Werkers kry foutiewelik twee keer salaris

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Britse bank Santander het per abuis £130 miljoen (R2,7 miljard) aan rekeninghouers van verskeie Britse banke op Kersdag uitbetaal.

Die bank vra nou dié gelukkige ontvangers van die geld om dit asseblief terug te betaal.

In ʼn verklaring aan AFP sê die bank sowat 75 000 betalings is verkeerdelik uit ongeveer 2 000 korporatiewe -en handelsrekeninge gemaak. Die geld is as salarisse aan werknemers en diensverskaffers, wat gewoonlik geld uit dié rekeninge ontvang, uitbetaal. Dié mense is dus foutiewelik twee keer betaal.

“Die geld is egter uit die bank se eie reserwes betaal, en die sakeondernemings het dus nie geld verloor nie.”

Nietemin het dit die feestyd van bestuurders van verskeie sakeondernemings bederf, aangesien hulle gedink het hul eie nalatigheid het tot die dubbele betaling van salarisse gelei. “Dit het my Kersdag heeltemal bederf, aangesien ek gedink het ek het derduisende foutiewelik uitbetaal. Ek was bang ek kom in die moeilikheid daaroor,” het een bestuurder aan BBC gesê. Hy sê Santander het ook nie enige inligting aan ondernemings verskaf oor hoe hulle dié fout aan hul werknemers moes verduidelik of hoe dit terugbetaal moes word nie. “Ek weet net glad nie hoe hulle hierdie geld gaan terugkry nie.”

Santander sê nou hulle sal met verskeie ander banke in Brittanje saamwerk om die geld in te vorder. Dié sal egter nie ʼn maklike taak wees nie, aangesien baie van die rekeninge by hul mededingers oopgemaak is.

Banke wie se rekeninghouers van dié geld ontvang het, het egter aan The Times gesê hulle sal huiwerig wees om die geld van hul kliënte terug te eis, indien dit reeds bestee is, aangesien dit die rekeninghouers se bankbalans in die rooi kan plaas.

Hierop het Santander gesê hulle kan ook die geld direk vanaf ander banke se rekeninghouers verhaal.

Santander het verskeie takke wêreldwyd. Die Britse tak het 14 miljoen rekeninghouers en het in die eerste drie kwartale van 2021 ʼn wins van meer as R20 miljard gemaak.

Bronne: BBC, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alexander

Wonder of daar nie dalk ‘n spookwerker of twee deur die krake sal val nie……….gebeur seker net in Suid-Afrika

Stofdonkie

‘n 2,7Miljard foutjie, en hulle het ‘n wins van meer as 20Miljard getoon vir die eerste 3 kwartale van 2021. Hulle kan dus darem die foutjie seker bekostig om vir hulle werknemers so meevallertjie te gee

Nie Verbaas

Betaal net nie n salaris einde Januarie nie. Ek glo dat elke persoon ten volle bewus is van sy/haar voordele by n maatskappy en ook ten volle ingelig sal wees oor n addisionele betaling. Geld moet andersins maandeliks verhaal word.