gat sou nie van pas gewees het nie.

Cherokee ·

Gravitasie is steeds ontleen vanaf gravity wat dit dus alles behalwe oorspronklik maak.

? leser ·

nou moet julle my reghelp, die gravitasiekolk is 54 miljoen “ligjare” van ons af, indien jy die spoed van lig (299,792,458 metres per second ) in aanmerking neem, wat is die spoed van radio golwe dan (Radio waves in a vacuum travel at the speed of light) dis presies dieselfde, so dit moes 54miljoen jare gelede al afgeneem wees, waar nou gehasie ??????????????????

Anonieme Lafaard ·

Alles korrek. Lig en radio golwe is albei elektro-magnetiese golwe wat teen dieselfde spoed beweeg (net die frekwensie verskil). Die beeld wat jy sien is dus van die gravitasiekolk soos dit 54 miljoen jaar gelede gelyk het. Die golwe het nou eers by ons uit gekom.

? leser ·

@anonieme lafaard
so die kans dat die kolk nog bestaan is dan ‘n absolute NUL, reg ???

Knapie ·

Die lig/radiogolwe wat mens in die ruimte waarneem is inderdaad n reis in die geskiedenis van die heelal. Hoe verder weg die ligaam wat bestudeer word, hoe verder reis jy terug in die geskiedenis. Is die gravitasiekolk steeds daar? Ek is geen kenner op die gebied nie, maar waarheen sal hy gaan?? Die swaartekrag effek van die kolk kan gemeet word, dit is hoe die dikraambrille mense geweet het hy is daar. Dit laat n interesente vraag by my op kom: as lig en radiogolwe teen n sekere maksimum spoed beweeg, geld dieselfde reël dan vir ” gravitasiegolwe”.

De Villiers ·

@Leser, dit mag dalk so wees, maar die kanse is ook goed dat dit steeds bestaan, want 50 miljoen jaar vir voorwerpe in die ruimte, soos sterrestelsels, is maar relatief jonk. Ons son is bv 4.6 biljoen (vierduisend seshonderd miljoen) jaar oud, en die aarde 4.5 biljoen jaar.
Net so is daar talle sterre wat jy nou van die aarde af waarneem, maar wat in werklikheid al miljoene jare gelede uitgebrand het. Die lig wat hulle uitgestraal het kom nou eers hier uit. Dis nogals ń kopkrapper om dit te besef, né.

Anonieme Lafaard ·

@Knapie: jou vermoede is reg. Graviatsiegolwe beweeg teen die spoed van lig. Hulle is eers in 2016 direk waargeneem en is nog ‘n bevestiging van Einstein se algemene relatiwiteitsteorie – wat hy al in 1915 gepubliseer het! (Bron: Wikipedia – soek “graviational waves”). Die bestaan van gravitasiekolke is deur sy teorie voorspel en selfs die grootte van hierdie een is in ooreenstemming die teorie.

Smokey ·

@anonieme lafaard. Ek verstaan hul beweeg albei teen dieselfde spoed. Ek neem aan hul vul ook ‘n oopte, en bly nie gebind soos ‘n klip nie. Dieselfde soos my kamer lig as ek dit aanskakel. m.a.w. die beeld wat ons hier kry moet redelik “geblurr” wees. Mens sal dit moet 55 miljoen jaar verklein om die oorspronklike beeld te sien.
Dan punt nr 2. News24 praat van “gates of hell” en “point of no return”. Blykbaar gaan dinge rof daarbinne. My vraag: wie was daar om die afleiding te maak, of suig iemand nou weer aan een van Steven Hawkins se stokkie lekkers?

Knapie ·

Kamer lig: jy sien refleksies van die mure af. Kyk na jou kamer lig van n afstand van 100m af, dan sien jy nou net n klein kolletjie. Kyk op dieselfde afstand deur n geweer se teleskoop, dan behoort jy moontlil die filamnt te kan sien.

Wie was daar?: dit is waaroor die wetenskap gaan, jy maak gevolgtrekkingd gebaseer op waarnemings, nie noodwendig direkte waarnemings nie. Daar was n gevolgtrekking gemaak dat gravitasie kolke bestaan, gebaseer op waarnemings. Dit is nou eers dat iemand n foto geneem het om die bestaan te bevestig. Baie wetenskap word eers uit die duim gesuig, maar dit is n slim duim. Tot die dag toe dat dit onteenseglik bewys kan word, is dit slegs n teorie.

Cherokee ·

Ongelooflik! Toets dit…
As jy met die muis die cursor tot in die oranje ring beweeg, suig dit selfs die cursor vas!

Cherokee ·

Lol..Lol…Lol… Snorkie, jy maak my aand.. nee naweek! :-) Ek drink ‘n Three Ships op jou en jou sin vir humor… (miskien het meer dit getoets :-)))

John ·

Hoekom swart? Dalk kom die sg swart materie aan die agterkant van die oliebol uit. Sou dit van die anderkant af dieselfde lyk? Dit moet ‘n goeie doel dien. Dalk ‘n massiewe ruimte-vullis-verwerkingsaanleg, Ons moet die aarde maar weghou van daardie rigting. Miskien kan die ouens wat aardverwarming bestuur dalk ons papwiele wegdraai na èrens elders of ten minste ‘n beter nèrens… En dan is daar die swart afgrond aan die einde van die Heelal. Sjoe, watter taak het ons wetenskaplikes tog nie op hande nie… Het hulle darem al brieke ontwerp… Net diè Made in . Praat harder…

waarheid ·

‘n Suid-Afrikaner van Tuks Univ was ook betrokke met hierdie hele episode.
Het dit gister op News 24 of erens gelees.

pit ·

Soveel tyd en geld so mors en nog glad geen piep uit buite ruim ontvang nie. Kon geld baie meer produktief hier op aarde vir die mense spandeer het.

Cherokee ·

pit, as een mier aan ‘n groep miere vertel dat daar mense op die aardbol is en van bo af na hulle kyk, sal hulle die spreker uitlag. En die mense kan ook nie die miere daarvan oortuig nie want hulle sal geen piep van ons geluide verstaan nie.

Sulet ·

Gelukkig verstaan ek niks daarvan nie. Partykeer glo ek dat al die sogenaamde ontdekkings in die ruimte ‘n bedrogspul is.

Realiteit ·

Clarke’s Third Law: Any sufficiently advanced technology is indistinguishable from magic.

Net omdat jy dit nie verstaan nie beteken nie dis ‘n bedrogspul nie. Dit beteken maar net jy verstaan dit nie. Net omdat jy dit sê maak dit nie so nie.

Rosemary ·

Wel… Ek gee nie om wat wie sê nie. Dit is ook een van God se wonderlikke skeppings wat die mensdom nou eers kon sien. God is great, and He is greater than we think!

Elmer Swanepoel ·

“Ees komplicated”. Maar nou sal ons die volgende een herken as dit opdaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.