Wimbledon besluit oor Russiese spelers

Daniil Medvedev. Foto: Paul Crock/AFP.

Dit is amptelik.

Spelers van Rusland en Belarus sal nie toegelaat word om by vanjaar se Wimbledon-toernooi af te slaan nie.

In ’n verklaring het organiseerders van die gewilde tennistoernooi in Engeland Rusland se militêre optrede in Oekraïne veroordeel.

“Ons het alles noukeurig én in konteks van ons verantwoordelikheid jeens die spelers, die gemeenskap en lede van die Britse publiek oorweeg. Gegewe die hoë profiel van Wimbledon – nie net in die Verenigde Koninkryk nie, maar ook wêreldwyd – is dit ons plig om ons deel te doen om Rusland se globale invloed deur die sterkste middele denkbaar te beperk.”

Die verbod beteken dat sterspelers soos Daniil Medvedev en Andrey Rublev nie deel van die aksie sal wees nie.

“In die lig van sulke onregverdige en ongekende militêre aggressie, sal dit onaanvaarbaar wees vir die Russiese regime om enige voordeel te trek uit die betrokkenheid van Russiese of Belarussiese spelers by die toernooi.”

The Telegraph het vroeër berig dat daar gevrees word dat pres. Wladimir Poetin ’n aansienhupstoot kan kry indien ’n speler uit een van dié  twee lande met die titel sou wegstap.

“Daarom is dit, weliswaar tot ons spyt, ons voorneme om die inskrywings van Russiese en Belarussiese spelers te weier.”

In reaksie op die  aankondiging het Novak Djokovic, die wêreld se voorste manstennisspeler, die situasie as betreurenswaardig bestempel.

Novak Djokovic. Foto: Peter Nicholls/AFP.

“Ek sal altyd oorlog veroordeel; ek was immers self ’n kind in ’n oorloggeteisterde gebied. Ek weet hoeveel emosionele trauma dit veroorsaak. In Serwië is ons almal maar net te bewus van wat in 1999 gebeur het, terwyl daar in die onlangse geskiedenis baie oorloë in die Balkan-omgewing was.

“As speler kan ek egter nie hierdie besluit van Wimbledon ondersteun nie; ek dink trouens dat dit malligheid is. Die spelers het immers niks met die oorlog uit te waai nie; wanneer politiek met sport inmeng, is die uiteinde nooit goed nie,” het die Serwiese ster gesê.

Die 26-jarige Medvedev het ook al vantevore vir vrede gepleit nadat Rusland Oekraïne ingeval het.

Hy het ná die eindstryd van die Australiese Ope ’n storie oor sy kinderjare vertel en hoe hy van tennisglorie gedroom het.

“Vandag wil ek egter namens elke kind in die wêreld praat. Hulle het soveel drome en nuwe dinge om te ervaar; daarom vra ek vir vrede in die wêreld en vrede tussen lande.

“Kinders het ongelooflike vertroue en hulle is so onskuldig – hulle glo in mense, in liefde, vryheid en regverdigheid. Kom ons staan saam en wys vir hulle dat dit inderdaad so is, want kinders moet nooit ophou droom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johann ·

Ek stem nie saam nie hoekom moet die Tennis spelers gestraf word oor die dade van hulle land, hulle stem dalk nie eens noodwendig saam met die regering om vir Okraine in te val nie, persoonlik dink ek dit is baie kortsugtig van die organiseerders van Wimbildon om so drastiese stap te neem nie voor hulle al die inligting gekry het nie.

wat in Okraine gebeur is afgryslik maar om n hele land se mense te straf vir wat sy leiers doen is ook nie reg nie meeste russiese burgers is teen die inval.

anniekiewiet ·

Regtig? Wat het sportsterre en kunstenaars soos Anna Netrebco met hul land se siek leiers te doen? Almal weet nou al van die oorlog en geen deelname van enige iemand uit Rusland sal die oorlog verleng of stop nie.

Josua ·

Stem saam jou ons moes dit vir baie jare voor 1994 beleef het in SA almal was as wereld kampioene gekroon maar ons kon nooit n punt bewys het nie. Politiek en sport het niks met mekaar te doen nie maar Regerings gebruik dit om hul punt te wys en het nie n saak met die sportmense wat dit doen vir n lewe nie.

Tom ·

Ek voel jammer vir hul sportlui maar dis maar hoe dit is, politieke inmenging is altyd tot nadeel van sportmanne en vroue, in ons apartheidsjare kon ons nêrens deelneem nie ???????? nou is dit die Russe se
beurt. Daar word lokaal teen ons sport deelnemers gediskrimineer net agv hul velkleur en eie opinies, hoe pateties! Is daar enige verskil? Nee – net die flippen stupid rassistiese swart politici, wit politici het nooit sportlui van kleur gestop om deel te neem nie. Russe, julle het jul regering en Putin ingestem-kry vir julle!!!

Josua ·

Dries ek weet nie na wie jy verwys nie maar as dit Putin is wil ek by jou weet, wat dink jy sou in die volgende vyf jaar gebeur het as hy nie Ukraine ingeval het nie, skielik hoor jy minder van Covid behalwe hier by ons maar die res van die wereld het reeds begin ontrek en masker dra en vaksiene begin opskort en jy het nog nooit gewonder waarom nie, wel of jy nou van Putin hou of nie my friend hy het bygedra dat n groot deel van die boosagtige mense, labratoriums en onderduimse planne blood gelê word. One het nie eens meer n behoorlike weermag nie maar wat sou jy gedoen het as jy bewyse ingewin het vir ‘n chemiese oorlog en dat alles op jou landsgrense beplan word wat sou jy gedoen het so hou op om na net die eenkant te luister en dink bietjie verder ek sê nie ons moet Putin omhels nie maar die Ukraine se President het die grootste deel aan die oorlog omdat hy korrup is en geld sy ondergang en sy mense se veiligheid in gevaar gestel hy kon alles voorkom het, nou lei sport daaronder!

wildtuin ·

Dit was verkeerd om Oekraine binne te val ,hulle is geregtig op soewereiniteit en onafhanklikheid, maar so ook Rusland. Ek kan nie help om die idee te kry die weste, veral die VSA en Brittnje Rusland vernietig wil sien nie en dat hulle meer daaroor behep is , as om Oekraine weer vry te sien en dit pas hulle dat die oorlog uitgerek word. Ek se nie Rusland is engeltjies nie, verkeerd bly verkeerd, maar ook wanneer ander verkeerd doen. Iets wat duidelik deurkom is dat die liberale ‘cancel en woke’ kultuur baie meer deurkom in Wes-Europa en Amerika as in Oos-Europa. Die bevolkings van lg se lewenstyl is baie meer konserwatief en behoudend as die weste. Dit kan bydrae tot die spanning tussen die oostenen die weste. Kyk nou how kry hulle Hongarye en Pole voor stok in die Europese unie.

Bertie ·

Joshua, en sien jy skryf “maar die Ukraine se President het die grootste deel aan die oorlog omdat hy korrup is en geld sy ondergang en sy mense se veiligheid in gevaar gestel hy kon alles voorkom het”. Hoekom speel net sy korrupsie ‘n rol in die oorlog? Wat van Putin se korrupsie? Almal is korrup aan alle kante. Hoekom kies jy net teen een kant se korrupsie?

Hennie Biebouw ·

Presies. Net soos Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse sportlui wat die Apartheidsregering aan bewind gehou het, dit moes ontgeld……….

Treurwilger ·

‘n Kleinlike besluit deur kleingeestige individue.
Soos gewoonlik is Novak die speler wat by sy medespelers en toevallig grootste opponent staan.

Koos ·

Ja dit sal nie goed lyk as ‘n Rus dit wen nie. Medvedev het ‘n goeie kans gehad om te wen. Al speel hulle nie onder hulle eie vlag nie. Almal weet hulle is Russies.
Dan dink ek ook die soort sanksies lol met Poetin se propaganda. Die Russiese publiek moet meer begin vra – hoekom wil Wimbledon nie hê Russe moet speel nie?Hoekom het ons nie meer McDonalds of Starbucks nie? Nie dat hulle veel kan doen teen hulle korrupte regering nie. Maar as jou regering sê ons doen die regte dinge en die res van die wereld sê – nee julle maak droog, een of ander tyd moet jy jou regering begin bevraagteken.

Chef ·

Dit is die inmenging van politici in alle aspekte van die lewe wat die wereld in die toestand het wat dit is. Sport verenig gemeenskappe oor politieke grense heen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.