WGO twyfel nou of entstof die pandemie kan beëindig

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie in Europa was Vrydag pessimisties oor entstowwe se vermoë om ʼn einde te bring aan die Covid-19-pandemie, omdat nuwe variante die hoop op kudde-immuniteit laat vervaag.

In die lig van die moontlikheid dat die virus nog jare lank met ons sal wees, moet gesondheidsbeamptes nou “antisipeer hoe om geleidelik ons inentingstrategie aan te pas”, veral wat bykomende dosisse betref, het Hans Kluge aan verslaggewers gesê.

Die WGO-direkteur het in Mei gesê die pandemie sal verby wees “sodra ons 70% minimum dekking in inentings behaal”.

Op ʼn vraag deur die AFP of dié syfer steeds ʼn teiken is en of meer mense ingeënt sal moet word, het Kluge erken dat die situasie verander het weens nuwe, meer oordraagbare variante, soos Delta.

“Ek dink dit bring ons nader aan die punt dat die doel van ʼn inenting allereers moet wees om ernstiger siekte te voorkom. As ons in ag neem dat Covid deurlopend sal muteer en by ons sal bly, net soos griep, dan moet ons antisipeer hoe om ons inentingstrategie geleidelik aan te pas tot endemiese oordrag en waardevolle kennis insamel oor die impak van bykomende dosisse.”

Epidemioloë meen nou dit is onrealisties dat kudde-immuniteit bereik kan word slegs deur die gebruik van entstowwe, alhoewel dit steeds noodsaaklik bly om die pandemie te beheer.

ʼn Hoë inentingskoers is ook noodsaaklik “om druk te verlig op gesondheidsorgstelsels” wat desperaat ander siektes moet kan behandel wat na die agtergrond geskuif is weens Covid, sê Kluge.

Die Delta-variant is na bewering 60% meer oordraagbaar as die vorige dominante variant Alpha en twee keer meer oordraagbaar as die oorspronklike virus.

Hoe meer oordraagbaar ʼn virus is, hoe hoër is die koers om kudde-immuniteit te bereik, wat gebeur wanneer genoeg mense immuun is sodat die virus nie verder kan sirkuleer nie. Dit word behaal óf deur inenting óf natuurlike infeksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.