Wêreld skud vere reg vir 2020-Nuwejaarsvieringe

Verlede jaar se nuwejaarsvieringe in Sydney, Australië. (Foto: Dean Lewins/AAP via AP)

Feesgangers van oor die wêreld maak reg om die nuwe jaar – én ʼn nuwe dekade – met groot feestelikhede te verwelkom.

Die Pasifiese eilandnasie Samoa is die eerste om die aankoms van 2020 te vier, nadat hy sy tydsone agt jaar gelede wes van die internasionale datumlyn geskuif het.

Auckland is die volgende om 2020 te verwelkom, gevolg deur die Australiese stad Sydney.

Nagenoeg ʼn miljoen mense gaan na verwagting na die Sydney-hawe stroom om na die stad se vuurwerkvertoning te kyk. Die owerhede het oproepe dat die vertoning weens die land se voortslepende veldbrandkrisis gekanselleer word, afgemaak.

Klokke by ʼn Boeddhiste-tempel in Japan sal 2019 vaarwel toeroep en die nuwe jaar verwelkom. Dáár word miljoene mense oor die eerste drie dae van 2020 in tempels en aanbiddingsplekke verwag waar hulle sal bid vir geluk en voorspoed.

Hongkong het op die nippertjie besluit om sy middernagtelike vuurwerkvertoning op te skort. Betogings word vanaand én môre in die stad verwag. Die stad gaan wel sy gebruiklike daaglikse liggievertoning hou, maar met ʼn Nuwejaarstema.

‘n Vrou heg haar nuwejaarvoornemens aan ‘n papierlantern in Suid-Korea. (Foto: Ahn Young-joon/AP)

In die Taiwannese hoofstad Taipei sal duisende mense na verwagting stroom na die 508 m hoë gebou Taipei 101, een van die hoogstes ter wêreld.

Volgens die geboubestuur gaan die 300 sekonde lange vertoning om middernag altesaam 16 000 vuurwerke insluit. Daar sal ook animasie op ʼn reusemuur – met 140 000 LED-liggies – gewys word. Dit word op die gebou se buitemuur, tussen die 35ste en 90ste verdiepings, vertoon.

In Europa verwelkom Duitsland 2020 by die Brandenburg-hek te midde van nuwe bepalings wat mense verbied om vuurwerk by dié beroemde baken en omliggende partytjiegebied af te vuur. Nóg twee gewilde kuierplekke, Alexanderplatz in die ooste en Schönefeld in die weste – het soortgelyke bepalings.

Die hoë koste van vuurwerk het beteken Duitsland het verlede jaar nagenoeg R2,1 miljard daaraan bestee. Dit het tot groot debat gelei oor of vuurwerk nie heeltemal in dié land verbied moet word nie.

In Frankryk is daar kommer dat ʼn staking in die vervoerbedryf ʼn demper op feesvieringe kan plaas. Partytjies in die hoofstad Parys lok gewoonlik miljoene mense.

Brittanje vier die nuwe jaar met ʼn groot vuurwerkvertoning by die Londense Oog op die oewer van die Teemsrivier, terwyl Skotland, net verder noord, regmaak vir duisende mense by Edinburgh se Hogmanay-feesvieringe.

In New York in die VSA word meer as ʼn miljoen mense op Times Square verwag waar hulle sal kyk hoe die gebruiklike bal om middernag laat sak word.

Los Angeles en Honolulu in die VSA maak ook reg vir groot makietie, terwyl Buenos Aires en Rio de Janeiro onder die voorste partytjiebestemmings in Latyns-Amerika is.

Die feesvierings eindig min of meer waar dit begin het, in Amerikaans-Samoa, ʼn klipgooi van Samoa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae