WGO waarsku oor ebola-getalle; ebola-verpleegster was op passasiersvliegtuig

'n Pasiënt met ebola in isolasie by die hospitaal in Dallas, Texas (Oktober 2014) Foto: USA Today

‘n Pasiënt met ebola in isolasie by die hospitaal in Dallas, Texas (Oktober 2014) Foto: USA Today

Die VN se Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) meen dat daar teen Desember tussen 5 000 en 10 000 nuwe ebola-gevalle per week in Wes-Afrika kan voorkom.

In hierdie stadium is daar in totaal minder as 10 000 gevalle, met sowat 4 447 sterftes in Wes-Afrika aangemeld, maar die WGO meen die huidige getalle word onderskat.

Die nuwe syfer word voorgehou as die bekampingspoging nie baie verbeter word nie. Pres. Barack Obama is een van die wêreldleiers wat ’n beroep op lande gedoen het wat oor die vermoë beskik om meer te doen om die siekte te help bekamp.

Nog slegte nuus is dat die sterftesyfer onder mense wat die siekte onder lede kry, tot 70% gestyg het. Dit is voorheen as 50% aangedui.

Intussen het die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) bevestig ʼn tweede verpleegster, wat positief vir ebola getoets het, het op ʼn kommersiële vlug gevlieg voordat sy enige simptome getoon het.

Die verpleegster het ook Thomas Eric Duncan, die eerste pasiënt buite Afrika wat met ebola gediagnoseer is, behandel. Sy het Maandagaand van Cleveland na Dallas gevlieg en die volgende dag met koors by die hospitaal opgedaag. Owerhede versoek haar 132 medepassasiers van Frontier Airlines om met die CDC in verbinding te tree.

“Ander persone wat in kontak was met haar, sal ook gemonitor word,” het beamptes bevestig.

Duncan (42) het ebola opgedoen toe hy in Liberië was en het een week gelede by ʼn hospitaal
in Dallas, Texas, gesterf. Gesondheidsowerhede het Sodnag bevestig een van die verpleegsters wat hom behandel het, het positief getoets vir ebola. Sy bly steeds in isolasie.

Intussen het ʼn 44-jarige Spaanse verpleegster, wat ook ebola buite Afrika opgedoen het, aan haar man gesê sy is bereid om weer pasiënte te versorg wat met die virus besmet is. Haar toestand is tans kritiek, maar stabiel. Sy het ʼn Spaanse sendeling versorg wat na Madrid gevlieg is nadat hy in Liberië met ebola besmet is. Die sendeling is oorlede.

Beamptes in Duitsland het Woensdag bevestig ʼn VN-werknemer wat by ʼn hospitaal in Leipzig, Duitsland gesterf het, se liggaam is veras. Die 56-jarige Moslem-man is op 9 Oktober na Duitsland gevlieg nadat hy ook ebola in Liberië opgedoen het. Alhoewel Islam verassing verbied, is die prosedure uitgevoer ter wille van publieke veiligheid.

Intussen het Mark Zuckerberg, die stigter van Facebook, en sy vrou $25 miljoen aan die CDC geskenk vir die stryd teen ebola.

Bronne: The Telegraph, CNN, Haaretz, SAPA-dpa

Lees alle vorige berigte oor ebola op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pop ·

Dis baie stil hier ter plaatse oor die ebola siekte. Behoede ons as dit hier uitbreek, ons het n derde wereld gesondheid sorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.