Wikipedia-verbod dalk gou opgehef in Turkye

Die logo wat vertoon is ná die twee jaar herdenking van die verbod met die boodskap “Mis jou al twee jaar” (Grafika: Wikimedia Foundation)

Die konstitusionele hof in Turkye het Woensdag ʼn verduideliking gebied oor sy uitspraak in Desember wat bepaal het dat die twee jaar lange verbod op Wikipedia ʼn oortreding is van die reg op vryheid van uitdrukking.

Die publikasie van die uitspraak in die amptelike staatskoerant baan die weg dat toegang tot die aanlyn ensiklopedie in die land kan hervat. Dit moet egter eers na die Inligtings- en kommunikasietegnologieowerheid (BTK) verwys word voor die verbod opgehef kan word.

Wikipedia word al sedert April 2017 in Turkye verbied weens inskrywings wat krities is teenoor die Turkse regering, insluitend beweerde verbintenisse met jihadvegters in Sirië. Wikipedia het intussen meeste van die inhoud reggestel of verwyder, het die konstitusionele hof bevind en die verbod is dus nie meer geregverdig nie.

Daar is meer as 330 000 artikels in Turks op Wikipedia en sedert Julie 2019 het die Turkse Wikipedia meer as 1 miljoen geregistreerde gebruikers, aldus die hofuitspraak. Inhoud in Turks is reeds meer as 20 miljoen keer bygewerk.

Yaman Akdeniz, ʼn internetregte-aktivis en professor in regte aan die Bilgi-universiteit in Istanboel, het aan die dpa-agentskap gesê die verwagting is dat toegang tot Wikipedia binne 24 uur beskikbaar gemaak sal word.

Die Wikimedia-stigting, die niewinsgewende organisasie wat Wikipedia huisves, het in Mei 2017 in die konstitusionele hof appèl aangeteken teen die staatsverbod.

Turkye het in die verlede ook al ʼn verbod geplaas op YouTube en Twitter terwyl meer as 288 000 webwerwe steeds in die land verbied word, aldus Akdeniz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Dit wil sê Wikipedia moet die waaarheid verdraai net om skere mense gelikkig te maak. Hierna kan jy absoluut niks wat op Wikipedia geplaas word glo nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.