Wie op 6 November gaan wen en waarom

Weens my passie vir die Amerikaanse politiek vra mense my gereeld wie ek dink die volgende Amerikaanse president gaan wees. Sal Barack Obama se glans genoeg verdop het om op 6 November uitgeknikker te word en sal Mitt Romney homself goed genoeg aan Amerikaners bekend gestel het sodat hulle ‘n sittende president vir ‘n nuwe vars ‘sakemanagtige’ president sal verruil?

Ek doen sedert vroeg in 2012 gesprekke hieroor op Radio Pretoria en ek onthou dat ek reeds in Februarie voorspel het dat Obama se kanse om herkies te word omtrent 60% is. My redes daarvoor is hoofsaaklik gebaseer op Obama se persoonlike gewildheid, die vermoëns van die twee kandidate se veldtogte om ‘n sterk boodskap te kommunikeer en uiteindelik so goed op grondvlak te organiseer dat meer as 60 miljoen kiesers vir jou kandidaat gaan stem en derdens die demografiese veranderinge in die VSA.

Sedert daardie radio-onderhoud in Februarie is Mitt Romney in ‘n bloedige stryd uiteindelik as die Republikeinse Party se presidentskandidaat aangewys, kon Obama ‘n voorsprong in organisering en fondsinsameling kry en het die Demokrate ‘n beter konvensie as die Republikeine aangebied. Erens deur dit alles word ‘n video ook nog bekend waarop Romney voor topdonateurs in ‘n privaatwoning in Florida die opmerking maak dat 47% van Amerikaners afhanklik is van die staat en dus nie vir hom sal stem nie. ‘n Opmerking wat nie juis feitelik verkeerd is nie, maar wat hom as ‘n ryk politikus wat uit voeling met ‘n groot deel van kiesers is, laat lyk het. Teen laat September het my voorspelling dus in die kol, maar dalk selfs te konserwatief gelyk en het baie kommentators vir Mitt Romney begin afskryf.

Ek toe kom Oktober. Daar is ‘n reël in die VSA dat baie verkiesings in Oktober gewen of verloor word. Op 3 Oktober vind die eerste debat tussen Obama en Romney plaas en ‘n nuwe energieke Romney vol idees, sterk beleidsargumente en ‘n skerp aanval op die eerste vier Obama-jare kom te voorskyn. In teenstelling daarmee lyk Obama geïrriteerd en nie lus vir politieke debatte nie. Binne dae na die debat begin Romney gelyktrek met Obama in peilings en in sommige begin hy selfs voorloop. Sy veldtog kry nuwe energie en sy organisering op grondvlak verbeter dramaties soos wat duisende konserwatiewe kiesers as voetsoldate begin aanmeld.

Sedert die eerste debat sien ons ook ‘n debat tussen die twee adjunkpresidentskandidate wat eerder onthou sal word vir die vreemde gesigsuitdrukkings en lagbuie van Joe Biden (huidige adjunkpresident), as vir enige ander rede. Vroeër hierdie week was die tweede debat tussen Obama en Romney en hoewel Obama baie beter gevaar het, was Romney steeds op ‘n goeie spelpyl en het die debat hoofsaaklik bevestig dat hierdie verkiesing die interessantste sedert 2000 sal en gaan wees.

Eerskomende Maandagaand vind die laaste debat tussen Obama en Romney plaas. Dit fokus op buitelandse sake en ‘n ‘n geleentheid vir Romney wees om Obama aan te val oor sy hantering van die terroriste-aanval in Libië terwyl dit vir Obama ‘n geleentheid sal wees om te spog met sy span se suksesvolle uitknikkering van Osama Bin Laden. Indien beide by hul standpunte bly en steeds goed debatteer behoort die debat nie veel te verander aan die aard van die verkiesingstryd nie.

Dit laat ons dan met twee weke van harde veldtogte waar die fokus sal verskuif na die moeisame proses om op 6 November soveel as moontlik van jou ondersteuners by die stembus te kry. Die vorige twee presidentsverkiesings het vir ons gewys hoe belangrik ‘n goeie grondvlakorganisasie is. In 2004, toe ek self by ‘n veldtog betrokke was, was dit duidelik dat Bush se 1 mijoen+ vrywilligers eenvoudig die oorhand gehad het en dat die sukses van ‘n veldtog waarin die twee kandidate nog dae voor die verkiesing gelykop in peilings was, juis Bush se vermoë was om mense by die stembus te kry. Vier jaar later in 2008 gebeur twee goed: Miljoene konserwatiewe kiesers bly by die huis en weerhou hul stem en Obama slaag met ‘n meesterlike grondvlakveldtog daarin om rekordgetalle van sy kerndemografie (jongmense en kiesers van etniese minderheidsgroepe) by die stembus te kry.

Terug by die vraag oor wie vanjaar se verkiesing gaan wen. Ek bly by my ontleding van Februarie dat Obama ‘n 60% kans het om herkies te word ten spyte daarvan dat Gallup (een van die mees gerespekteerde peilingsagentskappe in die VSA) in ‘n peiling gister wys dat Romney met 7% voorloop. Twee ander peilings wat op dieselfde dag uitgekom het stel die kandidate presies gelyk terwyl nog ‘n peiling Romney met twee persentasiepunte voor plaas.

Hierdie peilings is redelik onbelangrik omdat dit kiesers op ‘n nasionale vlak toets, terwyl presidente in die VSA nie verkies word op grond van wie die meeste stemme kry nie, waar wel volgens ‘n kieskollege waar elke staat volgens die laaste sensus ‘n aantal afgevaardigdes verkies en kandidate dus die regte kombinasie van state moet wen. In totaal is daar 538 afgevaardigdes en afgevaardigdes word in meest state in totaliteit toegeken aan die kandiaat wat die betrokke staat wen. Kalifornië is die staat met die meeste afgevaardigdes (55) en Obama weet reeds dat hy al 55 stemme in sy kolom kan plaas. Vir ‘n kandidaat om die verkiesing te wen moet hy dus 270 of meer stemme in die kieskollege op hom verenig. Indien die twee kandidate gelykop eindig (wat heeltemal moontlik is) kies die Huis van Verteenwoordigers die volgende president.

My antwoord dus vandag aan mense wat vir my vra wie gaan die verkiesing wen: Waarskynlik Obama, sou hy daarin slaag om nie nog ‘n swak debatoptrede te lewer nie en sou hy wel daarin slaag om jong kiesers (onder 35), swart kiesers en kiesers van Latyns-Amerikaanse-afkoms in groot getalle by die stembusse te kry. Dit beteken egter glad nie dat Romney afgeskryf moet word nie. Hy het die afgelope twee weke bewys dat Obama verslaan kan word, maar ons sal moet sien of sy verbeterde prestasie nie te min te laat is nie.

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae