Wham-sanger George Michael oorlede

George Michael (Oktober 1993) Foto: AP Photo/Alistair Grant)

George Michael (Oktober 1993) Foto: AP Photo/Alistair Grant)

George Michael, die Britse popster met treffers soos “Last Christmas”, is Sondag op Kersdag in die ouderdom van 53 oorlede.

Michael het by sy huis in Goring, Engeland, weens hartversaking gesterf, het sy bestuurder, Michael Lippman, gesê.

Sy publisiteitsbeampte Cindi Berger het gesê hy was nie siek gewees nie.

Die familie het deur Thames Valley-polisie ʼn verklaring uitgereik om te bevestig dat hy oor die Kersperiode vreedsaam tuis gesterf het. “Die familie versoek dat hul privaatheid tydens hierdie moeilike en emosionele tyd gerespekteer word. Geen verdere kommentaar sal in hierdie stadium gelewer word nie.”

“Ek het ʼn geliefde vriend verloor, die goedhartigste, vrygewendste siel en ʼn briljante kunstenaar,” het Elton John op Instagram geskryf.

Michael, gebore Georgios Kyriacos Panayiotou, het saam met Andrew Ridgeley bekendheid verwerf as Wham!. Hy was in die 1980’s en 1990’s bekend vir sy post-disco dans-pop-styl met treffers soos “Last Christmas” en “Wake Me Up Before You Go-Go”.

Hy het wêreldwyd meer as 100 miljoen albums verkoop. Sy debuut solo-album in 1987, Faith, het wêreldwyd meer as 20 miljoen albums verkoop.

Hy was sewe keer in die eerste plek in die Verenigde Koninkryk en agt keer in die eerste plek op die Billboard Hot 100 in Amerika, insluitend “Careless Whisper” en “Freedom!”.

Hy word beskou as een van die beste Britse kunstenaars van alle tye en Billboard-tydskrif het hom in die 40ste posisie geplaas op die lys van mees suksesvolle kunstenaars wat ooit geleef het.

Hy het verskeie musiektoekennings deur sy loopbaan van 30 jaar ontvang, waaronder twee keer ʼn Grammy-toekenning.

Hy het ook duette opgeneem saam met onder andere Aretha Franklin, Ray Charles, Luciano Pavarotti en Elton John.

Sy dwelmgebruik en losbandige lewenstyl het hom deur sy loopbaan gereeld met die reg laat bots, waaronder in 1998 toe hy in hegtenis geneem is vir onsedelike blootstelling in Los Angeles. Hy het spot gedryf met die voorval in ʼn liedjie, “Outside”. Sy erkenning van sy homoseksualiteit het hom in hierdie stadium selfs nog meer gewild gemaak by sy aanhangers.

Michael was bekend vir sy styfpassende denims en swart T-hemde, swart leerbaadjie en ontwerper-stoppelbaard.

Michael is ʼn paar keer aangetref waar hy oor sy stuurwiel sy bewussyn verloor het as gevolg van die gebruik van marijuana en voorskrifmiddels. Sy rybewys is uiteindelik in 2010 vir vyf jaar opgeskort toe hy met sy Land Rover in ʼn Snappy Snap-fotowinkel vasgery het.

Ondanks hierdie terugslae het Michael se musikale optredes net so sterk gebly, al het sy materiaal ʼn meer volwasse styl aangeneem, ver verwyder van die tienerwysies wat hom bekend gemaak het.

Madonna het op sosiale media geskryf: “Vaarwel my vriend! Nog ʼn groot kunstenaar verlaat ons. Kan 2016 nou net f**of?”

Musieksterre Prince en David Bowie is ook in 2016 oorlede.

Bryan Adams het op Twitter geskryf: “RIV George Michael. Ek kan dit nie glo nie. So ʼn ongelooflike sanger en ʼn lieflike mens, gans te jonk om ons te verlaat.”

Ellen Degeneres het gesê: “Ek het sopas gehoor van my vriend George Michael se afsterwe. Hy was ʼn briljante talent. Ek is so hartseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kalla van Niekerk ·

Dit was verseker sy Last Christmas……

Groete Kalla

MARINDA MUNNIK ·

RIV Michael, my was een van my grootste gunstelike musieksterre. So talentvol my hart is seer. Het al sy solo musiek!

Savethetigerplz ·

RIP Michael, jy was een van my gunsteling sangers

Annakapat ·

Wow! Was mal oor Wham! in my tienerjare – hy was baie sexy … hartseer dag. Sterkte vir die familie en vriende.

Andrea ·

Sal Michael en sy musiek altyd assosieer met my universiteitsjare. Wonderlike sanger. Heeltemal te jonk om nou al te moes gaan :(

my tweesent bydrae ·

Party sangers se musiek was deel van mens se lewe . George Michael was so n sanger . Slaap rustig .

Bokkie ·

Sy liedjie Careless Whisper sal vir altyd my gunsteling wees.Hy was verseker n goeie sanger.

Jaco Grobler ·

Ek wonder of die rympie ‘Respekteer asb. privaatheid’ al ooit gewerk het by die sterre? Dis soos om ‘n tol wors van die braai af te laat val en dan vir Wagter in braille te laat weet hy moet asb. uitlos.

Koos1 ·

Net gister sê ek vir my beterhelfde, “Ironies genoeg het die harde baarde wat in my kinderdae as satanisties beskou is, nogal heel behoue gebly, met al hulle dwelms ens. Dink maar aan Alice Cooper, die ouens van ACDC, Metallica ens. Nou lyk dit vir my asof die die ballade sangers meer dwelm probleme het as wat hulle wil erken, of wil bekend maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.