WGO waarsku oor gevare van e-sigarette

Argieffoto (Foto: Lindsay Fox/Pixabay)

Elektroniese sigarette en soortgelyke toestelle is gevaarlik vir mens se gesondheid en moet gereguleer word om die tabakbedryf se taktiek te beheer wat jongmense verslaaf maak aan nikotien, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Dinsdag gewaarsku.

“Nikotien is hoogs verslawend. Elektroniese nikotienstelsels (ENDS) is skadelik en moet beter gereguleer word,” het Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die WGO, gesê.

Die WGO-verslag oor die Wêreldwye Tabak-epidemie 2021, wat op nuwe produkte gefokus het, is Dinsdag gepubliseer en sê ENDS moet baie streng gereguleer word vir maksimum beskerming van openbare gesondheid.

“Waar dit nie verbied word nie, moet regerings behoorlike beleide in plek stel om hul bevolking te beskerm teen die gevare van ENDS en om te voorkom dat kinders, tieners en ander kwesbare groepe dit begin gebruik,” het Ghebreyesus bygevoeg.

Volgens die Verenigde Nasies se gesondheidsagentskap se agtste jaarlikse verslag teiken ENDS-vervaardigers gereeld jongmense met duisende aanloklike geure – die dokument het 16 000 geure aangedui – met gerusstellende verklarings.

Michael Bloomberg, voormalige burgemeester van New York en die WGO se wêreldwye ambassadeur vir nieoordraagbare siektes, het gesê daar is steeds sowat 1 miljard rokers wêreldwyd.

“Soos wat sigaretverkope gedaal het, het tabakmaatskappye hul nuwe produkte aggressief begin bemark – soos e-sigarette en toestelle wat die tabak verhit, met versoeke aan regerings om hul regulering te beperk,” het hy gesê. “Hul doelwit is eenvoudig: om ʼn nuwe generasie verslaaf te kry aan nikotien. Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.”

Die gesondheidsagentskap is veral besorg oor mense jonger as 20 wat e-sigarette gebruik weens die gevaarlike effek van nikotien op breinontwikkeling. Die WGO glo dat kinders wat dié toestelle gebruik, waarskynlik ook later in hul lewe sal rook.

Die regulering van sulke produkte is egter nie noodwendig voor die hand liggend nie, omdat die produkreekse baie divers is en gereeld verander, sê Ruediger Krech, direkteur van die WGO se departement oor die bevordering van gesondheid.

“Om ʼn verskil aan te dui tussen produkte wat nikotien bevat en produkte wat nie nikotien bevat nie, of selfs produkte wat tabak bevat, is byna onmoontlik. Dit is een manier hoe die bedryf tabakbeheermaatreëls omseil en ondermyn.”

Die WGO beveel aan dat regerings alles in hul vermoë doen om nierokers te verhoed om e-sigarette te begin gebruik – uit vrees dat rook in die samelewing “weer genormaliseer word”.

Die verslag het bevind 32 lande het die verkope van ENDS verbied. Nog 79 het minstens een gedeeltelike maatreël ingestel om die gebruik van sulke produkte in openbare plekke te verbied, die bemarking, bevordering en borgskap daarvan te verbied, of te vereis dat gesondheidswaarskuwings op die verpakking verskyn.

“Dit laat steeds 84 lande waar dit op geen manier gereguleer of beperk word nie,” het die WGO bygevoeg.

Die organisasie benadruk dat pogings, om e-sigarette te reguleer, nie die aandag moet aftrek van die stryd teen rook nie. Alhoewel rokers proporsioneel in talle lande afgeneem het, beteken bevolkingsgroei dat die getal rokers “hardkoppig hoog bly”.

“Tabak eis minstens 8 miljoen mense se lewens per jaar, insluitend een miljoen weens tweedehandse rook.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blomme

Plaas ook hierop ń verbod.

Elizabeth

Hoe wil hulle dit STOP? Nog ñ swartmark skep ? Mense wat wil rook sal rook en die wat dronk wil word sal dronk word ongeag hoe en wie hulle probeer stop.. kry sal hulke dit kry. Net soos in lockdown.

Persheks Adri

Ek rook self en ja dis nie goed nie ek weet en as ek kon sou ek nooit begin het nie… Dan rook ek eerder in vrede by my huis buite nie in my huis of voertuie of naby ander mense nie.

Ten minste is ek nie ‘n dronkaard wat ander se lewens verwoes nie!!!

deHAS

Wat is ‘vaping dry herb?

Gerhard

Mense (of volwassenes) kan self besluit of hulle wil rook of vape of watookal. Een probleem wat ek het is dat van ons familie vape en as ons bymekaar is glo verwag hulle van die res van ons dat ons ok daarmee moet wees as hulle tussen ons kinders rook (want dis mos vape en nie regte rook nie en daarom nie verslawend nie en gesond en jy kan in die donker sien en jy kan agteruit spel ek weet nie watse snert hulle nog glo nie). Tweedens, wat ek ook sien is dat E-sigarette aan die mense se hande… Lees meer »