WhatsApp slaan vure dood oor nuwe beleid

(Foto: Justin Sullivan/Getty Images)

WhatsApp het vandeesweek vure doodgeslaan nadat gebruikers die afgelope week hul misnoeë te kenne gegee het oor dié diens se nuwe beleid met betrekking tot die inwin van hul persoonlike inligting.

“Ons kan nie jou private boodskappe sien of oproepe hoor nie en Facebook ook nie,” het die gewilde boodskapdiens verseker nadat talle gebruikers gedreig het om van alternatiewe dienste gebruik te maak.

WhatsApp het nou weer benadruk dat hy geen rekord hou van wie almal boodskappe op dié platform stuur of wie bel nie.

“Ons kan nie jou gedeelde ligging sien nie en Facebook ook nie.”

’n Herrie het gevolg nadat dit bekend geword het dat Facebook beoog om WhatsApp te gebruik om ʼn inkomste te verdien deur ondernemings toe te laat om sy klante via die platform te kontak en produkte selfs regstreeks aan hulle te verkoop. Sou gebruikers nié die beleid aanvaar nie, sal hulle nie meer belangrike funksies van dié app kan gebruik nie.

Volgens WhatsApp bied hy bloot aan ondernemings die opsie om veilige dienste van Facebook te gebruik om WhatsApp-boodskappe met hul klante te bestuur, vrae te beantwoord en nuttige inligting soos koopbewyse aan te stuur.

“Of jy nou telefonies, per e-pos of WhatsApp met ʼn onderneming kommunikeer, die ontvanger van die boodskap kan sien wat jy sê en kan dié inligting vir sy eie bemarkingsdoeleindes gebruik, wat advertensies op Facebook kan insluit.”

Adam Mosseri, hoof van Instagram, sê “baie vals inligting” rakende WhatsApp se nuwe beleid word versprei.

“Die beleid beïnvloed op geen manier die privaatheid van gebruikers se boodskappe met vriende of familie nie,” sê Mosseri.

Ander platforms soos Telegram beleef intussen ’n toename in gebruikers wat by dié platforms aansluit.

Pavel Durov, Russies gebore stigter van Telegram, het Dinsdag gesê 25 miljoen nuwe gebruikers het in die afgelope 72 uur by dié app aangesluit. Telegram het sedert begin Januarie meer as 500 miljoen aktiewe maandelikse gebruikers.

“Mense wil nie meer hul privaatheid verruil vir gratis dienste nie,” meen Durov.

Maroela Media het vroeër berig ander platforms soos Telegram blyk egter nie ʼn foutlose alternatief te bied nie.

Kenners met wie Maroela Media gesels het, sê WhatsApp se nuwe beleid hou geen noemenswaardige gevolge vir gebruikers in nie, veral omdat die inhoud van boodskappe steeds privaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Eugene ·

Onthou Facebook soek al jou inviting qat jy op Whatsapp gebruik agter die skerms gebeur dinge wat jy nie van weet!!

Vrijburger ·

Te laat te laat!!! Ek het reeds Signal op my foon gelaai.
Dit sal ‘n heuglike dag wees wanneer Google, Whatsapp, ens uit my lewe uit is.

henndrik ·

Ek is weg by hulle want ek hou nie daarvan dat ek iets moet aanvaar of gaan nie en Facebook se beleid van waarheid verwyder en leuens te versprei staan my ook nie aan nie

JJ ·

Sogenaamde kenners…. hulle verstaan nie die onderliggende beginsels nie. Ons wil nie facebook se produk wees nie

Herman ·

Te laat! Gaan lees vir julle self op WA se eie blad wat hulle beplan.Hulle weerspreek hulself sleg.Konsentreer op die laaste drie paragrawe…wanneer iemand tot my selfoon se imei nr,ligging,seinsterkte ens wil insamel en soedoende geld uit my maak dan sê ek nee.

Peetjie ·

Waar n rokie trek is n vuurtjie… Hoekom nou skielik so wal gooi?

Riaana ·

Klaar by signal aangesluit, dit gaan ni lank wees Dan is ons gewoond aan die klein verandering, maar whatsapp gaan hul polse afkou vir hierdie hengse vermakirige foutjie, nou Kan hulle hul self gaan dreig… Aanvaar of…. Of wat whatsapp, julle het ons nodig nie ons julle nie, dalk moes julle eers dink voor julle begin dreigemente rond slinger….

koekoes ·

Signal ook aangesluit en hy is vir my beter as Telegram. telegram nie so goed vir kinders nie as jy op telegram is kan mense om jou met jou chat “People nearby” Jy is nie baie privaat nie. Moya ook nie te sleg nie. Is klaar met Whatsapp en gaan nie gou terug nie.

Miskruier ·

Ek dink dis goed dat daar meer rolspelers kom, FB is te magtig.

Vriendelike Frikkie ·

Hierdie sal ook in die geskiedenis afgaan as een van die grootste flaters wat ‘n bemarkingspan kon maak. Al die inligting wat hulle wil hê kan hulle reeds by Google koop. Google versamel data konstant terwyl jou foon aan is.

Eend Bessinger ·

Ek gebruik WhatsApp deesdae bitter min. Telegram is duisend keer beter. EN ek kan dit in my “browser” gebruik sonder ‘n app as dit moet. Ek is oorweeg dit ook om my “browser” te verander want Chrome gebruik te veel geheue.

Dirk ·

Hoe kan die publiek op die woord gaan van ‘n whatsapp verteenwoordiger wat nou beloftes maak terwyl Mark Zuckerberg voor’ n kommissie van ondersoek geweier het om statistieke en feite oor whatsapp en Facebook bekend te maak.

Nie Verbaas ·

Jammer vir jou Mark Zuckerberg. Verduidelikings nou teenstrydig met oorspronklike beleid. Klaar oor na Signal en glad nie op Facebook nie. Stel ook nie belang in “kenners” se mening nie.

Willie ·

Ek wonder net hoeveel mense wat bekommerd is oor die hele Whatsapp petalje, gebruik luidsprekers wat luister by die huis?

Sonia ·

Dit gaan nie net oor die privaatheid van ons boodskappe nie, dit gaan onder andere ook daaroor dat JOU (duur) data gebruik gaan word om advertensies op JOU foon af te laai – jy betaal sodat hulle hulleself uitermate gaan verryk en dít word nie deur die sogenaamde kenners uitgespel nie, , tipies! Verder wat betref kinders wat Telegram op hulle fone het en sodoende pornografie kan sien is net so skynheilig want kinders kan allerhande toepassings op hulle fone aflaai vir dieselfde doel – en verder, wat nie goed en voordelig is vir kinders nie is ook nie goed en voordelig vir volwassenes nie!

BRBR ·

Mense wil net met mekaar kommunikeer. In vandag se tyd is dit baie maklik, en dit behoort geensins nodig te wees vir iemand om enigsins na jou privaatheid te neig nie. Dit maak nie regtig saak hoe noemenswaardig, of nie, hulle glo die gevolge is nie. Daar is gelukkig geen tekort aan alternatiewe nie.

Jax ·

My onderwyser het altyd gesê : leë pyp maak toe jou kraan!
Ek het reeds whatsapp en Facebook verwyder. Hulle gebruik beslis jou info bet soos hulle lus het. Hulle verkoop selfs jou inligting aan ander partye. Daai simpel oproepe wat jy kry van “unknown” en jou epos adres wat meer gemorspos kry as enige iets anders, is reeds n bewys daarvan. Mense word woes ge-“scam” op hierdie wyse.
Ons gaan steeds ons info deel maar net minder. Dis soos mense wat in n sekuriteits-oord bly en/of sekuriteitsdeure en hekke opsit. Mens maak dit net moeiliker vir inbreek tov jou privaatheid en jou besittings – of dit nou info op sosiale media is en of dit nou jou huis en jou besittings is.
Dis so eenvoudig. Ek het n lewensmaat wat in die IT wêreld werk en juis baie betrokke is oor veilige web-gebruik. Ons het beide signal afgelaai omdat die platform baie meer gerig is om ons privaatheid te beskerm.
Each to their own, anyway.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.