WGO sê pandemie-sterftes is veel hoër

(Argieffoto: Ronny Hartmann / AFP)

Tot drie keer meer mense het gesterf weens die pandemie as wat deur amptelike Covid-19-sterftes aangedui is, het die Wêreldgesondheidsorgorganisasie (WGO) Vrydag gesê.

Tot dusver is meer as 3,4 miljoen sterftes wêreldwyd amptelik toegeskryf aan Covid-19 sedert die siekte vir die eerste keer in laat 2019 in China aangemeld is.

Volgens ʼn wêreldgesondheidstatistieke-verslag van die WGO het meer mense egter gesterf as wat andersins sou, as dit nie vir die pandemie was nie – óf weens Covid-19 óf omdat hulle nie behandeling kon kry vir ander siektes nie.

“Die totale sterftes is minstens twee of drie keer hoër as wat amptelik aangemeld is,” het Samira Asma, assistent- direkteur-generaal in bestuur van data by die WGO, aan verslaggewers gesê.

Die verslag het in 2020 bevind daar was minstens drie miljoen bykomende sterftes direk of indirek weens Covid-19, terwyl die amptelike syfer vir Covid-19-sterftes op sowat 1,8 miljoen gestaan het aan die einde van die jaar.

Op ʼn streekvlak staan bykomende sterftes vir die Amerikas op sowat 1,46 miljoen, en tot soveel as 1,21 miljoen in die Europese streek in 2020 – dit verteenwoordig 60% en 50% meer as die Covid-19-sterftes wat hier aangemeld is, het die verslag bevind.

Op ʼn vraag oor hoeveel bykomende sterftes vandag wêreldwyd aan die pandemie toegeskryf moet word, het Asma gesê “na raming sowat ses tot agt miljoen sterftes”.

Die WGO werk met lande “om ʼn begrip te kry van die werklike menslike tol van die pandemie sodat ons beter kan voorberei vir die volgende noodgeval”, het sy gesê.

Die teenstrydigheid word toegeskryf aan verskeie faktore, insluitend agterstallige aanmelding van Covid-19-sterftes in verskeie lande en dat talle mense vroeg weens Covid gesterf het sonder dat hulle getoets is.

“Dit het daartoe gelei dat talle van die amptelike Covid-19-statistieke laer is as die werklike syfer,” het WGO-data-analis William Msemburi aan verslaggewers gesê. “Daar is ook sterftes wat toegeskryf kan word aan die moeilike omstandighede waaronder baie mense wêreldwyd leef weens die pandemie.” Baie mense ly aan chroniese siektes of akute siektes en hulle kon nie behandeling ontvang nie of het nie toegang gehad tot gesondheidsorg nie, weens maatreëls wat ingestel is om die pandemie hok te slaan.

Die sosioekonomiese tol van afsonderingsperiodes en ander maatreëls het ook gelei tot ʼn beduidende toename in depressie en die WGO sê daar is tekens van hoër selfmoordsyfers in sommige dele van die wêreld.

“Deur te erken dat die Covid-19-syfers net ʼn breukdeel is van die volle impak, kyk ons na bykomende sterftes wat aan Covid-19 toegeskryf kan word vir die jaar 2020,” het Msemburi bygevoeg. Dit is grootliks die verskil tussen die getal sterftes wat daardie jaar plaasgevind het en die sterftes wat na verwagting sou plaasvind as daar nie ʼn pandemie was nie.

“Bykomende sterftes gee vir ons ʼn beter prentjie, omdat dit albei dié direkte en indirekte gevolge insluit.”

Dit is nog nie duidelik hoeveel van die bykomende sterftes van verlede jaar direk toegeskryf kan word aan die Covid-19-pandemie nie en die WGO probeer bepaal watter metode die beste sal wees om Covid-19-sterftes te identifiseer wat uitgelaat is.

Die WGO sê sy beramings is gebaseer op data-analise waar moontlik, maar ook statistieke modellering weens ʼn “kritieke datagaping” in talle lande, veral wat betref sterfteregistrasie.

Alhoewel meeste lande goed vaar daarin om geboortes te registreer, registreer slegs 40% van lande wêreldwyd minstens 90% van alle sterftes, het Asma bygevoeg. Daar is ook groot streek-teenstrydighede. Alhoewel 98% van sterftes in Europa geregistreer word, word slegs 10% van sterftes in Afrika jaarliks geregistreer, aldus die verslag.

Asma doen ʼn beroep op lande om daarin te belê om hul data- en inligtingstelsels op te knap. “Ons kon beter voorbereiding getref het met beter data,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jacobus ·

Semantiek. Veel meer sterftes weens die kriminele optrede in poging om pandemie te regverdig. Daar is ook talle sterftes aan Covid toegeskryf om statistieke laat klop.

annie ·

Antie Asma kan darem regtig nie alle sterftes aan covid wil toeskryf nie. WHO is skynbaar soos ons geagte minister vreeslik bang hul daaglikse tv-shows is binnekort klaar…

Dirk Mostert ·

Duimsuig statistiek (Soos die omgewingsinstansie wat beweer indringerplante en goggas kos Afrika $45b/jaar). Aangesien die publiek al afgestomp is vir die daaglikse prop….er…. nuus oor die plandemie, is dit nodig om die sensasievlak te verhoog. Vir die globale bevolking en lewensverwagting is 108miljoen sterftes per jaar (9m/maand)normaal. 3.4 Miljoen oor 17 maande = 200,000/maand (2.22%), waarvan die meeste covid-“verwant”. Daar kan maklik nog ‘n paar honderdduisend per maand geherallokeer word voordat 5% van sterftes behaal word.

Johan ·

Ek verstaan nie lekker wat jy sê nie Dirk? Die WGO swem nou met n vaart agteruit om hul foute weg te steek. Duimsuig soos almal moet 6voet uitmekaar wees, n week later word dit 1.5m, waar kom hul daaraan. Of dat mense wat nie sintome wys nie ander aansteek, daar is geen bewys daarvoor nie, maar almal lyk my glo dit. Of dat die regulasies n “weghol” virus keer, waar is die bewys daarvoor, dis snert. Duimsuig, duimsuig, duimsuig…moet dalk vir hul n fopspeen kry ;)

MakersMark ·

Nog steeds die domastrante argumente dat sosiale afstandhouding en dra van maskers CV19 nie bekamp nie. Die enigste fopspeen is vir die met ik van kinders. Toe die inperkings en CV19 voorkomings maatreëls ingestel is het die infeksie tempo afgeneem ? Gaan trek die grafieke as jy kan. En toe die inperkings gelig is het dit toegeneem ? Gaan doen die somme. Nasies waar dra van maskers en sosiale distansiëring nie toegepas was nie het weghol infeksietempo”s en massiewe sterftes gehad. SA het ‘n relatiewe swak gesondheidstelsel en kon skaars byhou met die 2 de golf. Gaan praat tog met iemand wat in ‘n CV19 hospitaal werk dan sal die sotlike aanmerkings dalk stop.

Johan ·

Ag wat ookal…Toe daar n totaal van 700 infeksies êrens in die reuse SA was, sit ons almal in ons huisies, hoekom noudat dit 3k per dag is hartloop dit nie weg nie? Is dit nodig om n diktatorskap te vestig net dat mense nie op mekaar moet nies nie? Hoe antwoord jy op Swede wat geen regulasies het nie, en hul gem. sterftes per jaar dieselfde was? Wat van Tanzanië, ek was twee weke terug daar, niks snaaks nie en geen regulasies nie. Maar die lig begin deurkom, wag maar, kom ASB nou maar oor die vrees, ent jou n paar keer in vir die vrees, jy kan myne ook maar kry, en beweeg aan.

MakersMark ·

Geen vrees die kant, genoeg verstand en logika om na myself om te sien. Werk ook elke dag, het sosiale interaksie met baie mense. En op my ouderdom gaan ek nog lank wag vir ‘n inenting as jou beurt opkom vat hom maar vir die wis en die onwis.

MakersMark ·

Jy weet natuurlik beter en het 10 000 ure ervaring in behandeling van virusse asook die statistiek en finansieele impak daarvan op die wêreldbevolking ? So die informasie wat deur nasies gerapporteer word is alles leuens volgens jou en jy adviseer die hele wêreld so ook ?

Johan ·

“…omdat hul nie behandeling kon kry vir ander siektes nie.”….dus a.g.v die lockdown en regulasies. Baie mense is weggewys by hospitale net omdat hul posigief toets, dit is krimineel. Die lig begin stadig deurkom, maar die verwoesting deer regulasies gaan voort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.