Wimbledon sê ja vir Novak; steeds nee vir Russe

Novak Djokovic. Foto: Peter Nicholls/AFP.

Novak Djokovic sal sy Wimbledon-titel kan verdedig nadat organiseerders vroeër die week die groen lig vir oningeënte spelers gegee het om deel te neem.

Die Serwiese ster is een van die beste spelers op ’n grasbaan en benewens sy 2021-titel het hy ook in 2011, 2014, 2015, 2018 en 2019 met die louere weggestap.

“Die regeringsvereistes om die Verenigde Koninkryk binne te kom sluit nie verpligte inenting in nie. Hoewel spelers natuurlik aangemoedig word om hul teen Covid-19 te laat inent, sal dit nie ’n voorwaarde wees om op Wimbledon af te slaan nie,” het Sally Bolton, uitvoerende hoof van die All England Club, gesê.

Djokovic se inentingstatus het beteken dat hy vroeër nie sy Australiese Ope-titel in Melbourne kon verdedig nie en hy is uit die land gedeporteer.

Hy is ook later toegang tot die VSA (vir die Miami-ope en die Indian Wells-toernooi) geweier.

“Ons beplan egter om hierdie jaar na ’n normale kampioenskap terug te keer. Ons is dus nie van voorneme om enige van die Covid-maatreëls – wat verlede jaar gegeld het – op enige wesenlike wyse te implementeer nie.”

Dit beteken dat die pawiljoensitplekke vol sal wees en dat die spelers nie vir dae in ’n hotelkamer vasgekluister hoef te wees nie.

Bolton het egter bygevoeg dat organiseerders saam met die regering en gesondheidsowerheid sal werk indien hul planne aangepas moet word.

(Foto: AELTC/Thomas Lovelock/POOL/AFP)

Maar spelers soos Daniil Medvedev, Andrey Rublev, Aryna Sabalenka en Victoria Azarenka sal steeds nie toegelaat word om deel van die aksie te wees nie.

Organiseerders het Rusland se militêre optrede in Oekraïne veroordeel, terwyl daar ook gevrees is dat pres. Wladimir Poetin ’n aansienhupstoot kan kry indien ’n Russiese of Belarussiese speler met die titel sou wegstap.

“Ons glo dat ons – gegewe die regering se raamwerk – ’n verantwoordelike besluit geneem het. Daar is geen haalbare alternatief vir hierdie uitsonderlike en tragiese situasie nie,” het Ian Hewitt, voorsitter van die All England Club, gesê.

Die toernooi begin op 27 Junie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

So bly vir hom. Wens hulle wil nou hier ook hulle nonsens stop!!!

Mallie ·

Baie geluk Novak, noe moet jy net nog wen ook. Dit sal fantasies wees. Hou al my vingers en tone gekruis.

Swerwer ·

Dankie vir die organiseerders wat Rusland se militêre optrede in Oekraïne veroordeel, jammer vir die spelers wat nie sal kan deelneem nie agv die feit maar iewers moet Poetin op sy plek gesit word.

DJ ·

Uiteindelik seëvier gesonde verstand. Nou nog net Nampoe wat die lig moet sien

Carolina ·

Dit is nou die mees belaglikse opmerking oor Putin , hy gee nie ‘n duit om vir julie patetiese gevoelens nie! Die Britte is baie betrokke by in die Ukraine so hou op om onschuldig te probeer voorkom . Ek hoop Novak kom op vir Daniël wat hy is die enigste een wat vir hom op gekom het in Australie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.