Wêreldmediavryheidsdag vandag gevier

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Joernalis-wees is nie iets waarmee jy net een oggend wakker word nie. Jy word met hierdie passie en roeping gebore – dit is in jou DNS. Hierdie beroep trek jou aan soos ʼn mot na ʼn kers aangetrek word. Dit is ʼn beroep wat baie kritiek ontvang en tog, in ʼn land soos Suid-Afrika, en veral in ʼn tyd van Covid en inperkings, stakings, honger, afleggings, en politieke en rassespanning wat daagliks sy lelike kop uitsteek in elke foto en storie, bly hierdie beroep vir die mense wat dit beoefen ʼn daaglikse passie en ʼn “ek maak ’n verskil met my woorde”.

Woorde wat trane kan laat loop en gemoedere kan laat kook. Woorde wat kan troos en selfs oorlog kan veroorsaak. Maar dis hierdie woorde wat ʼn verantwoordelikheid het om objektiewe waarheid met mense te deel. Dekmantels te lig, en gebeure tot in jou voorhuis of kantoor te bring.

Wêreldmediavryheidsdag word op 3 Mei gevier en die Solidariteit Gilde vir Kommunikasie en Bemarking wil spesiaal op hierdie dag die joernaliste, fotograwe en almal wat by mediahuise werksaam is, bedank vir hul verantwoordelike verslagdoening. “In hierdie beroepsgemeenskap het ons heelwat mense wat in media werksaam is,” skryf Marisa Engelbrecht, sektorhoof van die Gilde vir Kommunikasie en Bemarking. “Soos in baie ander beroepe word hierdie mense ook uitgedaag in die huidige ekonomiese en politieke omstandighede. Die SAUK lê duisende mense af, joernaliste word deur politici aangerand, hulle doen verslag oor moord en misdaad en ongelukke en politieke spanning, maar hulle doen ook verslag oor die mooi in die land. Hulle skryf oor gemeenskappe wat saamstaan en opbou, oor kinders en sportsterre wat presteer, oor diere en kosmaak en tegnologie. Dis ʼn baie uiteenlopende beroep, maar almal het een ding gemeen – hulle liefde vir woorde.”

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Wat is Wêreldmediavryheidsdag?

Wêreldmediavryheidsdag is in 1993 deur die VN ingestel en was aanvanklik ʼn versoek van joernaliste uit Afrika waar regerings mediavryheid grotendeels onderdruk. Sensorskap, boetes, skorsings en selfs die sluit van publikasies terwyl joernaliste, fotograwe en redakteurs geteister, aangeval, gevange gehou of selfs vermoor word.

Vanjaar se tema vir Wêreldmediavryheidsdag is “Information as a Public Good” en beoog om die waarde van akkurate inligting tot voordeel van die publiek te bevestig deur die produksie, verspreiding en ontvangs van die inligting. Die tema gee ook erkenning aan die veranderde wêreld van kommunikasie en die impak op gesondheid, menseregte, demokrasie en volhoubare ontwikkeling.

Om kontak te maak met die Solidariteit Gilde vir Kommunikasie en Bemarking, stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek gerus hul webblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.