Werker tronk toe ná diefstal by Buckingham-paleis

Buckingham-paleis in Londen. Foto: Tolga Akmen/AFP

ʼn 37-jarige man wat as ʼn kombuisassistent in Buckingham-paleis gewerk het, is tot agt maande tronkstraf gevonnis vir diefstal.

Adamo Canto het erken het dat hy medaljes, amptelike foto’s en ander items gesteel en op eBay verkoop het. Hy is Maandag gevonnis nadat hy skuld beken het op drie aanklagte van diefstal wat tussen November 2019 en Augustus 2020 plaasgevind het.

Volgens die polisie is daar ʼn “beduidende hoeveelheid” gesteelde artikels teruggevind toe hulle sy personeelkwartiere in Buckingham-paleis deursoek het. Hy het sedert 2015 as ʼn spysenieringsassistent in die paleis gewerk.

Die gesteelde goedere is in totaal tot sowat £100 000 (sowat R2 miljoen) werd en van die items is vir ʼn fraksie van hul waarde op die eBay gelys.

Dit sluit twee gesogte medaljes en ʼn foto-album in met foto’s van ʼn staatsbanket wat vir pres. Donald Trump gehou is toe hy Brittanje in Junie 2019 besoek het.

Canto, wat glo desperaat was vir geld om skuld te delg, het glo ook ʼn beperkte uitgawe sakhorlosie gesteel en ʼn Samsung-selfoon wat spesiaal gemaak is vir prins Andrew, koningin Elizabeth se tweede seun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.