Wêreldwye tekort aan koffie laat pryse styg

Foto ter illustrasie (Foto: arifarca, Pixabay)

Verskeie uitdagings in Brasilië, asook wêreldwye verskepingsprobleme, het ʼn tekort in die beskikbaarheid van koffie veroorsaak.

2021 was ʼn baie slegte jaar vir Brasilië, die wêreld se grootste koffieprodusent. Eers het dié land een van die ergste droogtes in ʼn eeu beleef en later die jaar drie agtereenvolgende voorvalle van erge ryp, wat baie ongewoon vir ʼn tropiese land soos Brasilië is.

Dis veral die laerliggende produserende streke wat deur ryp getref is.

Volgens Francois Dreyer, eienaar van Heavenly Coffees in Centurion, word beraam dat ongeveer ʼn derde van die koffieplantasies ernstige skade opgedoen het en hul oes verloor het. Hy het aan Maroela Media gesê dat Brasilië se pakkamers leeggeloop het en buffervoorrade ook in gedrang is.

Wat sake verder deurmekaar gekrap het, was die arbeidsonrus in Colombia wat verskepings vir drie maande vertraag het.

Dit het noodwendig ʼn voorraadtekort veroorsaak en soos met landbouprodukte, waarvan baie as kommoditeite beskou word, het die mark hewig gereageer en het veral groter maatskappye uitermatige aankope gedoen. Dit het veroorsaak dat die prys skerp gestyg het en dat koffievoorrade in al die produserende lande gedaal het.

“Daarmee saam het die inperkings veroorsaak dat verskepingskoste na Suid-Afrika baie duurder geword het en ons swak wisselkoers het ook daartoe bygedra. In Suid-Afrika sien ons verhogings van 39% tot 54%.

“Buiten die prysverhogings is die beskikbaarheid van koffie geweldig wisselvallig weens die wêreldwye verskepingsprobleme.

“Ons is ʼn koffiebrander (roaster) wat nou al tien jaar aan die gang is en so nou en dan ondervind ons verskaffingsprobleme, maar hierdie is die ergste een wat ons nog beleef het. Mense besef ook nie dat koffie ʼn landbouproduk is en kan opraak nie.”

Dreyer koop sy primêre koffiesoorte uit Brasilië, Colombia en Ethiopië en nog ʼn paar uit Kenia, Costa Rica en Indonesië wat hy dan in gespesialiseerde resepte gebruik en jy durf nie aan die resepte karring nie, want Suid-Afrikaners kom dit vinnig agter.

“Net soos wyn het koffie ʼn terroir en die klimaat, hoeveelheid sonskyn en die tipe grond en water het ʼn invloed op die smaak. Koffie wat hoog bo seespieël in vulkaniese grond verbou word sal anders smaak as dié net langsaan op laerliggende grond.

Hy sê koffie uit Ethiopië het ʼn vrugtige smaak met ʼn hoë suurvlak, wat dit sy karakter gee. In Sentraal-Amerika is die koffie sagter met ʼn donker sjokolade ondertoon en Brasilië se smaakprofiel is nie so sterk soos Colombia sʼn nie.

Om sy probleem op te los kan Dreyer nie self koffie invoer nie, want die invoerders se kontrakte is vas. Hy moes maar die prysverhoging absorbeer, want hy kan dit nie eensklaps na sy klante oordra nie.

“Ek skarrel ook rond en soek na kleiner verskaffers wat minder bekend is, om goedkoper koffie teen dieselfde gehalte te verkry. Ons was tot dusver baie gelukkig.”

Op ʼn vraag of hy Suid-Afrikaans geproduseerde koffie kan gebruik, het hy gesê dat hy al na produsente uitgereik het, maar dat plaaslike koffie nie so gevorderd is soos in die tradisionele koffielande nie en dat ons klimaat en arbeid ook uitdagings bied. Hy sê wel dat ons produsente innoverend is en besig is om planne te maak.

Hy voeg by dat hy nooit net Suid-Afrikaanse koffie sal kan bemark nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Dis hartseer dat een van ons lekkerste drankies so duur raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.