Wetenskaplikes sê Australië het Vigs geklop

Lloyd Grosse is 30 jaar gelede gediagnoseer en dokters het vir hom gesê hy het net drie jaar om te leef. Foto: ABC News: Stephanie Dalzell

Lloyd Grosse is 30 jaar gelede gediagnoseer en dokters het vir hom gesê hy het net drie jaar om te leef. Foto: ABC News: Stephanie Dalzell

Topwetenskaplikes in Australië het “die einde van Vigs” as ʼn openbaregesondheidskwessie in Australië aangekondig.

Navorsers sê die aantal Australiërs wat jaarliks met Vigs gediagnoseer word is nou só klein dat die era van dié dodelike sindroom nou verby is, het die ABC Sondag berig.

Wetenskaplikes van verskeie Vigs-navorsingsgroepe het aan die uitsaaier gesê die aantal Vigs-sterftes het van ongeveer 1 000 in die vroeë 1990’s tot byna nul gedaal.

“Ons monitor dit nie eers meer deesdae nie. Dit is ʼn oorgangsding vir meeste mense,” het prof. Andrew Grulich, hoof van die MIV epidemiologie- en voorkomingsprogram by die Kirby Institute, deel van die New South Wales-universiteit in Sydney, gesê. “Mense het Vigs en dan ondergaan hulle behandeling en dan het hulle nie meer Vigs nie.”

Alhoewel die stryd teen Vigs voortduur, het Grulich gesê die verandering in die voorkoms van Vigs is “niks minder nie as ʼn wonderwerk”. “Dit is so te sê afgehandel as ʼn openbaregesondheidskwessie. Die enigste gevalle wat ons deesdae van Vigs sien, is mense wat nie met MIV gediagnoseer word nie, so hulle kan nie behandel word nie.”

Prof. Sharon Lewin, direkteur van die Peter Doherty Institute, deel van die Melbourne-universiteit, het aan ABC gesê die anti-retrovirale medikasie het die speelvak verander – dit help iemand met MIV om ʼn lang en gesonde lewe te lei. “Ek het al ʼn dramatiese transformasie gesien van MIV van ʼn universele doodsvonnis tot ʼn chroniese, bestuurbare siekte.”

Don Baxter, internasionale beampte vir die Australiese Federasie van Vigs-organisasies, het aan die ABC gesê dit is noodsaaklik om lande te ondersteun wat nog nie die Vigs-epidemie onder beheer het nie. “Ons sien eintlik baie min lande wat die koers van besmetting verminder en ons sien nie die politieke wilskrag van daardie regerings soos ons in Australië beleef het nie.”

Bron: ABC, Kirby Institute, Peter Doherty Institute, Australiese Federasie van Vigs-organisasies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wern ·

Inderdaad het hulle vigs geklop want hulle beheer hulle grense, laat nie enige mense in nie.

keuses ·

Mooi en dankie doen so voort. SARegering kan dalk wenke optel. Dit word bewys….agv geen STAKING of BEDROG DIEFSTAL VAN MEDISYNE en KONSTANTE Harde samewerk-beplan-en deurvoering KOM SUKSES.

Pieter ·

As hulle dit in SA kom probeer en n suksesverhaal het, sal ek hande klap, nie waar hulle amper nooit iets daarmee te doen het nie, waar kinders in skole nie eers behoorlik weet wat dit is nie, en waar jy nooit advertensies of enige waarskuwings oor dit sien nie. Dis soos n non-existing siekte daar, waar jy hier by hordes wat dit het per dag verby stap en mee te doen kry. Nee wat, kom wys daai wenresep hier, dan praat ons weer, ek glo iemand gaan druipstert wegstap. Ons dink altyd ander lande is beter, slimmer ens, maar nee, ons het beter kennis hier, as daai al iets was, sou ons dokters, profs en al daai slimmes dit al gekry het, hulle staan terug vir geen land se geleerdheid nie, inteendeel glo ek hulle is by verre beter.

Johan ·

Jy kan die beste planne in `n ontwikkelde land uitvoer, maar in Suid Afrika wat `n derdewêreldse land is sal niks werk nie.Dit is nou maar net `n feit.

Edward ·

Yip. In SA word vigs sterftes nog weggesteek onder tuberkulose. TB = aids in SA.

KarooKlong ·

Baie geluk. Probeer nou iets doen aan diabetes wat ‘n baie groter probleem is.

lynette ·

Lol, Christo!!!! Australie hou niks van siektes nie, daarom sorg hulle dat hulle mense gesond bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.