Wêreldwye skok oor uitgeteerde ysbeer

ysbeer

‘n Skermskoot uit die video van Guardian News.

ʼn Hartroerende video van ʼn uitgeteerde ysbeer wat in die sneeu op Baffin-eiland in die Kanadese gebied rondstap, het ʼn gesprek oor die gevolge van klimaatsverandering op sosiale media ontketen.

Die video wys hoe ʼn ysbeer verbete aan die lewe klou terwyl sy uitgedunde hare sy vermaerde lyf bedek. Sy agterbeen wat agter hom aansleep terwyl hy stap, dui op moontlike spieratrofie weens verhongering. Nadat die ysbeer tevergeefs in ʼn nabygeleë asblik grou wat seisoenaal deur Inuïet-vissermanne gebruik word, sak hy weer op die grond inmekaar.

Die fotograaf Paul Nicklen en fliekmakers van die Sea Legacy-groep, het op dié hartseer toneel van die uitgehongerde ysbeer in sy laaste oomblikke afgekom.

Nicklen het in Kanada grootgeword en het as bioloog en fotograaf reeds meer as 3 000 bere in die wildernis gesien. Hy het aan National Geographic gesê dit was een van die skokkendste tonele wat hy nog ooit gesien het. “Ons het daar gestaan en huil. Ons het die beer afgeneem met trane wat by ons wange afrol.”

Nicklen het gesê hy word deur sosialemedia-gebruikers oor die kole gehaal omdat hy en sy span nie ingegryp het nie. “Natuurlik het die idee by ons opgekom, maar dis nie asof ek met ʼn pylgeweer of met 180 kg vleis rondstap nie.”

Hy het bygevoeg dat dit teen die wet in Kanada is om wilde ysbere te voer. “Ek sou in elk geval net sy lyding verleng het,” het hy gesê.

“Ek wil hê mense moet weet hoe dit lyk wanneer wetenskaplikes waarsku dat bere gaan uitsterf. Hulle gaan sterf van die honger.”

Wetenskaplikes glo ʼn eksistensiële bedreiging deur klimaatsverandering staar ysbere in die gesig weens die verlies van habitat omdat die see-ys smelt. Daar word voorspel dat bevolkings van ongeveer 25 000 ysbere in 19 plekke wêreldwyd in komende dekades met meer as ʼn derde sal afneem weens verhongering.

Ysbere het die gesig geword vir die kwessie rakende klimaatsverandering, het Cleve Wootsen van die Washington Post gesê. Al Gore, die voormalige visepresident van die VSA, het ʼn strokiesprent gebruik van ʼn uitgeputte ysbeer wat aanhoudend swem om te illustreer wat die uitwerking is wat mense op see-ys het. Studies en regeringsagentskappe maan klimaatsverandering kan veroorsaak dat ysbere teen 2050 uitgesterf sal wees.

Kyk na die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Dave Peper het in n onderhoud met Hannalie Retief gesê dat die aarde gaan wraak neem op ons vernietigingswerk. Dit is op ons.
Ek is nie in staat om die video te kyk nie.

Fiela ·

Teen 2050 gaan n groot gedeelte van die mensdom ook uitgewis wees.

JC ·

Dit is aard”verwarming” – oftewel verandering van standhoudende klimaatspatrone ja; maar dis nie die mens se skuld nie – nie eers naby nie.
Emosiebelaaide fopnuus kan erge kranksinnigheid veroorsaak.

Brombeer ·

Die video gee geen konteks oor die ysbeer nie.

Na alle anduidings lyk dit na ‘n ou en siek ysbeer wat, soos miljoene ysbere voor hom, op natuurlike wye aan die einde van sy leeftyd kom. Nes ons leeus of ander roofdiere wat eenvoudig nie meer vir hulsef kan sorg nie en dan sterf – die verloop van die natuur.

Absoluut niks met “klimaatsverandering” te make nie.

Vermeende ·

Dit is nie lekker of mooi om te kyk hoe n sie ly en vrek nie, maak dink gerus daaroor. Daar is n prys wat betaal moet word in die natuur vir diere wat heel bo aan die voedselketang is, hoe vrek hulle, swaar en van die nonger. Olivante se tande slyt weg tot op die punt waar hulle nie meer gemoegsame kos inkry nie en verswak oor n lang tyd tot hulle vrek. Leeus word uit die trop geskop en as alleenloper is hulle nie suksesvol om te jag nie, hulle vrek ook oor n lang tyd. Ek glo dit is ook so met met ysbere.

Rudi ·

Soos Steve Erwin gesê het – ons het al soveel skade gedoen dat ons MOET ingryp! Red die blerrie dier maak nie saak hoe nie. “Laat doe natuur sy gang gaan” is die grootste waansin

Ben ·

Hartseer, maar dit is hoe dit in die natuur gaan. Baie troeteldiere kan ook so sleg lyk. Danksy die mens deur verwaarlosing en mishandeling. En dit is onaanvaardbaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.