Wêreldrekord vir bielie van ʼn aarbei

Ariel Chahi spog met sy bielie van ‘n aarbei (Foto: Guinness)

Ariel Chahi van Israel het ʼn aarbei gekweek wat 289 gram weeg.

Guinness Wêreldrekord het vandeesweek bevestig dit is die swaarste aarbei ooit. Die aarbei was 18 cm lank, 4 cm dik en met ʼn omtrek van 34 cm.

Die aarbei is van die Ilan-variëteit en is by Ariel se familie-onderneming, “Aarbeie in die veld”, in Kadima-Zoran, Israel, gekweek.

Die grootte word in perspektief geplaas toe Ariel eers ʼn iPhone XR geweeg het. Die iPhone weeg 194 gram – byna 100 gram minder as die massiewe aarbei.

Die Ilan-variëteit is oorspronklik deur dr. Nir Dai, ʼn navorser by Israel se landbounavorsingsorganisasie (ARO) gekweek, by die ARO Volcani-sentrum in Bet-Dagan naby Tel-Aviv. Ilan-aarbeie is gewoonlik groot vrugte.

“Tydens die aarbeiseisoen teen die einde van Januarie en begin Februarie was dit besonders koud,” verduidelik Dai. Hy was een van die getuies toe die bielie van ʼn aarbei geweeg is. “Die aarbei het stadig oor meer as 45 dae gegroei en uiteindelik dié grootte behaal.”

Die bielie van ‘n aarbei (Foto: Guinness)

Verskeie aarbeie het aanmekaar vasgegroei om die reusagtige aarbei te vorm.

“Die Ilan-variëteit is gewoonlik groot en ongewone vrugte, maar hierdie is die grootste aarbei wat ek al ooit gesien het,” het Dai bygevoeg.

Ariel spog met minstens vier groot aarbeie uit die oes, maar die grootste hiervan was die een wat 289 g (299 g met die stingeltjie) geweeg het.

Die vorige rekord vir die swaarste aarbei was 250 gm. Dit is deur Koji Nakao van Japan gekweek. Die aarbei is op 28 Januarie 2015 in Fukuoka, Japan, geweeg en was van die Japannese variëteit Amaou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Ek het al van die lekkerste vrugte in Israel ge-eet. Vars vrugte is volop daar, dit is net vleis wat baie duur is in Israel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.