WGO hou vol AstraZeneca-entstof is veilig

(Foto: Justin Tallis/AFP Photo)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê daar is nie enige rede om gebruik van AstraZaneca se Covid-19-entstof te staak nie ná verskeie lande dié inenting gestaak het uit vrees vir bloedklonte.

Die WGO, wat sy entstof- raadgewende komitee se veiligheidsdata ondersoek, het Vrydag benadruk dat daar geen oorsaaklike verband bestaan tussen die AstraZeneca-entstof en bloedklonte nie.

“Ja, ons moet voortgaan om die AstraZeneca-entstof te gebruik,” het Margaret Harris, woordvoerder vir die WGO, gesê. Sy benadruk dat enige kommer oor veiligheidskwessies ondersoek moet word.

Die Britse AstraZeneca-maatskappy hou ook vol die entstof is veilig en het gesê daar is “geen bewyse” dat daar ʼn hoër risiko vir bloedklonte is nie.

Ondanks verwagtinge dat entstof die weg sal baan om na normaliteit terug te keer, het Italië weer streng regulasies in die grootste deel van die land aangekondig. Eerste minister Mario Draghi het gewaarsku die land word deur “ʼn nuwe golf infeksies” in die gesig gestaar.

ʼn Jaar ná Italië die eerste Europese land geword het met ʼn groot uitbreking, sukkel die land weer met ʼn vinnige verspreiding van Covid-19. Dié keer word dit aangevuur deur nuwe, meer aansteeklike variante. Skole, restaurante, winkels en museums word in meeste streke, insluitend Rome en Milan, vanaf volgende week gesluit.

Disneyland Parys, een van Europa se grootste toeristebestemmings, het gesê hy sal nie op 2 April sy deure kan oopmaak, soos vroeër verwag is nie, aangesien gevalle hoog bly in Frankryk.

Die skadu oor die AstraZeneca-entstof dra by tot die Europese Unie se probleme om inentings toe te pas. Denemarke, Noorweë en Ysland het die inenting opgeskort as ʼn voorsorgmaatreël ná geïsoleerde gevalle van ontvangers wat bloedklonte ontwikkel het.

Italië en Oostenryk het ook die gebruik van verskeie versendings van AstraZeneca opgeskort. Thailand en Bulgarye het vandeesweek ook gesê hulle sal die inentings vertraag.

Indië is van voornemens om newe-effekte van die entstof te hersien, alhoewel geen gevalle van bloedklonte tot dusver hier aangemeld is nie, het die Hindustan Times Saterdag berig. “Die hersiening vind plaas as ʼn voorsorgmaatreël,” het NK Arora van die Indiese Covid-19-taakspan aan die koerant gesê.

Minstens vyf streke in Spanje het ook die gebruik van die AstraZeneca-entstof opgeskort van ʼn versending wat deur Oostenryk opgeskort is as voorsorgmaatreël.

Verskeie ander lande, insluitend Australië, het egter gesê hulle gaan voort met inentings, aangesien hulle geen rede gevind het om van plan te verander nie. Kanada het ook gesê daar is geen bewyse dat die entstof negatiewe reaksie veroorsaak nie.

Die EU se medikasie-reguleerder het gesê ernstige allergieë moet moontlik bygevoeg word tot moontlike newe-effekte van die AstraZeneca-entstof ná moontlike verbintenisse in Engeland aangeteken is.

Noodsaaklike rol in Covax

Die AstraZeneca-Oxford Covid-19-inenting is een van slegs twee wat tot dusver die WGO se goedkeuring wegdra. Die organisasie het noodgebruik toegestaan vir die AstraZeneca-weergawes wat in Indië en Suid-Korea vervaardig word.

Die enigste ander Covid-19-entstof met ʼn groen lig van die WGO word deur Pfizer/BioNTech vervaardig.

ʼn Besluit sal na verwagting later vandeesmaand gemaak word oor die enkele Johnson & Johnson-entstof. Uitsprake sal na verwagting later bekendgemaak word oor China se Sinopharm en Sinovac-inentings, tesame met die Moderna-entstof.

Die AstraZeneca-entstof is in byna alle dosisse gebruik in die eerste golf van die Covax- wêreldwye inentingskema. Alle entstowwe wat deur die fasiliteit ontplooi word, moet eers deur die WGO goedgekeur word.

Sowat 238,2 miljoen dosisse sal deur die program na 142 lande en streke versprei word teen die einde van Mei. Die program het ten doel om koronavirus-inentings toeganklik te maak vir armer lande. Die fasiliteit het reeds meer as 20 miljoen dosisse na 20 lande versprei.

Covax het ten doel om nog 14,4 miljoen Covid-19-dosisse vandeesweek na nog 31 lande te versprei.

Maroela Media het vroeër berig die VF Plus dring daarop aan dat die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, met Suid-Afrikaners oop kaarte speel oor die verkoop van die een miljoen dosisse AstraZeneca-entstof wat die regering in Januarie aangekoop het.

Dit kom ná mediaberigte dat Suid-Afrika steeds nie dié entstof, waarvoor hy miljoene rande opgedok het, verkoop het nie. Die entstof verval reeds in April.

Maroela Media het in Februarie berig dat die R120 miljoen se dosisse AstraZeneca waarmee die regering sy entstofplan sou afskop, nie effektief is teen die Suid-Afrikaanse variant van Covid-19 nie. Die regering het egter onderneem dat die geld wat gebruik is om die entstof mee aan te koop, nie vermors was nie, aangesien hy dit sal kan verkoop aan lande waar dié entstof wel doeltreffend sou wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

daniel ·

HIerdie entstof debakel klink vir my na een groot gemors en korrupsie op grootskaal waaraan die lande met korrupte regerings lustig meedoen.

Thom ·

Jy is welkom . Ek neem aan dat jy ook nie teen polio geïmmuniseer is nie ?

Thom ·

Jou agterwerke mag miskien verkoue wees maar Covid is nie . Die naasbestaandes van meer as 500 , 000 amerikaners sal ook van jou verskil .

Deon ·

Die een wat sy handtekening op die goedkeuring sit kan mos vir ons bewys dis veilig deur self die spuit te vat…. Waar n rokie trek is n vuurtjie

marius ·

J & J baba poeier was ook veilig . DDT ook . Tot op ‘n dag .

Jacobus ·

Lyk my as geld min raak is dit ‘n groter probleem as gesondheid. En die trombose reaksie is nie ‘n storie nie dis ‘n wetenskaplik gedokumenteerde reaksie. Die WGO het geen goeie beeld meer en moet dus stop om twak te verkondig.

Eend Bessinger ·

Wie probeer hulle ‘n rat voor die oë draai? “You can fool some of the people some of the time, but not all of the people all of the time!”

Jan ·

Die hele wêreld gevang met die grootste geldmaakfoefie ooit. Ent almal met entstof met newe-effekte wat boonop oneffektief teen nuwe mutasies is omdat hulle vinniger verskyn as wat entstowwe ontwikkel kan word, vir ‘n toestand wat 0,02% van die bevolking ernstig raak met ‘n herstelkoers van 99%.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.