Wetsontwerpe om groter outonomie aan Skotland en terselfdertyd aan Wallis en Noord-Ierland te gee, moet einde Januarie 2015 reeds voltooi wees.
Dit geskied ooreenkomstig beloftes van die leiers van Brittanje se drie grootste partye, sou die Skotte nié met hul referendum vir onafhanklikheid stem nie. Die Skotte het Donderdag uiteindelik teen onafhanklikheid gestem.
Dit is moeilik om presies vas te stel wat die inhoud van die uitgebreide outonomie is, en verskillende bronne noem verskillende aspekte. Een van die beloftes wat bekend is, is dat die Skotte nou volledige beheer sal verkry oor geld wat vir gesondheidsorg in Skotland beskikbaar gestel word. Die leiers het ook ooreengekom dat Skotland uitgebreide bevoegdhede vir die invordering van belasting sou kry.
Vroeër is berig dat die ooreenkoms tussen die partyleiers ook magte oor welsyn en werkskepping sou insluit, berig Mail Online.
Intussen berig die New York Times dat die Britse premier, David Cameron en self van Skotse herkoms, deur parlementslede in sy eie Tory-party verkwalik word vir die groter outonomie wat aan Skotland beloof is. Sommiges eis nou dat Engeland soortgelyke selfregerende magte, en ook sy eie parlement moet kry.
Bronne: Trouw, New York Times, Mail Online en Live Mint