Wêreld verwelkom uiters skaars renosterkalfie

Die Soematraanse renoster, Rosa, by haar kalfie. (Foto: IRF / Sumatran Rhino Sanctuary)

’n Uiters skaars Soematraanse renosterkalfie is onlangs by ’n bewaringsreservaat in Indonesië gebore. Die Soematraanse renoster is die kleinste renosterspesie ter wêreld en ernstig bedreig. Volgens statistieke deur die Internasionale Renostervereniging (IRF) is daar tans maar 80 Soematra-renosters oor.

Die geboorte van dié renosterkalf, ’n koei, skep opnuut hoop dat die spesie wel van uitsterwing gered kan word.

CNN berig dat die kalfie by die Sumatran Rhino Sanctuary in die Way Kambas- nasionale park gebore is waar agt ander renosters van dié spesie woon. Die reservaat is glo die enigste plek in die land waar dié renosters natuurlik kan aanteel sonder tegnologiese ondersteuning of inmenging.

Die renosterkoei, Rosa, het vóór die geslaagde geboorte van haar kalfie agt miskrame oor die afgelope 17 jaar gehad. Die naam van die kalfie sal na verwagting binnekort onthul word.

Die kalfie se pa, Andatu, is die eerste Soematraanse renoster wat in Indonesië in aanhouding gebore is. Hy is nou 10 jaar oud.

Die reservaat hoop om die renosters eendag weer in die natuur vry te laat sodra hul getalle toeneem.

“Die geboorte van die Soematraanse renoster is baie goeie nuus te midde van onverpoosde pogings van die Indonesiese regering en sy vennote om die Soematraanse renosterbevolking te vergroot,” het die land se ministerie van natuurlike hulpbronne en ekosisteembewaring in ’n verklaring gesê.

“Ons hoop om voortaan net meer gelukkige nuus oor geboortes van ander Soematraanse renosters te ontvang.”

Die IRF het die geboorte van die kalfie ook op sy webblad verwelkom.

“Dis ’n baie belangrike gebeurtenis vir dié kritiek bedreigde spesie. Ons deel saam met die res van die wêreld in die opwinding en vreugde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobusnutz ·

‘n Vroulike renosterkalfie is ‘n Versie. Eers na sy haar eerste kalf gehad het word sy ‘n koei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.